Elektriese vragmotors: Waansin of werklikheid?

JAC en Aeversa is besig om elektriese vragmotors na Suid-Afrika te bring. Hulle het reeds ʼn vloot van ses 3 ton‑vragmotors in die land waarmee hulle toetse doen en klante werf. Aeversa is eerder ʼn energiemaatskappy as ʼn vragmotorvervaardiger.

Aeversa wil ʼn energie-oplossing aan sy klante bied, en een element daarvan is vragmotors waarmee ʼn spesifieke tipe klant hul “laaste myl”-aflewerings kan doen.

Die vragmotor lyk soos enige ander 3 ton‑vragmotor – klein kajuit, dubbelagterwiele en ʼn yslike toe laaibak agter. Waar die JAC-vragmotor verskil, is een elektriese motor tussen die agterwiele, waar die ewenaar sou sit. Hy bied 120 kW en ʼn verstommende 1 100 Nm! Die gelykstaande binnebrandvragmotor van Isuzu bied 85 kW en 400 Nm.

Die reikafstand van die elektriese vragmotor is om en by 200 km. Hy loop met ʼn 96 kWh-battery wat ongeveer 700 kg weeg. Dié reikafstand bied ruimte dat die laaste 20% van die battery nie gebruik word nie.

Met ʼn konvensionele vragmotor kos dit tans digby R2 500 om 100 liter se diesel in te gooi. Die meeste 3 ton-vragmotors sal omtrent ­­400 km op 100 liter ry. Om dieselfde afstand met ʼn elektriese vragmotor af te lê, sal sowat R1 000 kos teen die duurste kragtariewe. Dit is R2,40 per kilometer teenoor die binnebrandvragmotor se R6,25. So maklik soos dit. Dit is slegs brandstof en sluit nie instandhoudingskoste soos dienste, koppelaars en remme in nie – iets waarvan ʼn elektriese vragmotor baie minder sal gebruik.

Daar is ander redes wat die tegnologie aanloklik maak. Eerstens, dis tjoepstil. Die klankbesoedeling wat tans bestaan, word amper heeltemal verwyder met ʼn stil, elektriese vragmotor. Nog ʼn rede is die geleentheid vir vertraging – dit is waar die elektriese motor as kragopwekker dien. Dus, elke keer as die lorrie moet stilhou, word daar ekstra krag opgewek. Dit is een voordeel, maar die ander voordeel is dat vragmotors se remme wat só warm word op ʼn kwaai helling, nie meer ʼn probleem sal wees nie. Die elektriese motors sal ’n vragmotor teen ʼn konstante spoed kan hou, teen die kwaaiste bulte af, en daardie krag weer inspan om die volgende bult te klim ná dit in die batterye gestoor is.

Ek hoor almal gil van beurtkrag. Já, dit is iets om nou in gedagte te hou, maar vragmotors word nie in ʼn oogwink nie gekoop nie. Daar word groot somme gedoen en tyd bestee om seker te maak dat ʼn maatskappy die beste besluit neem wat rand en sent betref. Industriële eiendomme se kragtarief word uitgewerk op die hoogste verbruik in ʼn bepaalde tydperk. Daar waar die spits daardie maand was, is dus jou tarief. Met ʼn nuwe tegnologie soos V to G (vehicle to grid) kan die vragmotors by tye die las van die netwerk afhaal en daardeur jou pieke verlaag – en jou tarief afbring. Die sagteware sal dan in die middel van die nag wanneer jou kragverbruik op sy laagste is, die vragmotors laai.

Ek vereenvoudig dit nou meer as wat nodig is, maar slim sagteware en laaiers sal presies weet watter vragmotors waar is en wanneer dit nodig is, en hom perfek laai om die afstand vir sy volgende dag te kan aflê.

Daar is nóg twee voordele. Een is dat op agt jaar, wanneer die batterye omtrent 80%-kapasiteit kan bied, kan daardie batterye ingespan word om sonkrag te stoor, en weer te help laai – afhangend van hoe elke spesifieke installasie lyk. Een ander enorme voordeel is dat Aeversa met sy oplossing vir ʼn maatskappy sy “brandstofkoste” vir 20 jaar kan vasmaak.

Ek sê vir die manne by Aeversa dat ek persoonlik oortuig is dat Eskom eersdaags in duie gaan stort. Hulle stem nie saam nie. Hulle meen dat Eskom twee bene het – een is opwekking en die ander is die netwerk, of toevoer. Die netwerk is omvattend en in ʼn goeie toestand. Opwekking is waar die probleem lê.

Ons bespiegel dat opwekking in die volgende jare heeltemal geprivatiseer sal word, en Eskom (die netwerk) sal sy geld maak uit heffings vir toegang tot die netwerk. Dit maak eintlik sin. Wat daarmee gepaard gaan, is die oomblik wat verskeie kragvoorsieners hul staal begin wys, is beurtkrag daarmee heen. Die oomblik wat opwekking stabiel is en daar ʼn surplus krag is, sal tariewe begin val vir die verskeie opwekkers om met mekaar te begin meeding. Ek sien uit na daai dag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Reikafstand word altyd optimisties bemark. Hoe verder die reikafstand, hoe meer die batterye, hoe minder die vrag kapasiteit. Daar is meer kostes in terme van instandhouding as wat die artikel wil te kenne gee. As daar fout gaan met die batterye, dan maak vervangingskoste jou dood.

Anel ·

Dit is alreeds goedkoper om ‘n nuwe motor te koop as om die battery te vervang. Wat gaan die afêre se battery nie kos nie? En wat van ander instandhouding? Nee, wat!

JohanR ·

Seker die ANC hou nie van die idee nie. Sal te veel verloor met belasting op brandstof. Kan nie die arme kaders verarm nie! Maar dan as die krag finaal afgaan en nie weer aankom elektriese vragmotors ook nutteloos wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.