Foto’s: Mercedes se moderne fabriek in Oos-Londen

Mercedes-Benz se aanleg in Oos-Londen het ʼn pragtige geskiedenis. Ná sy amptelike opening in 1950 het daar verskeie handelsmerke van die produksielyn afgerol, soos Nash, Packard, Vanguard, Fiat en Renault.

In 1958 het die eerste Mercedes-Benz uit die fabriek gery – ʼn W120 Ponton-reeks. In 1960 nog ʼn Alfa, en in 1961 ʼn Jaguar en Auto Union. Vir ʼn wyle daarna sou die fabriek slegs Mercs bou. Tussen 1982 en 2000 het die fabriek 171 549 Hondas gebou – en dit was die laaste voertuie wat nie die driepuntster dra nie.

Sedert 2000 word slegs die C-klas in dié fabriek gebou. Net voor die pandemie is daar ʼn allemintige R13 miljard in dié aanleg belê. Dit is om die nuutste W206-modelreeks te vervaardig. Mercedes het ons deur die fabriek geneem – splinternuut en silwerskoon. Ons was werklik bevoorreg om deur ʼn stuk van die verfaanleg te loop. Gewoonlik mag daar glad nie mense daarbinne gaan nie en mens moet allerhande beskermende klere dra – maar ons kon wel deur die vensters loer hoe die C-klas gespuit word. Dis darem fantasties om te sien hoe die robotte in perfekte harmonie met mekaar dans.

Op die finale lyn spog Mercedes daarmee dat dié aanleg hier in sonnige Suid-Afrika presies dieselfde is as enige van sy ander fabrieke oor die hele wêreld. Al die beste praktyke word hier toegepas en elke tegnologie wat in die S-klas se fabriek geïnstalleer is, geld hier ook. Mercedes-Benz het reeds met ʼn reusesonkraginstallasie wat 500 MWh per jaar gaan opwek, begin. Dit is genoeg om met tye heeltemal onafhanklik van Eskom te wees.

ʼn Fantastiese eienskap van presies waar dié aanleg lê, is die feit dat dit aan die Buffelsrivier grens, met sy eie hawe waar voertuie direk van die fabriek op die skip gelaai kan word en nie eers per trein of vragmotor na ʼn hawe vervoer hoef te word nie. Dit het hulle in staat gestel om reeds 58 479 C-klas-voertuie vanjaar uit te voer.

China is die grootste mark ter wêreld in terme van voertuie, en die Oos-Londen-aanleg sal eersdaags soontoe begin uitvoer. Sou alles klopdisselboom verloop, sonder ʼn tekort aan halfgeleiermikroskyfies óf ʼn gebrek aan skepe en onbeperkte aanvraag, sou die aanleg in Oos-Londen byna 150 000 voertuie ʼn jaar kon bou.

Mercedes-Benz bou linker- en regterhandstuur-C-klas-modelle vir 80 markte wêreldwyd hier in Oos-Londen en spog met twee spiksplinternuwe modelle – die C43 en die C63 wat albei AMG-modelle is.

Ons het vir ʼn paar rondes as passasier gesit in die Mercedes-AMG C43 óm die Oos-Londen Grand Prix-renbaan. Toe ek aanvanklik hoor dat die 43 en 63 deur ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin aangedryf gaan word, was ek werklik teleurgesteld. Daar is vir my min dinge so lekker soos die grom van ʼn V8 C63 … toe hoor ek die nommers.

Die nuwe C63S spog met ʼn verstommende 500 kW en ʼn astronomiese 1 020 Nm. O ja, 0–100 km/h neem ʼn blitsige 3,3 sekondes en hy sal voluit 280 km/h haal. En dit vir ʼn 2.0! Daar is egter ʼn elektriese motor wat 150 kW bydra terwyl die 2.0 die ander 350 kW bied. Die petrolenjin sorg vir 545 Nm en die res kom van daai elektriese motor. Fantasties.

Die C43 bied 300 kW en 500 Nm; 0–100 km/h neem 4,5 sekondes, en die C43 is elektronies beperk tot 250 km/h, of 265 km/h met die opsionele bestuurderspakket. Die C43 sal vroeg volgende jaar amptelik bekendgestel word, en die C63 eers aan die einde van die derde kwartaal volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karlahari ·

Uhm…..ek dink nie Honda was die laaste “nie Mercedes” model nie.
Daar was die Mitsubishi Colt (Enkel. Club en Dubbelkajuit) 2 model reekse, asook die Triton wat deur MBSA gebou is.
Die 2 liter Colt was dan ook die eerste voertuig wat vir Mercedes die JD Powers toekenning gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.