GWM se nuwe Tank

Dit is vreemd hoe die Chinese hul handelsmerke en modelreekse bestuur. GWM is die moedermaatskappy en onder hom val vyf handelsmerke: Haval, Ora, P-Series, Tank en Wei. Ons sal nie die Wei hier kry nie – dit is uiters luukse motors spesifiek vir China se plaaslike mark. Ons het reeds van die ander… en nou skop hul af met die jongste en laaste toevoeging – Tank.

Tank is 4×4-voertuie met ʼn laestrekratkas en leerraamonderstel. Hier het ons die Tank 300 onder hande gehad. Nogal ʼn oulike buks met die eerste oogopslag. So ʼn mengsel tussen SsangYong se ou Korando en Ford se nuwe Bronco, dalk met ʼn bietjie van die ou Jeep Cherokee by. Afgesien van die agterste buffer wat nie mooi pas net onder die ligte nie, is die ontwerp heel netjies.

Die binneruim beïndruk met goeie bougehalte en die materiale wat gebruik word, voel luuks. Nog ʼn groot tree vorentoe vir die Chinese handelsmerke is die reuk in die kajuit wat hul deesdae regkry. Vroeë Chinese motors het ʼn walglike chemikaliereuk in gehad.

Soos met enige moderne Chinese motor is die kajuit propvol tegnologie, skerms vir ʼn vale. Ek is nie die grootste liefhebber van Chinese motors se programmering van hul veiligheidstelsels nie, maar die Tank 300 is nie sleg nie.

Onder die kap sit ʼn bomklapper van ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin. Krag word aan die vier wiele gestoot deur ʼn 9-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. ʼn Mens het die opsie om laestrek te kies, asook agterwielaandrywing in Eco-rymodus wat die middelste ewenaar ontkoppel. Die enjin bied 255 kW en 648 Nm met die hulp van die elektriese motor op die hibriede model. Die gewone binnebrandmodel sonder die hibriede hulp gebruik ʼn 8-spoed‑outo en bied 162 kW en 380 Nm.

Met die viertrekdryfstelsel saam kom daar verskeie funksies soos ewenaarslotte en rymodusse. Daar is ander slim funksies soos crawl control en Tank Turn wat die ewenaarslotte gou ontkoppel om die draaisirkel so knap moontlik te maak.

Op die pad toer die Tank 300 heel goed. Aanvanklik is jy bewus van die soliede dryfas agter, maar jy raak dit vinnig gewoond. In ʼn stadium was die rit vir my effens hard, maar na ek die banddruk nagegaan het, het ek besef die bande was net effens te hard gepomp.

Ek sal die Tank só opsom: Dit is ʼn verfrissende opsie in die spasie. Daar is twee klein probleempies: Toyota se Fortuner en die Tank se brandstofverbruik. Tydens my toets was die beste brandstofverbruik wat ek gehaal het 9,3 ℓ/100km. Oor die hele tydperk en die 520 km was die gemiddelde verbruik 13,1 ℓ/100 km. Dit is swaar vir enige motor, en bitter swaar vir ʼn motor wat ʼn hibried-embleem dra. Vir konteks – ek het van my huis af lughawe toe gery met ʼn BMW X6M Competition. Dit is 70 km. Die BMW het 12,8 ℓ/100 km gehaal – en dis ʼn 404 kW V8.

Indien jy in die mark is vir ʼn nuwe veldryvoertuig, gaan toetsbestuur beslis een. Jy is dalk gaande oor hom. Vat hom net na die tyd na iemand toe om sy blikbrein weer te programmeer vir beter brandstofverbruik.

Die reeks lyk só:

GWM Tank 300 2.0T 8AT 4×4 Super Luxury162 kW/380 Nm9,5 ℓ/100 kmR725 950
GWM Tank 300 2.0T 8AT 4×4 Ultra Luxury162 kW/380 Nm9,5 ℓ/100 kmR775 950
GWM Tank 300 2.0T 9HAT 4×4 Super Luxury255 kW/648 Nm8,4 ℓ/100 kmR851 950

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/200 000 km-voertuigwaarborg met onbeperkte padbystand sowel as ʼn 5 jaar/75 000 km-diensplan. Die hibried geniet ʼn 8 jaar/150 000 km-waarborg op die hibriede dryfstelsel en battery.

Ons sal weer tyd met die Tank deurbring en dalk dan die woonwa aan hom haak en sien hoe maak hy. Ons sal hom ook dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grens ·

Hulle moes net ‘n ses silinder engin in die outjie gesit het, nie sleg vir daai prys, maar daai vier silinder is te swaar op brandstof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.