Hilux Raider X ʼn allesdoener

Bakkies is met ʼn groot marge die gewildste voertuie in Suid-Afrika. Daar is verlede maand byna 10 000 bakkies verkoop, en die model wat die grootste markaandeel geniet, is Toyota se Hilux.

Sedert die Hilux se bekendstelling in Suid-Afrika in 1969 is daar al meer as 1,2 miljoen plaaslik verkoop en meer as 20 miljoen wêreldwyd! Maroela Media het ʼn behoefte vir ʼn bakkie by die kantoor wat gebruik kan word om hand by te sit indien daar gereedskap rondgekarwei moet word, óf vir ʼn plaasbesoek om ʼn profielonderhoud te doen.

Die duidelike opsie was ʼn Toyota … en die perfekte model is onlangs bekendgestel wat ons behoeftes perfek pas: die Raider X. Lekker lig op brandstof, mét ʼn viertrekdryfstelsel vir daai reistogte op ʼn grondpad iewers heen.

Toyota se nuwe Raider X is op die 2.4 GD-6 Raider geskoei en maak gebruik van hul puik 2.4-viersilinderturbodiesel wat 110 kW en 400 Nm bied. Gepaard met ʼn 6-spoed-handrat en laestrek-4×4-ratkas.

Aan die binneruim is daar elke funksie wat mens benodig, soos Apple CarPlay en Android Auto, lugreëling, spoedkontrole en elektriese vensters – en geen onnodige tierlantyntjies nie. Die Raider X spog met ʼn mooi rolstaaf, bakseiltjie en swart bedekkings op die wielboë, swart deurhandvatsels en spieëls.

Ons Raider X kan ʼn allemintige 3,5 ton sleep, maar is nog nie met ʼn trekstang toegerus nie. Ons sal ons naaste handelaar nader hark om een te pas – en sien uit na elke enkele myl in ons spoggerige nuwe Hilux. Hy gaan vir drie maande by ons diens doen tot vroeg Desember, en het sy reistog met ons op 228 km begin. Hy het al oor die 500 km afgelê en spog reeds met goeie brandstofverbruik van 8,5 ℓ/100 km, al het hy nog nie eens kans gehad om mooi te begin inloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

Watter rooi goetertjies is op die wielboë? Is dit weerkaatsers? Lyk baie lelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.