Honda Goldwing is steeds een van die bestes

Honda Goldwing (Foto: Brian Cheyne)

Die laaste paar maande was ’n besige tyd vir Honda. Daar is drie nuwe modelle plaaslik bekend gestel, naamlik die CB500 X, die XL750 Transalp en die CB750 Hornet. Alhoewel dit lekker is om met die nuutste modelle rond te rits, is dit tog soms verfrissend om met ’n ou bekende herenig te word. En so het die Honda Goldwing weer my pad gekruis.

Die fiets se volle doopname is Honda GLH1800 Goldwing. Dit klink dalk gewigtig, maar as die toppunt van gerief en gemak boaan jou wenslysie staan, dan is hierdie jou fiets. Ek het reeds in 2019 volledig berig oor die Goldwing, en Honda het in die tussentyd klein kosmetiese veranderinge aangebring wat ’n wesenlike verskil aan die ryervaring maak. Alhoewel die ontwerp dieselfde gebly het, het die verfkleur ’n subtiele tweede skakering bygekry. Die diep wynrooi kleur lyk alreeds fantasties, en dit gee die fiets ’n premium gevoel. Dit lyk ook of Honda die agterste bagasieruim groter gemaak het, en ek het geen probleem gehad om twee volgrootte valhelms daarin te bêre nie. Die kanttasse is onveranderd en is betreklik klein. As jy dus ’n langer rit beplan, sal jy baie mooi moet meet en pas. Honda het verder die passasier se handvatsels vergroot, en dit help baie om die 383 kg‑fiets op sy hoofstaander te kry.

Die enjin is steeds die 1833 cc‑sessilinder-eenheid en aandrywing is deur middel van ’n dryfas. Die ratkas is Honda se bewese 7-spoed‑DCT‑eenheid. Dit verseker sorgvrye ratskakelings. Ratskakeling gebeur baie glad, maar gaan tog gepaard met ’n harde, meganiese klank. Daar is ook ’n trurat op die Goldwing om die yslike fiets makliker te kan rondbeweeg. Die fiets is baie swaar. Die lae saal, en die feit dat die meeste van die gewig laag versprei is, maak dat dit egter nie soveel moeite is om die fiets te beweeg nie. Hy is egter baie lank, so maak maar seker daar is genoeg parkeerplek in jou motorhuis.

Voor die ryer is daar ’n kontrolepaneel wat dinge beheer soos die verhitte saal en verhitte grepe. Dit beheer ook die instrumentepaneel, en beskik oor Apple Carplay sowel as Android Auto. Jou foon sal egter in die agterste bagasietas moet lê, want waar daar voorheen ’n klein paneelkissie op die brandstoftenk was, is nou plek gemaak vir ’n lugsak!

Goldwing is amper sinoniem vir gemak, en hierdie fiets is ’n baie lekker plek om te sit. Geen afstand is te ver nie, en selfs my passasier was baie beïndruk met die gemak van die agterste sitplek. Daar is selfs armleunings ingebou, so my enigste bekommernis is dat sy dalk aan die slaap sal raak daar.

Die gemak van die DCT‑ratkas maak die groot Goldwing uiters maklik om te ry. Daar is ’n paar ryprogramme, en in die Sport-program sal jy verbaas wees hoe hard hierdie enorme fiets kan trek. In hierdie program hou die fiets die ratkas langer in ’n gegewe rat, en die klank van die enjin is wonderlik. Maar dit is nie hoe jy ’n Goldwing ry nie. Jy sit hom in sy Touring-modus, sit terug en ontspan. Met die snelheidsbeheer aan kan jy rustig na die 6-luidspreker‑radio luister terwyl jy die kilometers verorber.

Ek was onlangs by die Beestekraal‑stasierestaurant toe daar ’n groot groep Goldwings arriveer. Dit sê vir my dat daar steeds ’n behoefte is aan hierdie groot toerfietse. Die Honda Goldwing het min gelyke en bly een van my gunstelingtoerfietse.

Vir meer inligting besoek: https://www.honda.co.za/motorcycles/gl1800

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.