Honda se nuwe Transalp 750

(Foto: Beam Productions)

Daar is beslis ʼn groot oplewing in die middelgewig-avontuurfietsmark. Dit is ʼn goeie teken, want dit maak die avontuurfietsmark meer toeganklik vir ʼn groter verskeidenheid ryers. Selfs kleinkapasiteitfietse soos die Honda CB500X begin stadig maar seker traksie kry in die mark. Maar hoe gemaak as die CB500X te klein is vir jou behoeftes, en die Africa Twin is te groot vir jou vermoë of jou begroting? Wel, Honda het pas die Transalp 750 bekend gestel wat presies in die middel van dié twee modelle lê. Ons het die plaaslike bekendstelling bygewoon om dié nuweling eerstehands te ervaar.

(Foto: Beam Productions)

Die Transalp-naam kom al ʼn baie lang pad. Die eerste Transalp XL600V is in 1986 bekendgestel en oor die jare het die kapasiteit met elke iterasie gegroei. Die laaste Transalp was die XL700V, en hierdie model is tot en met 2012 vervaardig. Nou het Honda weer die naam laat herleef, en net soos die bekende Africa Twin sy V2-enjin verruil het vir ʼn parallel-twee, het die nuwe Transalp ook nie meer ʼn “V” in sy naam nie.

Die parallel-twee-enjin is nuut ontwikkel en is nie dieselfde enjin wat diens doen in die NC750 nie. Die 755 cc-kragbron lewer ʼn gesonde 90,5 pk teen 9 500 rpm en 75 Nm wringkrag. Hierdie kragsyfer is nie te sleg nie as jy in ag neem dat die Africa Twin 100 pk lewer. Daarenteen lewer die NC750 slegs 57 pk.

Visueel het Honda veilig gespeel met die ontwerp. Die ontwerp is maar vaal, en is beskikbaar is drie kleure: wit, grys en swart. Die wit is seker die mees praktiese kleur, en met die rooi en blou aksente sou ek dié een kies. Honda het egter nie geskroom om die fiets toe te rus met ʼn 21”-voorwiel nie. Dit dui daarop dat hulle ernstig is dat hierdie ʼn ordentlike avontuurfiets moet wees.

(Foto: Beam Productions)

Hoewel die Transalp groot vertoon, is dit ʼn verbasend kompakte fiets. Ek kon heel gemaklik platvoet staan en die saal bied ruim ondersteuning. Die instrumentasie is ʼn volkleur, 5” TFT- eenheid en vertoon uiters goed. Daar is vier temas om van te kies, en die ryer kan self die inligting wat vir hom of haar belangrik is vertoon. Daar is vyf ryprogramme waaruit die ryer kan kies: Sport, Standard, Rain, Gravel en User. Elke program bied verskeie vlakke van krag, traksiebeheer, sluitwering en tot watter mate die enjin help om die fiets te rem. Daar is verskeie opsionele bybehore beskikbaar vir die Transalp soos snelskakeling, ʼn hoofstaander, ʼn groter skerm en ander kosmetiese byvoegings.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons roete het begin by ADA se fantastiese geriewe naby Hartbeespoort, en ek het sommer dadelik een van die fietse gevat wat toegerus was met meeste van die opsionele ekstras. Ons het nie ver gery nie, toe draai ons af op ons eerste stukkie grondpad. Ek het die Transalp se Gravel-program gekies vir die stukkie stofpad. Hoewel so ʼn program jou meer vryheid moet gee om die agterwiel te laat tol, het die Transalp se program hopeloos te veel ingemeng om die fiets na behore te kan geniet. By ons volgende stop het ek die User-program gekies, en hier kan jy alles verstel soos jy daarvan hou. Jy kan die traksiebeheer heeltemal afskakel en toe was die grondervaring heelwat beter.

(Foto: Beam Productions)

Dit is egter op die teer waar die Transalp my die meeste beïndruk het. Ons het ʼn groot deel van die roete op pad na ons middagete op die teer deurgebring en die fiets was toegerus met Metzeler Karoo Street-bande. Dit boesem baie vertroue in, en jy kan maar die draaie aanpak met mening. Ons het ʼn kort blaaskans gehad naby Cullinan en ek moet erken dat die Transalp ʼn uiters gemaklike fiets is wat glad nie intimiderend is nie. Die kraglewering is egalig en die enjin is op sy beste as die toere hoog is. Die sesde rat is baie ontspanne, amper te veel. Dit doen dalk wondere vir die brandstofverbruik, maar as jy iets wil verbysteek, moet jy maar vyfde of vierde inspan.

(Foto: Beam Productions)

Ná middagete het ons na Red Star Raceway vertrek en ʼn lang stuk grondpad gery. Ná die vorige week se reën was die paaie nie in ʼn goeie toestand nie, maar die Transalp het hom nie van stryk laat bring nie. Ek het die meeste van die pad gestaan sodat die fiets maar die hobbels absorbeer, en selfs hier was die Honda baie gemaklik. Die Red Star-stop het my laat wonder wat maak ons met ʼn avontuurfiets op ʼn baan. Daar het egter ses Honda Hornets in die kuipe gewag. Hierdie fiets gaan later beskikbaar wees, maar ons kon solank ʼn voorsmakie kry van die nuweling. Die Hornet gebruik dieselfde enjin en raam as die Transalp, maar weeg minder, en met sy kleiner wiele hanteer hy nóg beter as die Transalp. Ons het ʼn uur gehad om te speel, en my bonkige stewels het kort-kort die grond geraak. Ek het ook die Transalp vir so so ʼn paar rondtes gevat, en net bevestig dat hy nie skrik vir teer nie. Toe speeltyd amptelik verby was, het ons na ons oornagakkommodasie versit.

Die volgende oggend is ons deur digte mis begroet, en ek het gewens die Transalp het verhitte grepe gehad. Helaas, moes ons maar deurdruk sonder daardie luuksheid en terugry tot by ADA.

Om jou Transalp jou eie te maak bied Honda verskeie pakkette aan waarmee jy die Transalp kan toerus. Die een wat my oog gevang het, was die Adventure Pack wat beskerming bied aan die kantpanele en die verkoeler. Daar is ook ʼn Touring Pack met kanttasse of die Urban Pack wat meer bagasie en windbeskerming bied.

(Foto: Brian Cheyne)

Die hele tyd terwyl ek gery het, het ek na ʼn woord gesoek wat die nuwe Transalp sal beskryf, en ek het bly terugkom na iets soos “toeganklik”. Soos ek reeds genoem het: die fiets is kompak, en die enjin het woema, maar nie so dat dit jou sal bang maak nie. Dit maak die mark net oop vir meer ryers om hierdie leefwyse te ervaar. Boonop is dit ʼn Honda, so jy weet hy gaan betroubaar wees. Knap gedaan, Honda! Julle het beslis ʼn wenner hier beet. Die Transalp is reeds beskikbaar by handelaars teen R209 999.

Klik hier vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Die motorfiets vervaardigers speel” catchup ” met die bmw gs en ek voel hulle moet wegbreek en hulle eie ontwerp en tegnologie implementeer, honda was nog altyd ‘n goeie produk gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.