Kruismodelle te kies en te keur

Maroela Media het onlangs twee kruismodelle onder hande gehad – Mazda se CX3 en Volkswagen se splinternuwe Taigo.

Albei het ʼn netjiese ontwerp, maar heel uiteenlopende benaderings vir dieselfde tipe voertuig. Kom ons vergelyk die twee en kyk watter een is die beter kopie.

Ontwerp:

Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
4/54/5

Albei voertuie het ʼn netjiese, moderne ontwerp. Mazda volg sy Kodo-ontwerptaal en die CX3 bly getrou hieraan, maar só ook die Volkswagen. Ek persoonlik is nie uitgeboul deur die agterkant van die Taigo nie, maar ander dink dit is weer mooi. Die vooraansig van die Taigo is vir my werklik netjies.

Binneruim:

Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
4/55/5

Die CX3 het ʼn netjiese binneruim met luukse materiale en goeie ergonomie, maar voel heel knap. Die Taigo, soos sy Polo-boetie, kry dit egter reg om heel ruim te voel, met puik ergonomie en luukse materiale. Dit voorste sitplekke in die Taigo is voorwaar gemaklik met die lang sitvlak. Die Mazda is geensins ongemaklik nie, maar die Taigo voel baie meer ruim.

Albei voertuie is gepeper met luukshede soos raakskerminligtingstelsels, klimaatbeheer, sondakke en dies meer – maar die Taigo se digitale instrumente en Beats-klankstelsel plaas hom ʼn kortkop voor.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
4/54/5

Hier het elkeen ʼn unieke punt wat in sy guns tel, dit hang net af waarna jy op soek is. Die 2.0 atmosferiese viersilinderpetrolenjin in die Mazda is lieflik. Hy bied 115 kW en 206 Nm. Hy is nie swaar op brandstof nie en het krag wanneer mens dit soek. Vir dié klas voertuig dink ek egter dat sy enjin heel raserig is waar mense gewoond is aan stiller turbo-enjins.

Die Taigo word aangedryf deur ʼn 1.0 driesilinderturbopetrolenjin. Die enjin gaan gepaard met ʼn 7-spoed dubbelkoppelaarratkas. Die enjin is tjoepstil en heel sterk sowel as indrukwekkend lig op brandstof. Ek is nie gaande oor VW se programmering van sy DSG-ratkas nie. Hy wissel té vinnig ratte om omwentelinge laag te hou om uitlaatgasse so laag moontlik te hou, maar dit raak frustrerend en die Taigo is nie met ʼn handrat beskikbaar nie.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
4/55/5

Albei voertuie spog met indrukwekkende veiligheidstandaarde. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Die padhouvermoë is in die kol met albei buksies, maar die ritgehalte in die Taigo is beter as in die CX3. Die Taigo het sagter vering en is beslis ʼn meer gemaklike opsie.

Opsomming:

Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
16/2018/20

Dit is maklik om die twee op te som. Die CX3 is eenvoudig heelwat ouer as die Taigo, en dis waar hy sy punte begin verloor. Die Taigo is splinternuut, het meer innoverende tegnologie én is boonop nog goedkoper ook. My geld is op die Taigo tussen die twee.

Die twee vergelyk só:

 Mazda CX3 2.0 HikariVolkswagen Taigo 1.0 TSI Style
Enjin2.0 viersilinderpetrol1.0 driesilinder-turbopetrol
Krag115 kW/206 Nm85 kW/200 Nm
Ratkas6-spoed outo7-spoed dubbelkoppelaar
Topsoed197 km/h200 km/h
Brandstofverbruik6,7 ℓ/100 km5,4 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg3 jaar/onbeperkte km waarborg en diensplan3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

PrysR516 900R464 100

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis heel oraait. Selfs my selfoon werk deesdae in vol son. Ek sou nie DAAROOR stres nie. Stres eerder oor hoeveel dit sou kos om te vervang indien daar iets sou fout gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.