KTM doen wat KTM goed doen

(Foto: Sage Lee Voges/ZCMC Media)

Motorfietsvervaardigers hou gereeld byeenkomste op hulle eie unieke manier om hul ondersteuners gelukkig te hou. BMW het die GS Trophy, Honda het die Honda Quest en Ducati hou hulle Mystery Rides. KTM doen egter wat KTM goed doen: Speel in die modder en die stof!

Hierdie jaar was die vyfde aanbieding van KTM Suid-Afrika se Adventure Rally. Die byeenkoms is gehou by die Ingwenyama Sport Resort in Witrivier. Hierdie geleentheid het al bekend geraak vir sy uitdagende roetes, maar hulle maak tog voorsiening alle ryers, ongeag jou vaardigheidsvlak. Die landskap in die Witrivier‑omgewing is reeds genoeg beloning vir jou deelname. Altesaam 274 deelnemers het gehoor gegee aan die oproep om hulle KTM’s op die proef te kom stel.

(Foto: Joshua Harris/ZCMC Media)

Die Adventure Rally het oor drie dae gestrek, waarvan twee dae opsy gesit is vir roetes wat noukeurig beplan is. Elke deelnemer het ’n keuse van drie roetes gehad: Tegnies, grond en teer. Elke roete het sy eie voordele gehad, so of jy nou hou van gladde teerpaaie of klippe en sand, daar was iets vir elkeen.

Vir die ryers wat hulle fietse wou skoon hou, was daar ’n roete deur Graskop en die Blyderivierpoort. Hierdie is seker van die beste motorfietsroetes in die land. Vir die wat meer avontuurlustig gevoel het, was daar ’n roete op openbare grondpaaie deur die bosbougebiede uitgelê. Dan was daar ook uiters tegniese roetes beplan vir die ryers wat gemaklik was om hul KTM’s en hul eie vaardigheid tot die uiterste te beproef.

Die KTM 890 R is natuurlik gemaak vir hierdie tipe roetes en was ook in die grootste getalle verteenwoordig. ’n Paar ryers op die groter 1190‑ en 1290‑fietse het ook die tegniese roetes aangedurf. Alhoewel dit dalk meer uitdagend was, is dit tog uiteindelik waarvoor hierdie fietse gebou is.

Die ander sy van avontuurry is natuurlik die kameraadskap. Almal ry dieselfde fiets; as iets dus skeefloop, help jy uit waar jy kan. Nuwe vriendskappe is beslis hier gesmee en die Adventure Rally gaan juis oor die sosialisering en om nuwe herinneringe te maak.

Natuurlik sal so ʼn geleentheid nie volledig wees sonder gesonde kompetisie nie. Op die laaste dag was daar ’n hindernisbaan uitgelê wat die deelnemers teen die stophorlosie gery het. En hier is seker waar die meeste ryers omgeval het, want daar was lekker pryse op die spel. Die 2024‑geleentheid is reeds in die beplanningsfase; hou maar gerus KTM se sosiale media dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.