Mazda wil weer sy stempel afdruk   

Hier in sonnige Suid-Afrika is ons redelik lojaal teenoor sekere handelsmerke. Omtrent ses dekades gelede het ons nogal van ons Amerikaanse rygoed gehou, maar sedertdien sal ek sê ons stel die Duitsers en Japannese die hoogste op prys. Té veel verbruikers het al in ʼn lokval getrap waar hulle nuwe handelsmerke aanskaf want dit bied “goeie waarde” – maar daai einste waarde byt hulle sommer vinnig terug wanneer dit by inruiltyd kom.

Mazda is ʼn rateltaaihandelsmerk met ʼn goeie geskiedenis in Suid-Afrika. Ek sou stry dat die jare saam met Samcor waar die meeste Fords eintlik Mazdas was, die handelsmerk geen gunste gedoen het nie. Toe Mazda aanvanklik uit die bed klim met Ford was dit feestyd vir Mazda vir ʼn paar jaar. In 2018 het Mazda ʼn verstommende 14 881 eenhede van die hand gesit.

Die volgende paar jaar het verskeie faktore verwoesting by dié Hiroshima-maatskappy se plaaslike kantoor gesaai. Mazda kon vanjaar nog nie ʼn volle 3 000 motors verkoop nie. Een van die faktore was die pandemie, die ander was die perfekte storm waar meeste van ons modelle in ʼn stil tyd van hul produksiesiklus geval het.

Mazda was bietjie stadig om die sneller te trek met nuwe energie-voertuie, hibried- en turboaangejaagde binnebrandenjins. Die gevolg is dat mens met ʼn pragtige kar sit, met ʼn puik binneruim maar ʼn enjin wat ʼn mens ʼn bietjie teleurstel. Op Mazda se BT-50, waarvan hulle op hul piek duisende eenhede kon skuif, was die feit dat slegs die swaardiensvering aan Mazda beskikbaar was van Isuzu Thailand waar die BT-50 nou vervaardig word die finale spyker in die doodskis.

Mazda was uiters stil die afgelope vyf jaar – maar die slapende reus is besig om te ontwaak. Daar is ʼn magdom opknappings en nuwe modelle wat oor die volgende jare sal uitkom. Die eerste opknapping wat ons behoort te sien is ʼn pragtige 3.3 V6-turbodieselenjin in dié handelsmerk se vlagskip in Suid-Afrika – die CX-60.

Dit sal ook die weg baan vir Mazda om sy nuwe nes te skrop. Mazda sal nie voortaan meeding as ʼn hoofstroom volumehandelsmerk nie, eerder as ʼn prima handelsmerk, nét onder die luukse segment waar ons Audi, BMW, Lexus, Mercedes-Benz en Volvo aantref. Laer volumes, maar ʼn pragtige produk met uitmuntende gehalte.

Ek dink Mazda se handelaars sou reeds moes leer om baie slim te boks, andersins was hulle almal reeds bankrot. Soos die opknappings en nuwe modelle begin deursyfer verwag ek dat Mazda net van krag tot krag gaan. Ek dink egter dit gaan nie maklik wees nie, almal soek hul pond vleis – veral die Chinese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.