Meer as net vervoer; só lyk ‘Chery-leefstyl’

Die motorvervaardiger Chery sê hy bied aan klante meer as net ‘n vervoer-opsie, maar ook ‘n leefstyl. Troeteldierbykomstighede is byvoorbeeld deel van die maatskappy se aanbod. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Meer as 500 Chery-eienaars uit 40 lande by ʼn beraad in China wat so ʼn bietjie aan ʼn Verenigde Nasies-vergadering vir voertuie laat dink.

Dit voel amper half vreemd dat ʼn maatskappy – enige maatskappy – luister na opbouende (of selfs negatiewe) kritiek van sy klante en gebruikers en nie net terugvoer daarop gee nie, maar ook iets daadwerkliks daaromtrent doen.

Die beraad in Wuhu, China (waar die voertuie ook vervaardig word), onder die tema “New Journey, New Life” het spesifiek hierom gewentel: hoe om aan Chery-gebruikers se behoeftes te voldoen, die voertuigaanbod te verbeter en uiteindelik nie net ʼn voertuig aan gebruikers te verkoop nie, maar ʼn leefstyl.

Luister na gebruikers se insette

Chery word nou na meer as 80 lande en 12 miljoen internasionale gebruikers uitgevoer,. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Chery bestempel hierdie benadering as klant-gesentreerd. “Ons luister na die stem van ons klante en ons is trots om te sê dat ons pogings vrugte afwerp,” sê Zhang Shengshan, uitvoerende visepresident van Chery International.

Uit Mexiko was daar byvoorbeeld ʼn versoek om na die klimvermoë van die voertuie te kyk; uit Oos-Europa was daar ʼn behoefte aan ʼn groter wasser-waterreservoir; in lande met hoë brandstofpryse was daar ʼn behoefte aan laer brandstofverbruik; en onder gebruikers in lande waar die kwik soms tot bo 50 °C kan styg, was daar ʼn voorstel vir verbeterde lugversorgingsvermoë.

En nadat Chery na al die insette en voorstelle geluister het, het die maatskappy nuwegenerasie-modelle vrygestel met sommige van hierdie aanpassings daarby ingesluit.

Een van Chery se blink nuwe vuurwaens by die beraad in Wuhu, China. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die maatskappy het terselfdertyd reuse-tegnologietreë vorentoe gegee. Chery het ʼn reeks nuwe PHEV- en BEV-modelle aan verskeie markte bekendgestel, toegerus met nuwe tegnologie soos DHE/DHT, kunsmatige intelligensie, outonome bestuursvermoë en slim kajuite.

Waar hy vantevore 300 voertuie per maand verkoop het, het die verbeterings wat die maatskappy (ook op die aanbeveling van gebruikers) aangebring het, dié syfer tot 4 000 per maand opgestoot. Tussen Januarie en September vanjaar het die verkoopsyfer op 1 253 miljoen voertuie gestaan. Dit het die algehele verkope vir die ganse vorige jaar oortref.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Chery word nou na meer as 80 lande en 12 miljoen internasionale gebruikers uitgevoer, die maatskappy se saamgestelde groeikoers het 91% behaal, handelsmerkbewustheid is met 300% hoër, handelsmerk-reputasie het tot op 91% gegroei en die netto aanbevelingskoers vir die handelsmerk het die 60%-kerf verbygesteek.

Die maatskappy sê dié syfers demonstreer dat Chery met ʼn “nuwe weg en ʼn nuwe reis” begin het.

Navorsing, ontwikkeling

Die Chinese motovervaardiger Chery se hoofkantoor in Wuhu, China. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Peter Matkin, hoofingenieur vir internasionale markte by Chery, verduidelik daar is nietemin groot verskille in klante se behoeftes en dit is kritiek om hierdie behoeftes te verstaan voordat daar met die ingenieursproses begin word. Spoedbeperkings verskil, padnetwerke wissel van sneeubedek tot modderige of bergagtige terrein en daar is daar ou stede waar die paaie nou en ontoeganklik vir moderne (en groter) voertuie is.

“As ingenieurs word ons egter nie hierdeur afgeskrik nie; die uitdagings is opwindend,” sê Matkin.

Die motorvervaardiger het reeds duisende patente op sy kerfstok. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Chery se patente-muur by een van die vele kantore in Wuhu is ʼn aanduiding van die miljarde rande wat die voertuigvervaardiger die afgelope paar jaar in navorsing en ontwikkeling gestort het – en hoeveel miljarde hy beoog om in die afsienbare toekoms te bestee. Die patente-portefeulje sluit in tradisionele voertuigkomponente, maar ook tegnologie vir nuwe energie, slimverbindings en outonome bestuursvermoë.

Die maatskappy het reeds 26 000 patente-aansoeke op sy kerfstok, gaan oor die volgende vyf jaar sy navorsingslaboratoriums wêreldwyd tot 300 verhoog en het begroot om meer as CNY100 miljard (sowat R265 miljard) in navorsing en ontwikkeling in hierdie tyd te bestee.

‘Chery-leefstyl’

Die motorvervaardiger wil meer as ‘n voertuig aan klante verkoop – hy wil ook ‘n leefstyl bevorder. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

As deel van die strategie om Chery (en die selfs meer luukse Omoda-, Exeed- en Jaecoo-handelsmerke) as meer as net ʼn voertuig – maar ook ʼn slim leefstyl – te bemark, spog die vervaardiger met alles van robothonde, tot troeteldierbykomstighede (vir regte troeteldiere), motorstoeltjies vir kinders, kampbenodighede, elektriese skaatsplanke, slim brille, skoonheidsyskaste en ʼn slim grassnyer. (Nie alles hiervan is egter beskikbaar in Suid-Afrika nie; moet dus nie nou al asem ophou vir ʼn slim robotbrak wat jou geselskap hou terwyl jy op die stoep sit en kyk hoe die slim grassnyer jou erf netjies hou nie.)

Met die internet-van-dinge reeds in mense se huise word dié deurlopende verbinding met die res van die wêreld al hoe meer ook tot in jou voertuig gebring.

Tegno-dag by die Chery-beraad het opnuut gewys motors is deesdae veel meer as net ‘n manier om van punt A tot by punt B te reis. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

“Motors het omwentel van ʼn blote vervoermiddel vir gebruikers tot mobiele leefruimtes en voertuigmaatskappye verbreed hul horisonne,” sê Yin Tongyue, voorsitter van Chery.

Om te strook met hierdie benadering, ontwikkel en ontgin Chery ʼn sogenaamde nuwe ekologie vir gebruikers, terwyl hy terselfdertyd gebruikerspotensiaal inspan om meer van sy handelsmerkdoelwitte te behaal.

ʼn Groen leefstyl word ʼn al hoe groter prioriteit wêreldwyd. Chery sê hy begin dus met ʼn mensgesentreerde ontwerpfilosofie, brei dit uit na sy ekovriendelike vervaardigingsaanlegte en prioritiseer laekoolstof- en energiedoeltreffende praktyke.

“Chery bied groen vervoeroplossings vir sy klante en beoog om ʼn ekologiese stelsel te skep waarbinne hy ook ‘vervoer-ekologie’ in ʼn nuwe manier van leef insluit.”

‘n Blik op die toekoms? Een van die futuristiese modelle by Chery se tegno-dag tydens ‘n internasionale gebruikersberaad in Wuhu, China. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Zhang sê internasionale gebruikers se beskouing van die motormaatskappy het verander van “ekonomies” en “betroubaar” tot “tegnologies” en “stylvol”.

“Chery se voortgesette tegnologiese innovering gaan aanhou om ons ontwikkeling te bemagtig en te versnel en gaan Chery se handelsmerk, as ʼn leier op tegnologiese gebied, help vorm. Dit is juis weens ons voortgesette tegnologiese navorsing dat Chery die tegniese vermoë bekom het om voertuie te ontwikkel vir verskillende lande en omgewings, wat ons produkte laat strook met die behoeftes van plaaslike markte en gebruikers.”

  • Maroela Media se besoek aan Wuhu, China, is moontlik gemaak deur Chery Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.