Motorverkope hou aan groei ondanks uitdagings  

(Argieffoto: Pixabay)

Ten spyte van al die terugslae wat die motorbedryf beleef, stof hy hom af en veg terug.

Dis verstommend dat daar ten spyte van die halfgeleier-mikroskyfiekrisis, stygende rentekoerse, internasionale versendingsuitdagings, die oorlog in Oekraïne en oorstromings op eie bodem meer voertuie in Junie verkoop is as in die vorige maand.

In Mei is daar 39 177 motors verkoop terwyl daar in Junie effens meer verkoop is met 41 019 eenhede. Toyota is steeds die topverkoper al kan hy tans nie voertuie plaaslik vervaardig nie. Toyota het in Junie so 800 meer voertuie verkoop as in Mei met 7 439 eenhede.

In die tweede plek sit Volkswagen wat amper 900 meer voertuie in Junie kom verkoop. Suzuki is in die derde plek en het ʼn fantastiese 4 622 eenhede en is ook die topverkoper in die passasiersegment met sy Suzuki Swift waarvan 1 925 eenhede verkoop is.

Hyundai en Ford rond die topvyf af met onderskeidelik 2 945 eenhede en 2 396 eenhede. Dit is ʼn verbetering vir Ford maar nog nie naastenby waar hy behoort te wees nie. Die ander topverkopers is Nissan (2 370), Renault (2 332), Kia (2 091), Haval (1 861) en Isuzu (1 715).

Die topvyf passasiervoertuie is die Suzuki Swift (1 925), die Toyota Urban Cruiser (1 785), die Volkswagen Polo Vivo (1 619), die Toyota Starlet (1 574), en die Volkswagen Polo (1 461). ʼn Enorme pluimpie vir Suzuki is dat Toyota se Urban Cruiser en Starlet uit sy fabrieke in Indië kom. Dus kom 5 284 voertuie uit die Maruti Suzuki-fabriek in Indië, dít is hoekom ons Suzuki Indië se grootste uitvoermark is.

Die topvyf ligte handelsvoertuie is die Ford Ranger (1 601), die Isuzu D-Max (1 280), die Nissan NP 200 (1 249), die Toyota Hilux (969) en die Mahindra Pik Up (615).

Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), sê die voortdurende beurtkrag, stygende rentekoers en hemelhoë brandstofpryse plaas die eindverbruiker se begroting onder geweldige druk en sal waarskynlik verkope oor die volgende twee maande in die wiele ry.

Toyota werk intussen onverpoosd om sy fabriek teen middel Julie weer aan die gang te kry ná die vloedskade wat daar aangerig is. Indien hy daarin slaag behoort hy reeds in Augustus goeie resultate te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

krodedil ·

Diefstal help motor verkope goed aan. Toyota SA sweig nog steeds oor hulle swak sekuriteit in hulle Hilux bakkies.

JohanR ·

Kan iemand vir my se hoe iemand in die dae ‘n splinter nuwe motor bekostig nevermind eers ‘n tweede handse motor. Daai maandelike paaiment moet jou darem byt? Sal liewers die ou tjor ry, en my geld in eiendom bele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.