ʼn Elektriese voertuig vir ongeveer R300 000?

ʼn Volledige elektriese voertuig vir om en by R300 000, sê jy?

Die artikel se opskrif is effens misleidend aangesien GWM se intree-Ora wel om en by R300 000 kos, maar dit is voor ons regering hul hande op hom kry. Voeg die 25%-invoerbelasting by, 15% BTW, die ad valorem-belasting (weeldetaks) en dan kom jy by R700 000 uit. In meeste lande word elektriese voertuie gesubsidieer – maar in Suid-Afrika word hul kwaaier belas.

Kom ons skuif sy prys vir ʼn oomblik opsy. Die Ora 3 kom uit GWM se stal in China. Die Ora is die beste gekalibreerde Chinese voertuig waarmee ek al gery het.

Die ontwerp is oulik. Effens vreemd – maar oulik. Dink aan ʼn mengsel tussen ʼn Volla en ʼn Mini en voeg ʼn bietjie Porsche daarby – en siedaar. Dis wel die binneruim wat beïndruk. Alles is mooi ergonomies uitgelê en die materiale wat gebruik word werklik luuks. Die bougehalte is indrukwekkend en die meeste van die funksies maklik om uit te pluis.

Daar is ʼn paar foefies wat ʼn wyle vat om aan gewoond te raak. Wanneer ʼn mens die voertuig oopsluit is hy reeds aangeskakel en reg om te ry. Daar is ʼn knoppie om hom af te skakel – maar nie aan te skakel nie. Die veiligheidstelsels en magdom alarmpies kort nog ʼn bietjie verfyning – maar ʼn mens kan darem meeste dinge stel soos jy dit wil hê.

Onder die kap sit ʼn 126 kW elektriese motor wat 250 Nm bied van 0 r/min af. Oombliklike krag – kenmerkend van ʼn EV. Die Ora versnel redelik blitsig – maar wat verbaas (van enige EV) is hoe stil hy dit doen. Daar is ook geen ratkas nie – so ʼn mens hoef nooit aan ʼn rathefboom te roei aan die soek vir die regte rat om die kwaaiste bult uit te klim nie. Begrawe net die versneller in die mat en hou styf vas. 0 – 100 km/h neem 8,5 sekondes en hy sal aanhou tot ʼn topspoed van 160 km/h.

Die krag en versnelling is egter net ʼn klein deeltjie van die prentjie. Die kragverbruik is waar die Ora uitblink. Ons het 17,2 kWh/100 km gehandhaaf met die Ora. Ek het die Ora elke aand by die huis gelaai (tydens beurtkrag) en die Ora was elke môre op 100% as ek wegry by die huis. My huishoudelike tarief is tans R2,33 per kWh. Dus kos die Ora R40 per 100 km – of 40c per km. My vrou besit ʼn diesel Renault Grand Scenic wat ekonomies is, en hy werk uit op ongeveer R154 per 100 km teen die huidige dieselprys.

Dus – indien ʼn mens tuis laai, kos ʼn EV ongeveer ʼn kwart per km teenoor ʼn reeds ekonomiese dieselmotor.

Op die pad toer die Ora lekker. Hy ry sag genoeg en het hope krag. Ja, die veiligheidstelsels kan indringerig raak tot mens dit net só gestel kry. Op ʼn nat pad is die bande bietjie lig in die broek vir voluit versnel – dan is daar allerhande wieltol en sports, maar ʼn mens ry nie só as dit reën nie… hehe.

Uit ʼn veiligheidsoogpunt het die Ora lugsakke en elke denkbare aktiewe en passiewe stelsel soos baandwaalwaarskuwing, sluitweerremme met noodremhulp en botsingwaarskuwing, aanpasbare spoedkontrole en só hou die lys aan.

Ek sal die Ora só opsom: As die regering net die belasting kan aanpas sal derduisende van dié buksies stilletjies elke dag die skoolroete en verkeer trotseer in ons groot stede. Dis werklik ʼn lekker tjor.

Die reeks lyk só:

GWM Ora 03 300 Super LuxuryR686 950
GWM Ora 03 400 Super LuxuryR775 950
GWM Ora 03 400 Ultra LuxuryR805 950
GWM Ora 03 400 GT Ultra LuxuryR835 950

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 200 000 km voertuigwaarborg, 8 jaar/ 150 000 km batterywaarborg en 7 jaar/ 105 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragReikafstandWaarborgPrys
Mini Cooper SE Hatch 3-deur135 kW/270 Nm217 km2 jaar/ onbeperkte km voertuigwaarborg

8 jaar/ 100 000 km batterywaarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R783 500
Volvo XC40 Recharge single motor plus175 kW/330 Nm460 km5 jaar/ 100 000 km voertuigwaarborg

8 jaar/ 160 000 km batterywaarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 108 000
Mercedes-Benz EQA 250 Progressive140 kW/385 Nm429 km5 jaar/ onbeperkte km voertuigwaarborg

8 jaar/ 160 000 km batterywaarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 176 350
BMW iX1 xDrive 30 xLine230 kW/494 Nm440 km2 jaar/ onbeperkte km voertuigwaarborg

8 jaar/ 100 000 km batterywaarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 205 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vonkprop ·

Sover ek weet sal hy skaars Durban haal op ‘n vol laai. Iets soos 400km. Ek mag verkeerd wees.

Karoo ·

Nee wat, ek sal maar ‘n Perd en’ n kar kry. Tenminste kan ek die mis in my tuin gebruik, my gras bly kort, kan nog inspan by bure en die kinders het ‘n werks/troeltel dier. LOL

Manie ·

Die motors klim skuit teen R300 000.00, maar land aan wal teen R800 000.00 in ‘n land sonder elektrisiteit? Net ‘n absolute dwaas sal dit koop.

Schalk ·

Dis vir my absoluut verstommend hoe mense positief kan praat let nog ‘n artikel skryf sonder om die nadele van elektriese motors te noem. En daar is baie. Voertuie verloor waarde ja maar gaan kyk na vier jaar watter skok kry jy as die voertuig vervang moet word of nog beter die batterye einde toe staan.

Niklaas ·

Wat maak die arme kar eienaar as daar erge beurtkrag is en hy moet dringend ‘n ver afstand gaan aflê en die batterye is pap ?

Renier ·

Meer as 50% gaan vir die regering,nee dankie. Wonder wat se die lande wat vir SA geld leen om groen krag te bevorder,en ons regering spyker die belasting op EV’s?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.