Na hierdie voertuie sien ons uit in 2021

2020 was nie ʼn slegte jaar vir voertuie nie, ten spyte van Covid-19.

Ek het onlangs vir die vervaardigers gevra wie bring wat in 2021 uit en hier is ʼn kort lys van dié voertuie waarvoor ons nie kan wag nie.

Een van die motortjies waarna ek die meeste uitsien is die Peugeot 208 en 2008.

Ons het nog geen inligting oor die voertuig nie, behalwe dat dit asemrowend is.

Ek is seker dat dit ʼn 1,2-turbopetrolenjin sal hê, met ʼn outomatiese ratkas. Die 208 sal in die B-luikrug segment met die Polo en die Fiesta meeding.

Die 2008 sal dieselfde enjins en ratkaste gebruik en sal in die B-sportnutsegment meeding met Volkswagen se T-Cross, Hyundai se Venue en dies meer.

Audi het ʼn ellelange lys van voertuie gestuur wat hy binnekort gaan bekendstel. Daar is ʼn magdom RS modelle – 4, 5, 6, 7, S, RS Q8, RSQ3 – en seker die opwindendste van almal ʼn opgeknapte R8 gevolg deur ʼn nuwe S8.

Ek het laat verlede jaar tyd met die pragtige S6 deurgebring en kan net dink hoe lieflik die S8 gaan wees. Ek hoop hulle het lekker gerus om ál die voertuie vanjaar na die mark te bring.

Uit Nissan se stal kan ons opgewonde raak oor drie buksies in 2021. Die Nissan Magnite is ʼn B-sportnutsegmentvoertuig wat sy skyfie van die pastei wil neem.

Ons sal vir die eerste keer sy nuwe 1,0-turbopetrolenjin ervaar. 74 kW en 160 Nm is lekker sterk. Ons hoop net die pryse is mededingend.

Die ander meneer is Nissan se Terra – ʼn groot sportnutsvoertuig wat op die Navara gegrond word. Dit sal teen Toyota se Fortuner, Ford se Everest, Isuzu se MU-X en Mitsubishi se Pajero Sport kom meeding.

Hy sal waarskynlik enjins en ratkaste met die Navara deel en dít is geensins ʼn slegte ding nie.

Die Navara kry ʼn opknapping en sal voortaan in Suid-Afrika vervaardig word. Dit is puik nuus vir die land se ekonomie.

Twee modelle wat vroeg vanjaar hul buiging behoort te maak, is presies dieselfde voertuig uit twee stalle.

Suzuki sal sy Vitara Brezza wys en Toyota sal hom na verwagting ook verkoop as die Urban Cruiser. Die voertuig word in die Maruti Suzuki-fabriek in Indië vervaardig.

Ek het hom daar gesien en is oortuig dat die voertuig goeie verkope in Suid-Afrika gaan geniet.

Suzuki Vitara Brezza. (Foto: Verskaf)

Renault het ook vanjaar ʼn paar tjorre op pad. Twee waarna ek redelik uitsien is die nuwe Clio en Captur.

Die twee voertuie is baie na aan mekaar en sal waarskynlik Renault se TCe-petrol- en dCi-dieselenjin gebruik. Die ontwerp is regtig pragtig. Die Clio sal in die B-luikrug segment met die Polo, Fiesta, nuwe Corsa en Peugeot 208 meeding. Die Captur is ʼn B-kruismodel-mededinger en sal sy man teen VW se T-Cross staan.

Nóg ʼn B-luikrugmededinger is Opel se nuutste Corsa. Ons wag al meer as ʼn jaar vir die beloofde voertuig. Die Corsa se bekendstelling sal in die eerste kwartaal plaasvind en ek kan nie wag om hom onder hande te kry nie.

Opel Corsa. (Foto: Verskaf)

Uit die Volkswagen-stal kan ons uitsien na die nuwe Golf 8 en opgeknapte Tiguan R. Die eerste Golf 8 wat hier sal land is die GTI en dit is altyd ʼn wenner. Ek het al ʼn video gesien van die Tiguan R in Duitsland op die Autobahn en die resultate lyk fantasties.

Mahindra het ʼn baie opwindende jaar wat voorlê. Ek het in Desember ʼn paar minute agter die stuur van die splinternuwe Thar gekry en is oortuig dat Suid-Afrika nie gereed is vir wat op hom wag nie. Ek dink die nuwe Thar gaan ʼn fantastiese model vir Mahindra in Suid-Afrika wees.

As ʼn mens na Indië kyk, is daar ʼn nuwe XUV 500, ʼn nuwe Scorpio én ek dink ons kan uitsien na die outomatiese ratkas in meer van die Pik Up-reeks. Indrukwekkend.

Mahindra Thar. (Foto: Verskaf)

Dit bring my by die voertuig waarvoor ek régtig nie kan wag nie: Toyota se GR Yaris. Kyk net hier:

Toyota Yaris. (Foto: Verskaf)

200 kW en 380 Nm uit ʼn 1,6-turbodriesilinder is fantasties. Vierwielaandrywing en ʼn 6-spoed-handrat gaan moontlik een van die opwindendste Toyotas wees in meer as twee dekades.

Ook aan die skerp kant van die verrigting-segment is daar altyd ʼn BMW.

Die M5 Competition het my betower, maar daar is twee CS-modelle wat ek jeuk om te bestuur. Een is reeds in die land en behoort binne enkele weke in my oprit te staan – die M2 CS – en die ander is BMW se geklike M5 CS.

BMW M2CS. (Foto: Verskaf)

BMW het verskeie ander opknappings en nuwe modelle. Die 5-reeks word opgeknap, sowel as die M3 en M4 en ons behoort dan die eerste voorsmakie van die toekoms te kry in die nuwe iX3 – ʼn ten volle elektriese BMW sportnutsvoertuig.

BMW iX3. (Foto: Verskaf)

Daar sal talle ander produkopknappings en nuwe modelle wees, maar die vervaardigers hou vir mededinging- en beplanningsdoeleindes gewoonlik hul kaarte ʼn bietjie toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Suzette ·

Al baie gewonder hoekom hierdie vuurwaens Audi R8, RS 5 en soortgelyke voertuie in daardie klas na SA gebring word. Ja hier is wel mense wat dit koop, maar die paaie in hierdie land is in so toestand dat ‘n trekker meer aangewese sal wees …… :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.