Nuwe handelsmerk sit beste voet voor

Daar is waarskynlik niemand wat die Chinese handelsmerke meer opdraande gee as ek nie. Ek dink dit is my plig om te sê wanneer hulle tekortskiet, of nie. Jy kan my dus vertrou as ek sê die nuwe Jaecoo J7 is werklik goed… en teen die prys – onweerlegbaar.

Die ontwerp is werklik aantreklik. ʼn Hoekige ontwerp met ʼn imposante sierrooster. Ek wil sê ʼn meer aggressiewe of manlike voorkoms, maar dan het ʼn mens die deurhandvatsels wat mooi toevou in die deur wat ʼn elegante aspek na vore bring. Nietemin – ek is nie ʼn ontwerper nie, en jy kan self besluit deur na die foto’s te kyk.

Die binneruim is uiters modern met ʼn reuse- 13,2”-raakskerm wat meeste van die funksies aan die binneruim beheer. Die sagteware is maklik om baas te raak en wat aanvanklik voel of dit steurend is raak vinnig deel van die ervaring. Uiteindelik het ‘n vervaardiger ‘n lugopening by die draadlose laaiplekkie gesit wat koue lug teen die foon blaas terwyl hy laai om jou foon heerlik koel te hou. Uiters slim aangesien dié laaiers ‘n tendens het om fone baie warm te maak.

Die reeks word aangedryf deur die groep se 1,6 viersilinderturbopetrolenjin wat 145 kW en 290 Nm bied en die krag deur ʼn 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas sit. Daar is twee modelle, ʼn voorwielaangedrewe model en ʼn allewielaangedrewe model. Dit is hier waar die Jaecoo ʼn openbaring bied as Chinese vervaardiger.

Jaecoo moes groot werk gedoen het op die versnellerkalibrasie van dié voertuig want dit is die beste weergawe van enige Chinese motor waarmee ek al gery het. Beter kalibrasie met progressiewe versnelling en nie ʼn geruk en pluk die oomblik wat jy naby die versneller gaan nie.

Die tweede enorme verbetering is met die brandstofverbruik. Ons het tydens die bekendstelling ʼn fantastiese 6,2 ℓ/100 km gehaal. Dit is ongehoord vir ʼn Chinese motor. Dié twee verbeterings transformeer die Jaecoo van iets wat ek mense sou afraai om te koop na ʼn billike opsie.

Is die Jaecoo J7 perfek? Nee, die veiligheidstelsels kan nog ʼn bietjie meer getem word – daar was ʼn alarmpie wat mal geword het en onophoudelik gepiep het. Ek sou eenvoudig vir die handelaar vra waar skakel mens dit af. Ek het met Jaecoo opgevolg oor die spesifieke motor waarmee ons gery het en daardie alarmpie is glo nie reg nie. Daardie motor is nou by ʼn tegnikus om te bepaal watse sensor se tor afgeval het. Die tweede motor waarmee ons gery het, was werklik heelwat beter met ʼn geringe biep of piep hier en daar wat ʼn mens laat weet jy ry oor die spoedgrens of dat daar ʼn motor in jou blindekol is – of dat jy vir té lank nie jou oë op die pad gehou het nie.

Op die pad is die rit effens ferm, maar solank ʼn mens op mooier paaie ry is dit rit heerlik. Op slegte teer en grond is die vering styf – maar dit bied weer goeie padhouvermoë.

Dan kom die prys. Wat die J7 teen R549 900 vir die intreemodel bied is ongeëwenaard in die bedryf. Welkom aan die ietwat fantastiese Jaecoo J7. Gaan toetsbestuur beslis een.

Die reeks lyk só:

Jaecoo J7 1.6T Vortex FWD 7DCTR549 900
Jaecoo J7 1.6T Glacier FWD 7DCTR599 900
Jaecoo Jy 1.6T Inferno AWD 7DCTR679 900

Die reeds word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg, 10 jaar/ 1 miljoen km enjinwaarborg (vir die eerste eienaar) en 5 jaar/ 70 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Jaecoo J7 deurbring en die brandstofverbruik en alarmpies met ʼn valkoog dophou. Ons sal daarna die J7 met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.