Proton keer terug met luukse SNV’e

Michael Chew Chee Meng, senior bemarkingsbestuurder en uitvoerprodukspesialis van Proton, het al die pad van Maleisië gekom om die splinternuwe Proton X70 en X50 te onthul. (Foto: Du Preez de Villiers)

Na ʼn dekade is Proton terug in Suid-Afrika en om ʼn stewige vastrapplek te kry en ʼn behoorlike indruk te maak, het dié Maleisiese voertuigbouer twee luukse sportnutsvoertuie (SNV’e) bekendgestel.

In 2007, na ʼn kort lopie van sewe jaar waarin veral die Proton Arena‑halftonbakkie ʼn indruk op Suid-Afrikaners gemaak het, het Proton aangedui dat hy destyds uit Suid-Afrika moes padgee omdat hy ʼn tekort aan hulpbronne en produkte, ʼn knelpunt in navorsing en tegnologie, asook probleme met sy verskaffingsketting en die bevordering van Maleisië se motorbedryf ondervind het.

In Suid-Afrika was die markverwagting nie voldoende nie en hy kon nie ʼn geskikte plaaslike sakevennoot vind nie.

Intussen het Geely, die Chinese motorvervaardiger, Proton onder sy vlerk geneem en sake omgekeer.

Tydens ʼn geleentheid naby Muldersdrift, waartydens al die rolspelers bymekaargekom het, is aangekondig dat Combined Motor Holdings (CMH), wat reeds stewig in die motorbedryf gevestig is, sy sake as handelaar in Suid-Afrika gaan behartig.

Daarmee saam is die Proton X50 en X70 bekendgestel. Hierdie sportnutsvoertuie gaan teen die luukser handelsmerke in sy klas, waaronder, Volkswagen en Toyota, meeding, wat dalk ʼn uitdaging of twee gaan meebring.

 

Proton X50 (Foto: Verskaf)

 

“Hierdie is nie net die bekendstelling van die Proton X50 en Proton X70 nie, dit is die bekendstelling van ʼn handelsmerk waarvan jy al gehoor het, maar nie in sy vennootskap met Geely ontmoet het nie,” sê Jebb McIntosh, uitvoerende hoof van CMH.

CMH is in 1976 gestig en het in 1995 ook vir Volvo na Suid-Afrika teruggebring.

 

Proton X70. (Foto: Verskaf)

 

“Ons het besluit om Proton terug te bring na vele gesprekke, reise na Maleisië, besigtigings en toetsritte van die voertuie wat die land binnegekom het. Soos die markaanvraag tans staan, is daar ʼn behoefte vir dié twee gehalte SNV’e, wat binne ʼn bekostigbare prysklas val.

“Met die aankoop van ʼn 49,9%-belang in Proton deur die Zhejiang Geely Holding-groep in 2017, is Proton met behulp van bykomende finansiering, tegniese kundigheid en produkte hervorm. Toe die Proton-handelsmerk beskikbaar gemaak is, het ons om verskeie redes die geleentheid aangegryp, maar die hoofrede is omdat ons ʼn gaping in die mark vir ʼn gehalte SNV binne ʼn bekostigbare prysklas gesien het. Daar is baie luukse handelsmerke wat SNV’e bekendstel wat eenvoudig onbekostigbaar vir die gemiddelde Suid-Afrikaner is,” verduidelik McIntosh.

 

Die ruim kajuit van die Proton X70. (Foto: Verskaf)

 

Die X70 en X50 spog met tegnologie wat ook in Volvo’s gevind word. “Met Geely wat hulpbronne en ondersteuning aan Proton bied, kan ons verseker dat die fondament vir voertuie wat in die nabye toekoms vrygestel word, opwindend is.”

Die twee modelle word met ʼn vyfjaar‑ onbeperkte waarborg verkoop wat oordraagbaar is, “ʼn stap wat die gehaltebelofte van die produk ondersteun”, sê Trevor Morey, hoof van verkope en bemarking van Proton Suid-Afrika.

 

‘n Blik op die bestuurskant in die Proton X50. (Foto: Verskaf)

 

“Dit verhoog die waarde van gebruikte motors, wat ons weet ook ʼn sterk oorweging in die handel is, wat ʼn groot verskil maak. Hiermee saam bied ons ook vyf jaar se padbystand asook ʼn diens- en instandhoudingsplan.”

Proton se twee SNV’e is ook nie gulsig as dit by brandstof kom nie. In ag geneem die reusebehoefte aan brandstofdoeltreffendheid, het Proton twee voertuie gebou wat bekostigbaar is om te besit en te bestuur.

 

Die Proton X70 het ‘n stylvolle rathefboom, (Foto: Verskaf)

 

“Die brandstofverbruik van die X50 is 6,5 ℓ/100 km en die X70 sʼn is 7,8 ℓ/100 km,” sê Marius Smal, besturende direkteur van Proton SA.

Afhangend van die klas en variasie, bied die twee modelle ʼn chroomafwerking op die voor- en agterbuffers, allooiwiele en Nappa-leersitplekke met ʼn swart koplyn.

Die X70 is met ʼn slim lugsuiweringstelsel (P-IAPS) toegerus, ʼn samestelling van ʼn N95‑kajuitfilter wat in die lugversorging ingebou is en lugsuiweringstelsel. Saam werk hulle twee keer so doeltreffend om die luggehalte in die kajuit te verbeter.

 

Die Proton X50 en X70 kan oor ‘n afstand aangeskakel word. (Foto: Verskaf)

 

Ander indrukwekkende kenmerke is om met jou stem aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke te aktiveer. Dit sluit ʼn waarskuwing in as jy uit jou baan beweeg of as daar ʼn moontlike botsing dreig. ʼn Parkeringshulpstelsel kan ook die spanning uit parallelparkering neem.

“Die X50 en X70 is boordensvol wêreldklas-tegnologie, van ʼn enjin wat op ʼn afstand met ʼn sleutel aangeskakel kan word tot ʼn kattebak wat met ʼn voetsensor oopgemaak kan word. Ons weet dat hierdie voertuig baie positief ontvang sal word en belangstellendes is welkom om vir ʼn toetsrit te kom aanklop om te sien wat die nuwe Protons vir jou kan bied,” voeg Smal by.

 

Die Proton X70 is ‘n sportnutsvoertuig om mee rekening te hou. (Foto: Verskaf)

 

Tans is daar 20 Proton-handelaars oor Suid-Afrika heen, maar CMH beplan om volgende jaar nog sewe, en in 2024 nog agt by te voeg.

 

Die Proton X50 is ‘n toonbeeld van afwerking en tegnologie. (Foto: Verkskaf)

 

Die X50-modelle se pryse lyk soos volg:

1,5T Standard – R449 900

1,5T Luxury – R499 900

1,5T Executive – R535 900

1,5 TDGI Premium – R579 900

 

Die X70-modelle se pryse lyk soos volg:

1,5TDGi Standard – R529 900

1,5TDGi Luxury – R579 900

1,5TDGi Executive AWD – R629 900

1,5 TDGi Premium – R639 900.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.