Puik Porsche se nuwe Cayenne peperwarm

Dit is geen geheim nie dat indien my bankbalans so groot was soos my liefde vir Porsche, dat daar ʼn paar van hulle in my oprit sou staan. Die model wat dié handelsmerk los hande gered het, is die Cayenne. Ek dink selfs Porsche het die sukses van dié model onderskat toe hy aanvanklik gesê het hy gaan ʼn sportnutsvoertuig bou. Porsche het teen 2020 reeds een miljoen Cayennes vervaardig!

Sonder om doekies om te draai – die eerste Cayenne was bitter lelik. Óf ons het aan die idee van ʼn Porsche‑sportnutsvoertuig gewoond geraak, óf die ontwerpers het nuwe brille gekry want die jongste Cayenne is pragtig. Ek hou nie van die hoofligte nie – dit lyk asof dit van die ou Citroën DS kom – die vorige Cayenne se hoofligte was vir my baie mooier, maar dis egter wat agter die hoofligte sit wat alles weer in die wêreld goed maak – ʼn bomklapper van ʼn V8.

Eers die binneruim. Ek skat Porsche is tans boaan die leer wat materiale en bougehalte van ʼn binneruim betref. Dit is eenvoudig perfek weens die feit dat elke Porsche‑model, hetsy 911, Boxster, Cayman, Cayenne, Taycan, Macan of Panamera, eenders voel. As jy geblinddoek agter die stuur van ʼn Porsche sit, ruik en voel hulle almal dieselfde. Dis fantasties.

Wat spesifikasie betref, is daar geen speelding wat die Cayenne S nie het nie. Outomatiese klimaatbeheer, aanpasbare spoedkontrole, ʼn asemrowende Bose-klankstelsel – én natuurlik daai pragtige gebrul van die V8. Ek moet een spesifieke funksie uitlig: die aanpasbare helderligte. Ek het met die Cayenne in Hoopstad in die Vrystaat vir ʼn matriekafskeid gaan ry. Ons het 12:00 in Johannesburg weggespring en 15:00 in Hoopstad aangekom. Ek is weer 19:00 daar weg en het 22:30 by my huis stilgehou.

Die aanpasbare helderligte het fantasties gewerk om geen voertuie van voor te verblind nie, maar wat hy ook gedoen het terwyl ek ʼn ewe haastige Defender gevolg het, is om presies die blokkie tussen ons, net so breed soos die pad, uiters helder te maak. Indien ek my rigtingwyser aangeskakel het, links of regs, dan maak hy daai blokkie presies die baan voor jou en die baan waarin jy gaan skuif. As jy klaar geskuif het, word die helder blokkie weer net die een baan. Dis mal hoe dinamies dit is.

Dit bring my terug by die lieflike V8: 349 kW en 600 Nm, 0‑100 km/h in 4,7 sekondes en 273 km/h voluit. Dit is syfers wat nie lank gelede nie net in supermotors te vinde was. Met die pad Hoopstad toe, het ons dit rustig gevat en 9,8 ℓ/100 km oor die 348 km gekry… werklik goed. Die terugtog huis toe is teen ʼn vinniger tempo gehandhaaf en die verbruik was 13,7 ℓ/ 100 km – nie sleg nie as jy dink ʼn Ford Raptor met minder krag sukkel om naby daai syfers te kom.

Op die pad toer die Cayenne lieflik. Die vering toor met ʼn ondeunde pad. Dit is vir my verstommend hoe die Cayenne só soepel kan ry, maar sodra jy die Sport Plus-rymodus kies, is die padhouvermoë beter as wat enige SNV die reg het om te bied.

Porsche bou tans asemrowende motors. Die terugkeer van die V8 is fantasties en die nuwe Cayenne het beslis meer karakter as die vorige V6. Indien jy in die mark is vir ʼn SNV in dié prysklas, toetsbestuur beslis ʼn Cayenne, maar neem die tjekboek saam want jy gaan beslis met een huis toe gaan.

Die reeks lyk só:

Porsche Cayenne260 kW/500 Nm9,2 ℓ/100 kmR1 848 000
Porsche Cayenne Coupé260 kW/500 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 933 000
Porsche Cayenne S349 kW/600 Nm9,7 ℓ/100 kmR2 125 000
Porsche Cayenne e-hybrid346e kW/650e Nm2,4 ℓ/100 kmR2 194 000
Porsche Cayenne S Coupé349 kW/600 Nm9,7 ℓ/100 kmR2 232 000
Porsche Cayenne e-hybrid Coupé346e kW/650e Nm2,5 ℓ/100 kmR2 259 000
Porsche Cayenne turbo GT485 kW/850 Nm11,9 ℓ/100 kmR4 128 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

BMW X6 M60i390 kW/750 Nm11,9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R2 176 413
Jaguar F-Pace SVR405 kW/700 Nm11,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende

instandhoudingsplan

R2 197 400
Mercedes-AMG GLE53 4Matic+ Coupé320 kW/760e Nm10,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R2 546 798
Range Rover Sport P460e Dynamic HSE338 kW/550 Nm16 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplanR2 745 600
Maserati Levante Modena316 kW/580 Nm12,1 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑diensplan

R3 090 000

Tussen al die mededingers kies ek die Cayenne, en as ek ʼn enorme boot wil sleep en toegang tot laestrek wil hê, die Range Rover.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.