Sleep – met ʼn elektriese voertuig!?

Kom ons praat gou oor die olifant in die vertrek. Ek hou van elektriese voertuie. Nee, ek dink nie dit is die enigste oplossing vir die toekoms nie, maar as ʼn voertuig vir sekere doeleindes is hulle werklik fantasties. Ek dink die toekoms gaan waarskynlik ʼn groot verskeidenheid van aandrywingstelsels sien: elektries, hibried, waterstof, binnebrand, en so meer.

Die eerste vraag is altyd: Maar hoe ver kan hy ry? Wat as jy Kaap toe wil ry? Dan is my vraag – wanneer laas het jy self Kaap toe gery? Die antwoord is gewoonlik 15 jaar laas, of – nee, nog nooit. Ai. Dis dieselfde argument vir die ou wat een keer in drie jaar ʼn groot reis onderneem deur Botswana, oor Namibië en terug tot in Pretoria. Die ander duisend dae ry hy met daai opgetofte Cruiser in die daaglikse verkeer, teen 4 km/ℓ.

Wat as mens met ʼn elektriese voertuig wil woonwa sleep? Ek het ʼn 2013 Sprite Swing. Aanvanklik wonder ek, waarmee sleep ek hom? BMW se fantastiese nuwe iX3 mag net 750 kg sleep. Dit gaan nie werk nie. Jaguar se i-Pace mag ook nie sleep nie. Ek kyk na Audi se e-Tron. Hy mag ʼn indrukwekkende 1,8 ton sleep. Ek vra vir Audi en hulle stem in dat ek die Audi mag gebruik.

(Foto: Brendon Staniforth)

Die toets is eenvoudig: Hoe sal hy sleep, en wat sal die geslepery aan die reikafstand doen?

ʼn Elektriese voertuig behoort soos ʼn droom te sleep; daar is ʼn magdom wringkrag beskikbaar van stilstand af én daar is geen ratkas, omwentelinge of kragkurwe om oor te kommer nie. Die eTron het lugvering – ook pragtig vir sleep. Ek maak my somme. Die reikafstand is gewoonlik om en by 300 km. As ons dit halveer, behoort ons die 80 km tot op Buffelspoort sonder moeite te haal.

Ons trek by die huis weg met ʼn vol battery. Die reikafstand wys 333 km. Ons stel koers vir die N4 via Onderstepoort, want hulle werk aan die N4 nader aan die N1 en daar is die verkeer vrot.

Dis ʼn belewenis om tjoepstil by die huis weg te glip, woonwa aan die e-Tron gehaak. Die remme wat elektriese krag herwin, werk ook fantasties. Die lugvering toer sag oor Gauteng se slegte paaie en hobbels – en die kajuit is tjoepstil. Elke kind het ʼn foon en oorfone om hulle besig te hou.

Sover lyk dinge goed. Ons klim op die N4, en ek stel die aanpasbare spoedkontrole op 100 km/h. Die e-Tron trek lag-lag die wa, en die stilte in die kajuit maak mens lekker rustig. Op ʼn bult wil ek ʼn paar trokke verbysteek. Ek sit die rigtingwyser aan en gee bietjie vet. In ʼn japtrap toer ons 115 km/h – opdraande, sonder enige ratte soek op versneller in die mat begrawe soos soms nodig is in ʼn dieselvoertuig as mens sleep. Indien ʼn EV enige probleme het met sleep, is krag nie een van hulle nie.

Die reikafstand val so 50% vinniger as gewoonlik, presies wat ek verwag het. Ons stop by Buffelspoort, 79,4 km later. Ons het 40,6 kWh/100 km gebruik en die e-Tron kan nóg 161 km ry.

Ná ons kamp opgeslaan het, sien ek ʼn oop staanplek. Ek trek die e-Tron daar en prop hom in om te laai. Sondag voor ons ry, is die e-Tron se battery weer vol. Hy sê nou hy kan 263 km ry. Ná 84,1 km teen 41,1 kWh/100 km wys sy reikafstand 146 km toe ons by die huis stilhou. Ek is heel beïndruk.

So die antwoord is eenvoudig. Indien jy ʼn EV het, en sy gewone reikafstand is om en by 330 km, kan jy waarskynlik so 200 km van die huis af sleep met jou EV – maar dan gaan hy seker net so by die 20 km reikafstand hê om ʼn laaier te soek. So 18 km van Buffelspoort af in Rustenburg is daar vier groot DC-laaiers wat die e-Tron in so 90 minute sal vol laai – net genoeg tyd vir ʼn Wimpy-ontbyt.

(Foto: Brendon Staniforth)

My redenasie is soos volg: Almal dink EV’s gaan glad nie werk in SA nie. Mens sal verbaas wees. Ek’t nou die afgelope tyd vier EV’s op toets gehad. Naby my huis is ʼn 50 kW-laaier, en naby my kantoor ook. Daar is ʼn app Plugshare wat vir mens al die laaiers wys, sê of dit aanlyn is en of iemand reeds daar laai. ʼn Klein kopskuif is al wat nodig is. Ons het lank terug ʼn e-Golf vir twee weke gehad. Ek het vir Volkswagen gesmeek om daai kar aan my te verkoop vir my vrou – maar dis drie karre wat hier rondploeter en hulle behoort aan Duitsland en mag nie verkoop word nie.

Sewe van ons motorhandelsmerke in Suid-Afrika vervaardig voertuie hier. BMW, Nissan, Ford, Toyota, Mercedes-Benz, Volkswagen en Isuzu. Almal van hulle, behalwe Isuzu, is besig met onderhandelings vir die volgende voertuie wat oor vyf tot tien jaar hier vervaardig sal word. Al daai fabrieke voer uit na Europa. Al daai fabrieke sal die een of ander vorm van EV moet vervaardig. Dalk nie noodwendig ʼn BEV nie, maar wel hibriede dryfstelsels van die een of ander soort.

In die volgende vyf jaar sal ons ʼn enorme versnelling sien in EV’s wat hier beskikbaar is. Hulle sal goedkoper word, die regering is glo op die hond se stert met wetgewing wat die belasting op EV’s bietjie minder maak. Die infrastruktuur is reeds groter as wat mens dink, en sal nou teen ʼn vinniger tempo groei met Audi en Mercedes-Benz wat besig is om hul netwerke te ontwikkel.

Dink só daaraan – Meneer Benz het nie sy planne vir die eerste kar op ys gesit omdat daar geen vulstasie op elke hoek was nie. En kyk waar is ons nou.

Die e-Tron-reeks lyk só:

ModelKragReikafstandPrys
Audi e-Tron 55 Quattro300 kW/664 Nm369 – 440 kmR1 745 000
Audi e-Tron 55 Quattro Advanced300 kW/664 Nm369 – 440 kmR1 990 000
Audi e-Tron 55 Quattro S-line300 kW/664 Nm369 – 440 kmR2 045 000
Audi e-Tron Sportback 55 quattro S-Line300 kW/664 Nm369 – 440 kmR2 115 000
Audi e-Tron 55 S Sportback quattro370 kW/973 Nm347 – 378 kmR2 425 000

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg en 8 jaar/160 000 km-batterywaarborg, asook ʼn 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragSleepkapasiteitReikafstandPrys
Volvo XC40 P8 Recharge AWD Ultimate300 kW/660 Nm1 500 kg418 kmR1 260 000
BMW iX3 M Sport210 kW/400 Nm750 kg460 kmR1 290 000
Mercedes-Benz EQC 400 4Matic300 kW/760 Nm1 800 kg373 – 437 kmR1 679 000
BMW iX xDrive40240 kW/630 Nm2 500 kg372 – 425 kmR1 700 000
Jaguar i-Pace EV400 AWD294 kW/696 Nm0 kg470 kmR2 074 700

Ons het met die e-Tron 55 Quattro Advanced gesleep. Hy kos byna R2 miljoen. Dit sit die Mercedes-Benz EQC en BMW iX direk in sy visier – albei met ʼn sterk sleepkapasiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

vuurvliegie ·

Baie goeie artikel Brendon. Wat my bekommerd maak is dat die battery laai 90min vat en jy staan vyfde in die ry. Ver nou eers sal ek maar hou by my betroubare diesel bakkie.

Karlahari ·

En jy staan 5de in die ry en Eksdom kom met 4 ure loadshedding……nee wat.
Petrol of diesel hou Afrika aan die rol.

Kirst ·

Dis duurder as ‘n LC300. Ja, die koste per km is baie laer, maar dan koop ek eerder ‘n tweedehandse Prado vir ‘n derde van die prys en gooi 25 000km se petrol in met die kleingeld. Ons sleep elke jaar Kruger wildtuin toe van die Wes-Kaap af en volgende jaar Kgalagadi toe ook. As ek by 95km/h GPS spoed hou, kry ek 7,3km/l wanneer ek sleep met my 3l Everest.

Kirst ·

Jammer vir my tikfout – dit moes 250 000km se petrol gewees het!

Jacob ·

Die groot vraag wat almal vermy is, wat gaan dit kos om die batterypak te vervang? Blykbaar het dit ‘n leeftyd van sowat 80 000 km.

Die tweede vraag is, is daar ‘n plan om die batterypakke wat uitgedien is, omgewingsvriendelik te herwin of gaan dit op ‘n stortingsterrein beland waar dit uiteindelik grondwater sal besoedel?

Derdens, is die koolstofvoetspoor van elektriese voertuie laer as die van binnebrand enjins? Volgens sommige bronne is die antwoord nee as daar gekyk word na mynbedrywighede ens wat nodig is vir die vervaardiging van die voertuie.

Kan iemand asb lig werp hierop?

Anonymouse ·

Ek stem. Dit sal ‘n baie interessante artikel wees om te lees.

Laksman ·

Dit behoort ja, maar ek is nie 100% oortuig dat dit die hele waarheid gaan weergee nie? Daar is “huge” besighede en name agter die dryf van dit.

Duck ·

en moet nie die koolstof voetspoor vergeet wat krag sentrales laat om jou ou batterytjies vol te laai nie.

Karlahari ·

En die onomkeerbare skade wat die steenkool myne aan die omgewing veroorsaak

Duck ·

Met loadshedding ook, nee wat, jy ry maar met jou wasmasjien engin, ek bly maar by petrol en diesel…dankie maar nee dankie. En dan moet jy nog elke paar jaar ‘n heel nuwe bank batterye aanskaf. Wonder waar DAARDIE geld vandaan kom?

VaalDonkie ·

As ek ‘n fris elektrise kar kon bekostig, sou ek graag een wou koop. Daai oombliklike wringkrag roep my.

Hendrik ·

Dit neem ‘n Tesla motor tot 80% laai 32 minute en tot 100% in een uur en dit is met die 57kWh battery. Die afstand is dan 160 km wat gery kan word. Vol battery sal jou ‘n afstand gee van 320km.

Barend ·

My pa het lank terug die rit van Welkom na George oor ‘n paar dae gedoen. Miskien kan dit werk as karavaanparke onderweg ‘n EV voertuig kan laai.

Manie ·

Ek koop eerder ‘n demo petrol of diesel bakkie teen die helfte van die prys. Vir die verskil in prys kan ek petrol of diesel vir 200 000km koop @ 7km/l.

JohanR ·

Wil graag ‘n karavan trek wat ek nie het nie, maar sal eers die oor die R1000000 sal moet bymekaar kry om die Audi te koop!

Andries ·

Beslis ‘n hengse klomp geld vir Jan Alleman wat gebuk gaan onder verhoogde rentekoerse, inflasie, skoolgeld en dies meer. Sleep maar met my 2 de handse Triton en ‘n miljoen se petrolgeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.