Suzuki druk behoorlik sy stempel af

Suzuki is tans Suid-Afrika se tweede sterkste passasiersvoertuighandelsmerk wat verkope betref. Suzuki het in Februarie ʼn allemintige 5 221 voertuie plaaslik van die hand gesit, bitter naby aan Volkswagen se 4 898 in die derde plek.

Die puik Swift is Suzuki se bes presterende model en indien iemand my vra vir bekostigbare wiele, is my antwoord amper altyd ʼn Suzuki Swift 1.2 GLX. By die Tokyo Mobility Show in Japan het ons die jongste Swift onder oë gehad. Hy lyk só:

Ons huidige Swifts kom uit Indië se Maruti Suzuki-fabriek. Dit is om verskeie redes baie goedkoper vir Suid-Afrika om uit Indië in te voer– een rede is die wisselkoers en tweedens die verskeping omdat dit baie nader is. Ons kry egter nog die Swift Sport uit die Japannese fabrieke.

Ons sal in die vierde kwartaal van vanjaar die nuwe Swift op eie bodem kry. Ons Swift sal in die Maruti-fabriek vervaardig word. Terwyl daar waarskynlik ʼn 1.0-driesilinderpetrol- hibriede model in Japan beskikbaar sal wees, dink ek die meer pryssensitiewe markte soos Suid-Afrika en Indië sal vasklou aan die huidige 1.2-viersilinder. Om natuurlik nie te praat van die Swift Sport-blitsbuks wat ʼn wyle ná die gewone Swift sy buiging sal maak nie.

Suzuki het ons verder bederf deur ons Hamamatsu toe te neem. Dit is die geboorteplek van Suzuki as handelsmerk. ʼn Jong Suzuki het daar vir sy ma ʼn weefmasjien ontwikkel. Soos met talle Japannese vervaardigers het Suzuki ná die oorlog sy vindingrykheid gebruik om allerhande produkte te vervaardig – grootliks motorkarre, bootenjins en motorfietse.

Ons het Suzuki as handelsmerk leer ken vir sy klein, eerlike rygoed sonder foefies. Wanneer ʼn mens jou in Japan bevind, maak dit alles sin. Die paaie is soms baie smal. Tokio is spesifiek uitgelê om die motorkar te vervreem – en die resultate is fantasties. Tokio is die grootste stad waarin ek my al ooit bevind het, en beslis ook die een met die skoonste lug. Van Japan is slegs 33% van die land se oppervlak bewoonbaar. Die res is berge. Daarom werk hulle uiters spaarsamig met hul spasie.

Nie ver van Hamamatsu nie, is een van Suzuki se fabrieke. Die Kosai-fabriek is verantwoordelik vir vier modelle. Drie van die modelle is JDM (Japanese Domestic Market) Kei-karretjies. ʼn Kei-kar is ʼn belastingkorting wat uitgedink is deur die regering. Die regulasie sê ʼn kei-kar is korter as 3,4 m, met ʼn maksimum hoogte van 2 m, en smaller as 1,48 m. Sy enjin mag ook nie groter as 660 cc wees nie. Die ander model is ʼn gunsteling op eie bodem… die Jimny! Die Jimny word juis in dié fabriek vervaardig omdat daar twee modelle is – die een wat ons ken, die Japannese noem hom die Jimny Sierra, en hul eie model – wat slegs Jimny genoem word. Daai model het nie die groot swart wielboë nie – en ʼn 660 cc-enjin. Die Jimny is ʼn Kei-kar!

Soos ons deur Japan toer, begin ek ʼn paar dinge besef. Die weefsel van Suzuki se karakter is ʼn spieëlbeeld van elemente in Japan. Eerlik, eenvoudig en die beste weergawe van ʼn ding word bereik deur die Kaizen-beginsel. Kaizen is konstante verbetering – bietjie vir bietjie voortdurend. Suzuki as handelsmerk, van die grootbaas tot die ontvangsdame, is lekker mense. Hul neem hulself nie té ernstig op nie – en ek glo dis daarom dat Suzuki só puik presteer in Suid-Afrika. Hulle is soos Suid-Afrikaners – net lekker!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ProPatria ·

As jy die Suzuki Toyota’s gaan by reken, is Toyota se mark in gevaar.

Piet 6 ·

Ek vertou nie VW se verkoopsyfers nie. Een agentskap het tot 40 demostrasie Polo Vivo’s, om nie eers te praat van die ander modelle soos die Polo’s, T-Cross en andere in nie.

Duck ·

Ek weet nou nie hoe veilig die Suzuki’s is nie maar ek sal glad nie omgee om een te besit nie. Ongelukkig is ek te oud om nou nog skuld te loop maak (pensionaris) en moet maar my ou karretjie van 2007 ry wat nou nog betroubaar is. Eendag is eendag…..

koos10 ·

Ek is ‘n werklike Suzuki aanhanger, maar die nuwe Swift lyk vir my te sag op die oog. Ek dink die swift se karakter gaan met die een getoets word, afhangende sy prys.

Duck, as Toyota Suzuki voertuie onder hulle eie naam “brand” en verkoop, hoef jy glad nie bekommerd te wees oor hulle veiligheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.