Triumph se Tiger Sport 660

Die akteur Daniel Radcliffe van Harry Potter‑faam, het ’n slinkse idee gekry om fotograwe te vermy tydens sy verhoogoptredes. Elke aand na die vertoning het Daniel presies dieselfde uitrusting gedra sodat die foto’s na ’n week geen waarde sou hê nie, want hul lyk almal dieselfde.

Triumph het ’n soortgelyke ding gedoen met sy nuwe Tiger Sport 660- en 1200 Explorer-motorfiets. Tydens die toetstydperk waar die motorfietse in kamoeflering rondry, het Triumph self die foto’s aan die wêreld gewys sodat niemand munt kon slaan uit steelfoto’s nie. Knap gedaan, Triumph!

Triumph het onlangs die Trident bekendgestel, wat gemik was op nuwe ryers. Die fiets se prys het ook aangedui dat hierdie Triumph se intreevlakfiets is. Met die driesilinder‑, 660 cc‑enjin wat 81 perdekrag ontwikkel, is die Trident ’n lewendige kalant. Nou het Triumph dieselfde enjin in ’n meer avontuur-tipe fiets ingebou. Die Triumph Tiger Sport 660 is pas bekendgestel en lyk na ’n goeie mededinger in die middelgewigklas.

Triumph se Tiger-modelle is by uitstek avontuurfietse. Die Tiger Sport 660 is egter meer ’n padfiets wat net lyk soos ’n avontuurfiets. ’n Sport-avontuurfiets as jy wil. Fietse soos Aprilia se Tuono 660, Kawasaki se Versys en Yamaha se Tracer is die Sport se direkte kompetisie. Alhoewel jy regopper op die fiets sit, is die klem meer op die sport as op die avontuur.

Die Tiger Sport 660 deel natuurlik baie onderdele met die Trident. Die verskil lê egter in die stilering. Waar die Trident ’n ronde hooflig het, het die Sport skerp bakpanele en twee hoofligte. Hy het ook’n verstelbare windskerm, iets wat heeltemal ontbreek by die Trident.

Die Tiger Sport is bedoel om as ’n toerfiets aangewend te word; Triumph het dus baie aandag aan gemak van die ryer en die passasier gegee. Die brandstoftenk bied 17 liter, wat die fiets ’n goeie reikafstand behoort te gee. Hegstukke vir bagasie is deel van die ontwerp sodat onooglike bagasierame nie afbreuk doen aan die lyne van die fiets nie. Triumph het ook ’n hele katalogus vol bybehore om hom in ’n volwaardige toerfiets te omskep.

Hierdie fiets behoort vroeg in volgende jaar plaaslik beskikbaar te wees. Te oordeel aan die Trident se verrigting behoort hierdie fiets genoeg woema en karakter te hê!

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.