Uitdagings, slaggate met koop van tweedehandse voertuie

(Foto: Pixabay)

Om ’n tweedehandse voertuig aan te koop is vir baie padgebruikers aan die orde van die dag. Dit is ligter op die beursie en baie mense sien nie die nut daarin om ’n reusebedrag vir ’n splinternuwe motor te betaal nie.

Daar is egter uitdagings wat met die koop van tweedehandse voertuie gepaard gaan.

Maroela Media het met ons eie motorjoernalis, Brendon Staniforth, gesels om meer te wete te kom oor die koop van tweedehandse motors.

  • Die rekord van die motor is uiters noodsaaklik. ’n Kode-2-voertuig is een wat al voorheen deur iemand anders bestuur is. ’n Kode-3-voertuig is egter een wat al deur ’n ongeluk of twee was en herbou moes word. Dié motors is gewoonlik in ’n stadium gederegistreer, en daar is meer risiko’s aan só ’n ryding verbonde.
  • Staniforth verduidelik dat mense se beursies die grootste prioriteit word en dit is een van die grootste foute wat begaan word wanneer ’n tweedehandse voertuig aangekoop word. Volgens Staniforth is die beste tweedehandse voertuie dié met die minste kilometers wat nog binne die waarborgperiode is, waar daar ’n opsie vir padbystand is en waar die diensplan nog aktief is. “Motors wat jou niks kos nie, maar byvoorbeeld in 1992 vervaardig is en al deur ’n paar stampe en stote is, gaan jou uiteindelik meer kos in terme van herstelwerk.”
  • Een van die belangrikste dinge wat ’n nuwe tweedehandsemotorbestuurder moet weet, is dat navorsing oor finansiering nie te versmaai is nie. Staniforth benadruk dat daar nie iets soos te veel kwotasies is nie. “Weet presies wat jou opsies is, voordat jy ’n besluit neem,” sê hy.
  • Dis ook belangrik dat die besluit nie binne ’n dag geneem moet word nie. Staniforth stel voor dat ’n kortlys van die bes moontlike opsies gemaak word – waarna elkeen van hierdie opsies vir ’n toetsrit geneem word. “Dit sal jou keuse soveel makliker maak, aangesien elkeen gemaklik in sy of haar eie ryding moet wees,” benadruk hy.
  • Verlengde waarborge mag jou dalk net geld kos in plaas van geld spaar. “Daar is geen waarborg dat jy van dié waarborg gebruik gaan maak nie, want dit is swaar op die beursie en dit dek nie altyd alles wat jy gedek wil hê nie.”
  • Maak seker jou motorversekering is klaar uitgesorteer wanneer die voertuig uiteindelik gehaal moet word. “Baie mense maak die fout om die versekering te wil aanpak nadat die motor reeds in die motorhuis staan. Die oomblik dat jy egter in die voertuig klim en daarmee uit die handelaar se fasiliteit ry, is jy aanspreeklik vir die versekering.” Dit maak nie saak of jy pas die motor gekoop het nie – as jy in ’n ongeluk betrokke raak, gaan jy daarvoor moet opdok indien jy nie versekering op die voertuig uitgeneem het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AW ·

Het n 2011, Ford Fiesta, trend, nou so 88 700 km, probeer my beste om na die kar om tesien, voertuie word jaar na jaar duurder !!!

VaalDonkie ·

Toe ek my Subaru Forester gekoop het, het ek R11000 ekstra betaal vir ‘n twee jaar verlengde waarborg. Was nogal handig toe hy R38000 se herstelwerk nodig gehad het. Dit was alles gedek.

Annamarie ·

Het n tweedehandse Dubbel kajuit bakkie gekoop, as n Kode 2. Na n paar maande, probleme, en toe vind ons uit dis eintlik n Kode 3 ( was in n ongeluk en is afgeskryf) Nou hoe op aarde het die verkoopsman daardie kode 3 n kode 2 gekry.
Ergste van alles, dan verkondig hy, hy is n Christen!!!! Rerig????

Johan ·

Hierdie is nie net wanvoorstelling nie, dis nader aan bedrog! Die Ombud sal geen simpatie met so handelaar he nie en jy sal die transaksie nietig verklaar kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.