Tot nou was die Toyota Land Cruiser Prado aangedryf deur Toyota se betroubare 3.0 D-4D-enjin. Die EU2-enjin het sy ouderdom begin wys.
Toyota het so pas die Prado se enjin vervang met die Hilux se splinternuwe 2.8 GD-6-viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 150 kW en 500 Nm teenoor die vorige model se 120 kW en 400 Nm, ʼn merkwaardige verhoging van 30 kW en 100 Nm… dit is amper soveel as wat ʼn hele Toyota Aygo se enjin in totaal bied!
Brandstofverbruik sal merkwaardig verbeter vanweë die nuwe 6-spoed‑ outomatiese ratkas. Die nuwe 2.8 GD-6 met sy balanseringstaaf is uiters stil met bitter min vibrasie. Dit sal die luukse ritgehalte van die Prado perfek pas.
Die Prado met sy nuwe enjin en ratkas is nou gerat om 3 000 kg te sleep. Om dinge binne die kajuit lekker te hou, is daar ʼn nuwe 9”-raakskerm-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto sowel as Toyota se gratis 15 GB Wi-Fi in elke nuwe voertuig.
Met ʼn beweerde brandstofverbruiksyfer van 7,9 ℓ/100 km in die 2.8-diesel sal ʼn mens moontlik 1 898 km kan ry op die Prado se 150 ℓ-brandstoftenk… dit is nie te versmaai nie. Die 4.0 V6-enjin bly onveranderd en behou sy 6-spoed‑ outomatiese ratkas.
Ek het al heelwat tyd met ʼn Prado deurgebring by Rust de Winter, Atlantis en in en om Pretoria. Dit bly een van my gunstelinge en ek kan nie wag om my hande op die nuwe model te kry nie.
Die reeks lyk nou só:
Toyota Land Cruiser Prado 2.8 TX | R939 900 |
Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX | R1 029 000 |
Toyota Land Cruiser Prado 2.8 VX | R1 060 600 |
Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX-L | R1 072 600 |
Toyota Land Cruiser Prado 2.8 VX-L | R1 105 800 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9-dienste-diensplan.
Hoog tyd!