Verbruikersake: Jou versekeraar moet weet van jou saamryklub

motorsleutels

(Argieffoto)

Met petrol wat so duur raak en mense wat terugkeer kantoor toe nadat hulle van die huis af gewerk het, begin verbruikers nou agterkom dat hul ritte werk toe en terug ʼn groot gat uit hul begrotings ruk. ʼn Saamryklub kan wel help om hierdie las te verlig, maar daar kan probleme wees met jou versekeraar indien jy dit nie aanmeld dat jy jou motor vir ʼn saamryklub gebruik nie. Ina Opperman verduidelik wat die vereistes is indien jy lid word van ʼn saamryklub.

Saamryklubs word al lank aangemoedig om te sorg dat minder mense alleen in hul motors werk toe ry om uitlaatgasse van motors te verminder, maar nou raak dit ook ʼn belangrike manier om petrol te spaar en jou beursie ʼn bietjie voller te hou.

Dit is egter belangrik om te onthou dat jou versekeraar moet weet dat jy lid is van ʼn saamryklub om te verseker daar is nie probleme wanneer jy in ʼn ongeluk betrokke is en daarvoor wil eis nie. Daar is selfs apps wat jou help om mense te kry om aan jou saamryklub te behoort.

Verbruikers betaal nou meer as R21 vir ʼn liter petrol en selfs al bly jy naby jou werkplek, gaan jou ritte werk toe en terug nou baie duur wees. Met hoë kospryse, die prys van elektrisiteit en nog verhogings in die petrolprys in die vooruitsig, kan ʼn saamryklub baie help om jou begroting te laat klop.

Wat is ʼn saamryklub?

Versekeraars beskou ʼn ooreenkoms waar twee of meer mense, wat almal hul eie motors het, beurte maak om saam te ry werk toe sonder enige vergoeding as ʼn saamryklub. Dit is egter nie so maklik as om net ʼn ooreenkoms aan te gaan met jou kollegas en hulle die volgende oggend sesuur op te laai nie.

Dit is belangrik om te weet wat die terme en voorwaardes is wat jou versekeringsdekking op jou motor kan raak, sodat jy nie nodig het om by te dra of alles te betaal as jou versekeraar ʼn deel van jou eis of die hele eis afwys nie, sê Marius Steyn van Santam.

Soorte saamryklubs

Volgens Steyn moet jy eerstens besluit watter soort saamryklub jy wil begin:

  • ʼn Saamryklub met ʼn bepaalde bestuurder, met ʼn aangewese bestuurder en motor, waar passasiers maandeliks of weekliks bydra vir petrol, parkering en onderhoud.
  • ʼn Saamryklub waar almal ʼn beurt kry om daagliks, weekliks of maandeliks self met hul eie motors te ry. In hierdie geval word geld nie oorhandig nie omdat jy betaal wanneer jy bestuur en indien jy dan ʼn passasier is, is die rit gratis. Elke bestuurder is dan verantwoordelik vir sy eie versekering en onderhoudskoste.
  • ʼn Saamryklub as ʼn ekstra werk, waar jy jou eie motor gebruik om geld te verdien wat sal betaal vir ritte in die toekoms, deur mense wat jy nie ken nie op te laai vir kontant. Jou doel moet egter wees om nie ʼn wins te maak nie.
  • ʼn Saamryklub wat deur jou werkgewer gestig word om saamryklubs aan te moedig waar julle ʼn maatskappyvoertuig gebruik en betaal vir die rit om die petrol, versekering en onderhoudskoste te dek.

Waarom moet jou versekeraar weet van jou saamryklub?

Die versekeringsimplikasies vir al hierdie opsies is dat jou passasiers moet weet hulle kan nie van jou versekering eis indien hulle wil eis vir beserings in ʼn ongeluk terwyl hulle saam met jou gery het nie. Hulle moet eis van die Padongelukkefonds.

Volgens Steyn is dit belangrik om jou versekeraar op die hoogte te hou van enige veranderinge in jou gewone bestuursreëlings, aangesien dit jou bybetaling en uitbetalings kan raak. Indien jy, byvoorbeeld, nie aangedui is as die gereelde bestuurder van die motor nie, maar dit die meeste gebruik, kan dit ʼn negatiewe uitwerking hê op jou eis weens bykomende bybetalings en premies.

Indien mense vir die rit betaal, kan jou versekeraar dit beskou as ʼn handelstransaksie, veral as die betaling meer is as wat nodig is om die petrol, onderhoud en parkering te dek. In hierdie geval kan jy moontlik sakeversekering nodig hê en selfs ʼn permit om kinders of meer as 12 mense op ʼn slag te vervoer.

Belastingimplikasies

Daar kan ook belastingimplikasies wees indien jy ʼn wins maak en daarom moet jy verseker dat die bedrag nie die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se vergoeding vir ʼn reistoelaag oorskry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Hierbo word die woord “terme” gebruik. Dit moet “bepalings” wees. Terme is ‘n direkte vertaling van die Engelse “terms”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.