VW se jongste sportnuts gaan die koppe laat draai  

Volkswagen se jongste toevoeging tot sy sportnuts-aanbod beloof om die koppe te laat draai met sy sportiewe koepee-agtige voorkoms.

Die nuwe Volkswagen Taigo lê tussen die T-Cross en T-Roc. Meer van ʼn sportnuts wil kruismodel wees as ʼn luikrug. Die ontwerp is uniek en ek dink dis die hele punt. Waar ʼn T-Cross moontlik ʼn bietjie alledaags kan voorkom, is die Taigo meer uniek.

Die binneruim is uiters gemaklik en die bougehalte puik. Die ergonomie van ʼn Volkswagen is altyd lekker bekend, so ʼn mens is vinnig gemaklik. Die Taigo het ʼn sterk spesifikasievlak met digitale instrumente, ʼn lekker groot raakskerm met Android Auto en Apple CarPlay, klimaatbeheer, verhitte sitplekke, Beats-luidsprekers as ʼn opsie – ʼn heel luukse affêre.

Onder die kap sit Volkswagen se gewilde 1.0-driesilinderturbopetrolenjin. Hy bied 85 kW en 200 Nm. Die enjin gaan gepaard met Volkswagen se 7-spoed DSG-dubbelkoppelaar-outomatiese ratkas. Aanvanklik was ons erg gefrustreerd met ʼn traagheid in die dryfstelsel maar toe was die ratkas die heeltyd in ʼn Eco-rymodus. Nadat ek “Normal” gekies het, was die enjin- en ratkaskalibrasie sommer dadelik beter.

Die ritgehalte op die Taigo is puik. Volkswagen het ʼn fantastiese balans getref tussen soepel ritgehalte, bakrol en padhouvermoë. Aan die veiligheidskant spog die Taigo met ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer.

Dit is bitter maklik om die Volkswagen Taigo op te som. Dit is ʼn mooi buksie, en VW as handelsmerk is uiters gewild. Ek wil graag weer tyd met die ratkas deurbring om te sien of die kalibrasie wel in die kol is, maar ek glo nie ʼn mens kan ʼn fout maak hier nie.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Taigo 1.0TSI LifeR429 900
Volkswagen Taigo 1.0TSI StyleR464 100
Volkswagen Taigo 1.0TSI R-LineR486 000

Die reeks word gedek deur ʼn drie jaar/120 000 km-waarborg en drie jaar/45 000 km-diensplan.

Ons sal as ons weer tyd met die Taigo deurgebring het, hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.