Waarde of weelde?

Dit is eintlik waansin dat ek aan ʼn blitsbuks dink, en wonder of sy R1 miljoen-prysetiket goeie waarde bied. Sjoe! Maar dit doen eintlik, as ʼn mens hom met sy mededingers vergelyk. Die voertuig waaraan ek dink, is Volkswagen se warmste Tiguan… die R. ʼn C-segment‑sportnutsvoertuig met ʼn bomklapper onder die kap, vierwielaandrywing en padhouvermoë wat skrik vir niks nie.

Ek gaan hom hier vergelyk met sy ouer neef, Audi se SQ5.

Ontwerp:

Audi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
4/54,5/5

Die twee, al deel hulle ʼn platform, verskil wel heelwat van mekaar. Die Audi is netjies, maar baie konserwatief gestileer. Vir ʼn S-model wat eintlik sportiewe geloofsbriewe op sy mou moet dra – té konserwatief. Die Tiguan R is ʼn blitsbuks – en hy wys dit. Lekker groot wiele, vier uitlaatpype en net die regte aksente hier en daar dat dit lyk of hy sy naellooptekkies aan het.

Binneruim:

Audi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
4/54,5/5

Hier slaan die Tiguan ʼn ses. Albei voertuie beskik oor onweerlegbare bougehalte, maar die Tiguan het meer spesifikasies en speelgoed by teen die prys. Die Audi se leer op die sitplekke is wel lekkerder as die Volksie s’n – maar die Tiguan se ontwerp en binneruim pas perfek by sy karakter. Die Volksie verloor ʼn halwe punt vir daai verduiwelse raaksensitiewe knoppies wat nie knoppies is nie en self aan- en afskakel. ʼn Mens se palm skakel alewig die stuurwielverwarmer aan. Ek hou nie van warm hande nie.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Audi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
4/55/5

Dié is ʼn moeilike afdeling. Ek is gaande oor die V6-petrolenjin in die Q5 – hy is romerig, én sterk – maar hy gaan gepaard met ʼn wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. Die Tiguan R woeker met ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin, en Volkswagen se fantastiese 7-spoed-dubbelkoppelaarouto. Dié ratkas het lanseerbeheer. Dís hoekom die Tiguan vinniger is tot 100 km/h as die Audi, selfs met ʼn bietjie minder krag. Die Tiguan spog met 235 kW/400 Nm. Hy kan van stilstand 100 km/h haal in 5,1 sekondes en is beperk tot 250 km/h. Die SQ5 pronk met 260 kW en 500 Nm. Hy is ook beperk tot 250 km/h en haal 100 km/h in ʼn skrams stadiger 5,4 sekondes.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Audi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
4,5/54/5

In dié afdeling kan die twee voertuie amper nie geskei word nie. Al waar die Audi ʼn halwe punt bykry, is slegs op ritgehalte. Bygesê, ons Tiguan was op 21”-wiele, en die Audi op 20”-wiele. Verder spog albei met fantastiese padhouvermoë en ʼn enorme lys standaardveiligheidstelsels. Die Audi bied twee meer lugsakke opsioneel beskikbaar vir ʼn totaal van agt – maar ses is standaard.

Opsomming:

Audi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
16,5/2018/20

Dit is moeilik om die twee op te som. Die Tiguan is nie noodwendig ʼn beter voertuig as die Audi nie, maar kry meer punte omdat hy beter vaar in die segment waar die twee sit. Hy is effens vinniger en wys sy karakter beter. Die Tiguan is ook R250 000 goedkoper as die stadiger Audi SQ6.

Die twee vergelyk só:

ModelAudi SQ5 TFSI QuattroVolkswagen Tiguan R
Krag260 kW/500 Nm235 kW/400 Nm
Verbruik9,2 ℓ/100 km8,8 ℓ/100 km
0‑100 km/h5,4 sek.5,1 sek.
Topspoed250 km/h250 km/h
Lugsakke66
Waarborg en diensplan1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

PrysR1 278 500R1 014 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.