Watter elektriese Mercedes EQ pas waar?

Mercedes-Benz EQA

Ons het die afgelope jaar met elke elektriese Mercedes-Benz gery wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is. Soos nog altyd die geval, is daar klasnommers. Dié klasnommers pas by die binnebrandmodelle wat hulle naaste aan is, byvoorbeeld die GLA, Merc se kleinste sportnutsbuksie, se elektriese eweknie is ʼn EQA. Die GLB-sewesitplek se elektriese eweknie is die EQB.

Kom ons kyk watter een pas waar. Die eerlikste EQ-Merc in die reeks is die EQA. Ek dink dit is hier waar die grootste groei in elektriese voertuie sal kom – kleiner stadsmotortjies met net genoeg krag, ʼn lekker battery en billike reikafstand. Ongelukkig vir Suid-Afrikaners is ons regering nog té gulsig en wil hy nie die wetgewing en belasting op elektriese voertuie verander nie; dus bly hulle werklik duur om aan te skaf.

Die EQA het sitplek vir vyf en het 140 kW onder die kap. Die kajuit voel lekker ruim, maar die materiale effens hard of plastiekerig. Die EQA toer lieflik stil en bied ʼn aanvaarbare reikafstand van 429 km. Hy kos R1 176 350.

Ek dink sy groter boetie, die EQB, is ʼn baie slim opsie, veral vir ʼn mamma wat moontlik tuis werk en elke dag ʼn hele sokkerspan by die skool moet aflaai. Die EQB se verpakking is slim en dis nie ʼn enorme ryding nie, maar bied sewe sitplekke. Die EQB bied 215 kW en ʼn reikafstand van 423 km. Hy kos R1 381 250.

Volgende aan die beurt is die pragtige EQS-sedan. Dié voertuig bied die grootste reikafstand van enige elektriese voertuig wat ek al getoets het – 602 km! Die binneruim is pragtig en die ritgehalte presies soos dit in ʼn S-klas hoort. Die EQS bied 245 kW en kos R2 827 005.

Dan het ons my gunsteling en die model waarop ek my geld sou spandeer – Mercedes-AMG se EQE 43. ʼn Pragtige ontwerp en ʼn lieflike binneruim. Dié EQ het ook ʼn paar rissies geëet in die AMG-restaurant en bied 350 kW en 858 Nm. Van 0-100 km/h neem 4,2 sekondes en hy sal 210 km/h voluit snol. Sy reikafstand is 506 km en hy kos R2 112 950.

Die laaste EQ waarmee ek gery het, sukkel ek mee. Daar is twee EQS-modelle, ʼn sedan en ʼn sportnutsvoertuig. Hulle moes ʼn ander naam daar uitgedink het. Die EQS-sportnutsvoertuig is indrukwekkend, maar te groot en te swaar; presies wat ʼn elektriese voertuig nie veronderstel is om te wees nie. Hy beskik oor 265 kW en 800 Nm en ʼn reikafstand van 616 km; nie sleg nie, maar sy prys op R2 731 951 laat ʼn bietjie die hare rys.

Ek dink die punt hier is dat daar ʼn elektriese Mercedes-Benz-opsie vir elke behoefte is. Dié motors verskil ook amper geensins van hul binnebrandboeties nie; net die aandrywing, maar die skerms en daaglikse funksies werk dieselfde. Ek hou daarvan. ʼn Mens kan dus dalk ʼn gewone GLE400d in die oprit sit as die gesinsmotor, en vir lekker lang vakansies by die see, en ʼn EQA vir in die drop rondkerjakker.

Ek hoor ook almal gil en huil oor laai-infrastruktuur. Indien jy jou eie elektriese voertuig koop, is infrastruktuur glad nie ʼn probleem nie. Elke elektriese voertuig word verkoop met ʼn laaier wat by jou huis geïnstalleer word:  ʼn 7 kW-laaier wat selfs die EQS van leeg af sal kan laai in 17 ure. Dis nou indien jy elke dag 602 km ry. Andersins word die battery elke dag ʼn bietjie opgetop, en elke oggend as jy in die motor klim, is hy op 100% met ʼn 602 km-reikafstand. Slegs as jy werklik ver ry, moet daar beplan word.

Nee, ek glo beslis nie dat elektriese voertuie die enigste toekoms is nie; ek dink ʼn 20%-markaandeel in Suid-Afrika sal in die kol wees. In Europa het Brittanje reeds begin terugdruk en gesê dat hy nie teen 2030 sal reg wees om slegs elektriese voertuie te hê nie, en die sperdatum tot 2035 uitgeskuif. Ek dink dit is egter net die begin en ons gaan nog vir baie jare binnebrandopsies beskikbaar hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonkprop ·

Ek sukkel nog om die bohaai oor elektriese motors te verstaan. Hulle reikafstand is onder gemiddeld, jy moet orals waar jy kom kyk of hulle laaipunte het, van hulle ontwerpe is van die lelikste om hulle futuristies te laat lyk en dan is hulle nog so duur ook. Hibriede voertuie maak meer sin, maar eerlikwaar dink ek het elektriese voertuie nog ‘n lang pad om te gaan voordat ek opgewonde sal raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.