Welkom terug, Nissan!

Maroela Media was bevoorreg om vroeër vanjaar met die nuwe Nissan Qashqai in Stockholm te ry. Ons het met die jongste derdegenerasie-Qashqai gery, met sy ePower-dryfstelsel – werklik interessante nuwe tegnologie.

Die nuwe Qashqai is nou ook in Suid-Afrika welkom geheet. Dit is regtigwaar ʼn mooi voertuig met sy splinternuwe, moderne ontwerp. Die Nissan Qashqai het die C-kruismodel-segment in 2006 laat ontstaan en was aanvanklik die markleier, maar het mettertyd sy sprankel verloor. Ek is oortuig daarvan dat die nuwe Qashqai vir Nissan weer markaandeel kan terugwen.

Die binnekant is lekker ruim, en die materiale luuks. Bougehalte beïndruk en mens kan voel dat die Qashqai sy wortels in Europa vind. Dié Qashqai word in Nissan se Sunderland-aanleg in Engeland gebou.

Ons het tydens die bekendstelling met die reeksleidende ­­­Acenta Plus-model gery. Hy het funksionaliteit soos sitplekke wat jou masseer én wat verhit is. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en bedek met leer van goeie gehalte. Die kajuit is uiters ergonomies uitgelê en die enorme raakskerm vir die inligtingstelsel is indrukwekkend.

(Foto: Brendon Staniforth)

Onder die kap sit Nissan se 1.3-viersilinderturbo-petrolenjin. Dié enjin bied 110 kW en 250 Nm. Oorgenoeg vir dié soort voertuig. ʼn Groot verrassing kom in die vorm van Nissan se nuutste Xtronic CVT-palwisseltransmissie. Dit is loshande een van die beter CVT’s waarmee ek al gery het. Hy hou omwentelinge lekker laag en maak gebruik van die wringkrag wat die turboenjin bied om te versnel eerder as hoë omwentelinge.

Beenruimte vir agterste passasiers is heel goed, en die kattebak lekker ruim. Ek onthou die rit ietwat sagter in Europa, maar die 19″-wiele waarop ons plaaslike model ry, was effens hard gepomp. Ek sal as ons die Qashqai weer op toets kry die banddruk bietjie verlaag en kyk of dit die ferm rit verbeter.

Padhouvermoë op die nuwe Qashqai is werklik goed. Baie beter as wat enige koper in dié segment sal benodig. Aan die veiligheidskant bied die Nissan ʼn indrukwekkende veiligheidsuite. Daar is klomp lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer aan die passiewe kant. Aan die aktiewe kant, as deel van NIM (Nissan Intelligent Mobility), kom daar funksies soos baanbeheer, aanpasbare spoedkontrole, botsingwaarskuwing met noodremhulp en blindekolwaarskuwing.

Dit is baie maklik om die Qashqai op te som. Dit is ʼn mooi voertuig met ʼn lieflike binneruim. Nissan is ʼn getroue handelsmerk in Suid-Afrika met wortels hier in Pretoria waar die Navara vervaardig word. Nissan het ook nog altyd baie sterk gevaar in die jaarlikse Kinsey-verslag wat onderdele betref.

Indien jy die mark verken vir ʼn nuwe C-segment-kruismodel of sportnutsvoertuig, moet nie die Qashqai miskyk nie. Gaan toetsbestuur beslis een.

Die reeks lyk só:

Nissan Qashqai Visia handratR568 200
Nissan Qashqai Acenta XtronicR644 800
Nissan Qashqai Acenta Plus XtronicR670 600

Die reeds word gedek deur Nissan se 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan.

Die prys is effens kwaai, maar alle karre het skrikwekkend duur geraak weens wisselkoerse, mikroskyfietekorte en die wêreldwye verskepingskrisis. Ons sal vroeg in 2023 die reeksleidende ePower-model in Suid-Afrika te siene kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.