Aangrypende dokkie oor jongmense se geestesgesondheid nou in SA

Die film se amptelike plakkaat. (Foto: verskaf)

Danksy die span agter die innoverende toepassing, FYI Play It Safe, kan Suid-Afrikaanse gehore nou vir die eerste keer die bekroonde dokumentêre rolprent Connecting the Dots, wat wêreldwyd opslae maak vir die unieke blik wat dit op die geestesgesondheid van jongmense bied, kyk.

Connecting the Dots, wat in 2020 vrygestel is, is reeds by talle internasionale filmfeeste vertoon en het van oral oor lof van kritici en kykers ontvang. Die film is ʼn eerste van sy soort en bied ʼn opregte blik op jongmense van reg oor die wêreld se geestesgesondheid. Deur eksklusiewe en eerlike onderhoude met jongmense, nooi die film opvoeders, ouers, families, vriende, gemeenskappe en leiers om na die geleefde ervarings van hierdie generasie se jeug in ʼn veilige ruimte te luister.

Die rolprent se bekroonde regisseur, Noemi Weis, is self ook ʼn ma en ouma en haar werk fokus hoofsaaklik op maatskaplike kwessies wat vir vroue en kinders belangrik is.

“Daar is ʼn wêreldwye geestesgesondheidskrisis onder jongmense. Selfdood is die nommer een gesondheidsverwante doodsoorsaak vir die jeug en geestesgesondheid is hierdie generasie se grootste gesondheidskwessie. Daar is wêreldwyd ’n dringende behoefte om die stigma en skaamte om jeugdiges se geestesgesondheidstryd hok te slaan. Dit vereis meer  oop gesprekke en meer toeganklike en relevante ondersteuning.”

Volgens Rachelle Best, stigter en uitvoerende hoof van FYI Play It Safe, is die fasilitering van die vertonings van Connecting the Dots persoonlik van aard omdat sy self die ma van ʼn tienerdogter is. Haar toep is juis so ontwikkel dat dit aanlyn gesprekke en sosialemediaplatforms op ʼn kind of tiener se slimtoestelle monitor en ouers waarsku as aanlyn gesprekke gevaarlik raak of platforms met inhoud wat nie kinder- of tienervriendelik is nie, besoek word.

ʼn Aangrypende toneel in die film waar ’n jong meisie vertel hoe sy toenemend in haar kamer wegkruip omdat die mense met wie sy aanlyn gesels haar beter verstaan as die mense om haar, was volgens Best ʼn teken dat elke kind en ouer hierdie film moet sien.

“Ongelukkig het ons in 2021 ’n aansienlike aantal tienerselfmoorde oral om ons in Kaapstad ervaar. Dit het oor ’n kort tydjie gebeur en meestal in dieselfde ouderdomsgroep as my dogter. Ek het besef dat ons as ouers nie genoeg oor die jeug se geestesgesondheid praat nie en ons praat beslis nie genoeg met ons eie kinders daaroor nie.”

Cassey Chambers, operasionele bestuurder by die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag), benadruk die belangrike rol wat die dokumentêr in die lewens van ouers en jongmense kan speel. “Dit is ’n belangrike platform om gesprekke uit te nooi, om ons te inspireer om na die stemme van ons Suid-Afrikaanse jeug te luister en om oplossings te vind vir dié toenemende probleem in ons land, wat net vererger is deur die Covid-19-pandemie.”

FYI Play It Safe se vertonings van Connecting the Dots vind op 22 Februarie om 10:00 en 18:00 by die Labia‑teater in Kaapstad plaas. Kaartjies kos R120 per persoon en is nou deur Webtickets beskikbaar. Die dokumentêr word aanbeveel vir ’n gehoor van 12 jaar en ouer. Daar is ook gratis gidse in samewerking met Unicef opgestel om fasiliteerders toe te rus om verskillende teikengroepe deur die film te lei. Klik hier om dit af te laai.

Groepe, skole en organisasies kan ook ’n vertoning van Connecting the Dots bespreek – vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.