Afrikaanse fliek plaas kollig op selfmoord; boeliegedrag

Deoudoné van der Merwe vertolk die rol van Melissa Strauss in ‘Die val’. (Foto: Mareli Theron/AfriForumTV)

Ondanks die beduidende uitwerking en rimpeleffek wat afknouery en boeliegedrag op kinders en volwassenes kan hê, is dit vir talle steeds ʼn moeilike of taboe onderwerp.

Daarom het die burgerregte-organisasie AfriForum sy Teenboelie-veldtog in 2017 van stapel gestuur en sedertdien die land plat getoer om voor meer as 120 000 laer- en hoërskoolleerlinge oor dié belangrike onderwerp te praat.

Die organisasie het ook besluit om dié inisiatief se mylpaalverjaardag te vier én verdere bewusmaking oor boeliegedrag en veral selfmoord onder hoërskoolleerders te skep deur ʼn kortfliek, Die val, te maak.

Katelynn Labonté, regisseur van ‘Die val’. (Foto: Mareli Theron/AfriForumTV)

Dié fliek sal in September – wat ook selfmoordvoorkomingbewustheidsmaand is – op AfriForumTV beskikbaar wees en vertel die verhaal van die hoërskoolleerling Melissa Strauss en haar uiteenlopende struikelblokke in die hoërskool-milieu, wat boelies, liefde en akademiese druk en prestasie insluit.

“Dit is vir AfriForum nie net belangrik om op bewusmaking van boeliegedrag te fokus nie, maar ook op die uitwerking van boeliegedrag, soos depressie en dan natuurlik selfmoord. Ons wil met hierdie fliek skole en gemeenskappe help bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag en gedagtes van selfmoord hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Die draaiboek is uit die pen van Tarryn-Tanille Prinsloo, ʼn dosent in drama en rolprentstudies aan die Universiteit van Pretoria.

Prinsloo vertel dat sy deur dié rolprent se regisseur én een van haar voormalige honneursstudente, Katelynn Labonté, genader is om Melissa se verhaal te skryf en is veral deur moderne televisieprogramme soos die Netflix-reeks 13 Reasons Why asook die HBO-reeks Normal People – wat volgens haar menseverhale op ʼn eg en rou manier aanpak – geïnspireer.

“Dit is ongelooflik om saam deur hierdie proses te gaan waar die karakters as name en beskrywings op papier begin en as drie dimensionele karakters voor jou eindig,” vertel sy oor die verfilmingsproses.

Die rolverdeling sluit ʼn paar nuwe én bekende gesigte, insluitend Deoudoné van der Merwe, beter bekend as die fiktiewe kykNET-karakter Stella, asook Bertha le Roux, bekend as Emma in 7de Laan.

Van der Merwe was ook te sien in die AfriForumTV-reeks De kleine Griet waarin sy die rol van Vinkie Weilburg teenoor bekendes soos Chris Chameleon en Charlie Bouguenon vertolk het.

Die jong aktrise het aan Maroela Media vertel dat sy dit egter geniet om haar ernstige kant in Die val te wys. “Ons pak baie ernstige en swaar onderwerpe in dié rolprent aan en ek dink Melissa se karakter en die struikelblokke wat oor haar pad kom, is een waarmee baie mense kan vereenselwig.”

Bertha le Roux op die fliekstel. (Foto: Die val film/Facebook)

Van der Merwe sê verder dat hoewel sy tuisonderrig op skool ontvang het, sy die gevare en impak van boeliegedrag steeds op sosiale media raakgesien het. “My grootste droom vir dié fliek is dat mense besef hoe belangrik dit is om uit te praat, of jy nou die slagoffer of net ʼn getuie van boeliegedrag is, en ook dat jy nooit ooit alleen is nie, al voel dit vir jou so.”

Le Roux sluit by Van der Merwe aan en sê sy hoop dat ouers en onderwysers ook begrip sal hê vir die toenemende uitdagende wêreld wat jong mense moet trotseer. “Die jeug is deur ʼn rowwe tyd, veral die afgelope drie jaar. Daarom is dit belangrik dat jong mense geleer word dat hulle mag en kan uitpraat indien hulle slagoffers van boeliegedrag is én boonop geglo en gehelp sal word om dit te oorkom.”

Righard van Jaarsveld vertolk die rol van Stefan, die hoofkarakter se voormalige vriend en liefdesbelangstelling.

Deoudoné van der Merwe en Righard van Jaarsveld. (Foto: Die val film/Facebook)

Van Jaarsveld sê hy glo dis hoog tyd dat die temas van só fliek veral in Afrikaans vasgevang moet word.

“Ons almal weet van selfmoord en boelies, maar ek dink nie ʼn mens kan ooit té veel daaroor praat nie en die trefkrag is net anders as dit in iemand se eie taal vertel word.”

Hy voeg by dat die spanne voor én agter die kamera se lighartigheid en vriendelikheid die akteurs gehelp het om deur die meer uitdagende tonele te kom. “Daar was absoluut ʼn gevoel van gemak en respek op die stel en ek dink dit word in die fliek weerspieël.”

  • Bring jou kampstoel of piekniekkombers en geniet ’n vertoning van Die val onder die sterre by Hoërskool Zwartkop op Vrydag 9 September om 18:00. Toegang is gratis. Vir meer inligting besoek www.dievalfilm.co.za. Die val is van 10 September gratis op die AfriForumTV-app te sien.  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Ons kleinkind is en was nog altyd die stil kind wat eerder die vrede maker as die bakleier sal wees. Hy doen nou vir omtrent 6 maande gevegkuns met beheer, dit is ‘n praktiese kurses wat fisiese boelie teenwerk. Hy vertel my dat ‘n groter seun hom nou die dag by die skool doelbewus met die skouer wou loop het, “Oupa, toe maak ek soos ek geleer is en beweeg weg toe val die outjie oor sy eie voete”,
Ons kinders en kleinkinders het ander uitdagings as toe ons klein was, berei hulle voor op hierdie pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.