Al meer kinders sukkel met onbeheerbare gedrag

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Kindel Media/Pexels)

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Lank gelede was dit die norm en het ouers dit daagliks toegepas. Hedendaagse tendense is nou wel nie die teenoorgestelde nie, maar tog ʼn baie ander soort verstaan van hoe kinders hul behoort te gedra, oftewel hoe om kinders op te voed.

Skole en onderwysers word maklik die skuld gegee vir gebrekkige dissipline; maar hoe lyk die kind se dissipline by die ouerhuis?

Word daar hoegenaamd reëls vasgestel en duidelike riglyne gegee waarbinne die kind weet hy moet beweeg? Verstaan die kind die verskil tussen aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag? Of is die kind onbeheerbaar?

Henda van der Merwe, direkteur van Christelik Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, wys daarop dat dié kinderbeskermingsorganisasie, met meer as 30 maatskaplike werkers in sy diens, in die laaste jaar ʼn groot toename gesien het in kinders met onbeheerbare gedrag.

“Ons statistieke toon ʼn 77% toename in hierdie gevalle – wat al die grense oorskry, dit hou nie verband met een geografiese gebied, kultuurgroep of ouderdomsgroep nie.”

Wat is onbeheerbare gedrag – en wat is die oorsake wat daartoe aanleiding gee?

Kinders wat met woede reageer, ander afknou of ander fisies aanval, is buite beheer. So ook kinders wat op digitale media ander afknou. “Dit is jammer dat hierdie platforms juis ʼn bykomende manier geword het waarop mense mekaar kan aanval, en emosioneel knou. Die feit dat dit digitaal gebeur, beteken dis gesigloos, en makliker om te doen,” verduidelik sy.

Die vraag bestaan ook: watter rol speel die gebruik van gewoontevormende middels soos alkohol en dwelms in hierdie gedrag? Daggagebruik word al hoe meer algemeen – in jonger kinders. Laerskole kan getuig dat kinders selfs so jonk as tien jaar oud al daarmee kontak het.

“Die probleem word natuurlik aangevuur deur die feit dat dit al hoe makliker is om in die hande te kry. Kinders besef nie die gevaar van afhanklikheid nie. Hulle gebruik maklik iets net omdat hul maats sê dit sal hulle lekker laat voel, en net ʼn keer of twee se gebruik kan ʼn kind verslaaf maak. Alkohol, aan die ander kant, is net so verslawend en natuurlik baie makliker om in die hande te kry.

Maar wat gee aanleiding daartoe vir ʼn kind om ʼn middel te gebruik?

Kinders en tieners wat probleme met skoolwerk ervaar of sosiale probleme het, soek na antwoorde om die situasie te hanteer. So baie kere is ouers ontoeganklik of dalk selfs die oorsprong van die probleem – en die maklikste antwoord is om ʼn middel te gebruik wat die emosionele pyn, wat die kind ervaar, verdoof.

Maatskaplike werkers gaan gebuk onder ʼn lading groterwordende gevalle – en daar is ʼn tekort aan rehabilitasie en sorggeriewe, verduidelik Van der Merwe.

“Een van ons uitdagings is ouers wat weier om te glo hul kind het ʼn probleem; of dit nou dwelmverwant is of net gedragsprobleme is.

“Ouers wat min aandag aan hul kinders gee, dra ook by daartoe. As ʼn kind se emosionele tenk se vlakke goed is, sal daaglikse probleme hom nie onderkry nie – en sal hy nie geneig wees om na antwoorde te soek deur middels te gebruik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter9 ·

Ouers se skuld; Franz Kafka het gese ‘I am free that is why I am lost’ sonder vasgestelde grense is die mens (kinders) slagoffers van ‘n progresief verottende wereld sisteem.

Wielspore ·

Ons kleinseun van 8 jaar was op skool geboele, hy loop tans klas vir omtrent 1 jaar in Oosterse gevegskuns. Dit is bloot tegniek om jouself te verdedig, hy word nie meer geboelie, Bemagtig jou kind met die regte kennis en ervaring en jy maak hom ‘n wenner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.