Bela: Die mens se wet, of God s’n?

Deur Anlia Archer

Anlia Archer (Foto: Solidariteit)

Ons moet vir mekaar kan sê dat geloof ʼn emosioneel belaaide kwessie is waaroor min van ons ooit gaan saamstem. Die bedoeling met hierdie blog is geensins om vinger te wys, of om myself as woordvoerder van ʼn spesifieke groepering aan te stel nie. Dit spruit bloot uit my ervaring daarvan dat my diepe geloofsoortuigings my, as foutvatbare individu, menige male geanker het en dat ek graag dieselfde saligheid vir my kind toewens.

My dogter is vanjaar in gr. 1. Ek voel dit is ʼn nuwe hoofstuk in ons ouerskapreis en nou is ons ook uiteindelik deel van die skool se volwaardige ouerkorps. Ek neem deel aan elke insamelingsgeleentheid, en woon elke vergadering en inligtingsaand by, want in ʼn mate kan ek steeds nie glo ons is al hier nie. Soos enige ander ouer wil ek net die beste vir ons kind hê en ek staan stom van dankbaarheid en verwondering oor die voorreg wat ons het om ons kind na ʼn besonderse en uitnemende skool toe te kan stuur – ʼn openbare skool, moet ek byvoeg.

Ek is dankbaar vir die klein outjie wat skaars kan lees, maar wat met selfvertroue ʼn Bybelversie tydens ʼn ouervergadering se opening voorlees. Ek is opgewonde oor die dierbare klein dogtertjie wat so mooi, en eintlik baie diep, bid vir ons Vader se hand van beskerming oor elkeen van die kinders en hul gesinne. Ek wonder of sy verstaan wat sy bid maar ek besef, selfs al het iemand haar voorgesê en is hierdie gebedjie getrou ingeoefen soos ʼn gediggie vir die Eisteddfod, dat die saadjie geplant is en dat hierdie kind in alle waarskynlikheid die gebedjie gaan onthou.

Die aard van my werk laat my toe om byna op ʼn daaglikse basis tyd in personeelkamers en in skoolhoofde se kantore deur te bring. Dit is ook tipies dat enige skoolhoof vir ʼn buitestander gaan vertel van die suksesse wat hulle as skool bereik het. Sonder uitsondering, sê elke skoolhoof en onderwyser dan op sy of haar beurt: Dit is net deur God se genade.

Ons kan baie regstegnies raak oor die gevare van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette of soos almal dit nou al ken, die Bela-wet. Ons besef skole se taalbeleid is in gedrang en die voortbestaan van ons top- Afrikaanse skole, wat met ouers se geld befonds word, is op die spel. Verder weet ons ook dat moedertaalonderrig, in enige fase van leer, ongeëwenaar is en dat die waarde daarvan nie genoeg beklemtoon kan word nie en dat dit nou ook in gedrang is. Dit is egter die kwessie van ʼn neutrale geloofsbeleid wat my teen die bors stuit. Beoefening van geloof in skole is al vir ʼn geruime tyd in gedrang. Ons lees gereeld van aktivistiese groepe wat geloof heeltemal uit ons skole wil verwyder. Daarmee saam stipuleer die voorgestelde wysigings dat individue kan aansoek doen vir vrystelling van ʼn skool se gedragskode indien dit nie met hulle eie geloofsoortuigings strook nie. Hoewel hierdie beleid reeds toegepas word, sal die voorgestelde wetswysiging dit afdwing en sal die staat die finale seggenskap hê oor die geloofsbeleid wat ʼn skool moet volg. Ek sidder om te dink watter katastrofiese gevolge dit gaan bring.

(Foto: Pixabay)

My bekommernis hieroor is tweeledig – ek is ʼn besorgde ouer én ʼn besorgde voormalige onderwyseres. My bekommernis as ouer lê in die feit dat my kind moontlik blootgestel kan word aan idees en waardes waarvoor sy eenvoudig nie volwasse genoeg is nie. Ek gun elkeen hul plekkie onder die son, maar wil graag hê dat dieselfde aan my en my nageslag gegun moet word. Ons as ouers het ʼn doelbewuste besluit geneem om ons dogter in ʼn skool te plaas waar Christelike beginsels die fondament vorm. Ek sukkel ook om te verstaan hoe jy ʼn kind op ʼn morele en etiese wyse onderrig sonder om Christen-waardes oor te dra. Dit is deel van my menswees en van my DNS. Dit is deel van die oorgrote meerderheid van die konserwatiewe Afrikanerbevolking. Nie net dit nie, maar ek word daarvan ontneem om ʼn direkte opdrag wat deur my God aan my gegee is, na te kom.

As onderwyseres is ek bekommerd omdat geloof ʼn belangrike rol speel in die dissiplinering van kinders. Ons leer hulle wat reg en verkeerd is en dat jy jou medemens moet liefhê soos jouself. Dit herinner kinders aan hulle eie moraliteit en dat jy eties moet omgaan in jou doen en late. Hierdie voorgestelde wetswysiging gaan onderwysers nog meer aan bande lê as dit kom by die handhawing van dissipline. Die geloofsbeleid by ʼn skool moedig ʼn behoort-gevoel aan, dit moedig gemeenskapsbetrokkenheid aan, dit moedig respek vir ander en ʼn karakter van nederigheid en integriteit aan – dié dinge wat in die hedendaagse samelewing vir seker meer benodig word. Dit dien inderdaad as morele kompas en vorm die stewige fondament wat ons as opvoedkundiges kan gebruik om te bepaal of ons besluite geregverdig is.

Hoewel dit nie deel is van die formele kurrikulum soos in die dae van ouds nie, word Bybelstories steeds by die formele skoolwerk ingewerk. Dit leer kinders reeds van kleins af dat dit nie altyd maklik is om die regte ding te doen nie. Ek is besonder trots daarop dat my sesjarige baie mooi kan verduidelik wat die betekenis van die kruis en Jesus se kruisiging is, al is die begrip daarvan abstrak. Hierdie begrip is vir seker in die skool verdiep en verder vasgelê. Ons sien ook die krag van opening in die vierkant, die opening met Skriflesing en gebed voor personeelvergaderings en die hartlike uitnodigings vir die gebedsgroepies vir mammas by hierdie skole. Die oorgrote meerderheid van die kinders in hierdie skole floreer en woeker met hul Godgegewe talente. Om kinders oor die Woord en God se genade te kan leer, is ʼn besonderse voorreg, maar ook een van die swaarste verantwoordelikhede wat ʼn onderwyser het. Daar is ʼn ewigheidselement hieraan gekoppel en ek glo ook dat ons eendag waarskynlik groter verantwoording hiervoor sal moet doen.

As ʼn Christen-vrou, -ma en -onderwyseres, maar die belangrikste as dogter van God, is dit vir my van kardinale belang dat my kind volgens Christen-beginsels onderrig en daarin onderlê word.

Ek beskou hierdie dan as my openbare verklaring van my afhanklikheid van God die Vader en my opneem van my groot Bybelse taak om my kind in Sy weë te onderrig. Ek erken dat ek soms foute gaan maak, maar dat ek steeds alles in my vermoë sal doen om my plig na te kom. Hiermee besef ek natuurlik ook dat die tyd gekom het dat ek opstaan teen enigiets wat die uitvoering van hierdie belangrike taak bedreig.

Daarom is dit belangrik dat ons as ouers opstaan vir ons kinders se regte, dat ons ʼn harde en duidelike NEE sê teen Bela, en dat ons ophou om louwarm te wees as dit kom by ons kinders se opvoeding. Ek doen ʼn beroep op alle Afrikaner-ouers om die erns van die saak te besef en saam met my te staan om ons kinders, hul toekoms en hul siele te beskerm.

~2 Timoteus 3:15 – 17: “… en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Jy gaan nie hou van wat ek hieroor te sê het nie.

Jy kan baie dinge noem wat vir jou goed is maar op die ou einde sê jy steeds vir klein kinders wie nie in geloof grootgemaak is nie dat hulle en hulle ouers eendag in die hel gaan brand. Wat dink jy doen dit aan ‘n kind se ontwikkeling?

En dan vir hoe kinders sonder geloof grootgemaak kan word sal ek sê dat as ek iets goeds doen dan doen ek dit uit my eie wil, nie omdat ek bang is ek gaan daarvoor gestraf word nie.

As jy jou kind gelowig wil grootmaak kan jy dit gerus by die huis doen. Lees vir hulle Bybel en praat met hulle daaroor. Moet dit asseblief nie outsource na skole nie.

Pastor ·

Ek het die skrywe baie noukeurig gelees en in die Woord gaan soek om te kan vas stel waar die Bybel sê dat dit die onderwyser is wat moet verseker dat my kind in die Heilige Skrif opgelei moet word maar, sonder enige sukses. Ek dink ouers moet weer die doopbelofte / inseën belofte gaan bestudeer want dit is n ooreenkoms tussen ouer en God, nie onderwyser en God nie.

Morele waardes is ook ouers se plig niemand anders sin nie. N kind moet opgelei word om vir n loopbaan voorberei te word en opvoeding begin by die huis. Dat Bela wet tekortkkminge het is so, ek stem saam maar moenie ouerlike plig delegeer nie. Dit gaan nie werk in nuwe Suid Afrika nie

Anel ·

Ek stem. Gaan kyk maar hoe gaan dit in oorsee se skole! Ek gaan verder niks sê nie. Ek het ondervinding!!

Slabbert ·

Pieter, jy gaan nie hou van wat ek sê nie.

Jou probleem is met Christus self wat in liefde waarsku oor die hel (Matt. 10:28; 18:6), veral teen enige struikelblokke wat dink hulle weet beter as Hy, as die grootste Ovoedkundige. Jy moet jou probleem aan Hom rig … sterkte… en dink net watter skade rig jy aan om Christus te weerhou van kinders?

Enige ouer, vriend, opvoedkundige, ens., wat waarlik kinders liefhet, sal hul in liefde leer van Jesus, as die enigste weg en waarheid en lewe (Joh. 14:6), en dat die vrees van die Here, die beginsel is van alle kennis = ware opvoeding, onderwys, wetenskap, lewenswandel, wysheid, ens.

Pieter ·

Slabbert jy het baie mooi uitgebeeld waarom geloof met wetgewing uit skole gebou moet word, want anders gaan julle nooit ophou nie.

Daar is niks wat ek gaan kan sê om jou te oortuig nie, ek meen jy glo blykbaar is ‘n letterlike hel. Wat kan ek doen as jy jouself daarvan oortuig het?

Ek het jare gelede geglo wat jy glo so ek kan myself in jou skoene sien. Probeer dieselfde met my doen. Maak vir ‘n sekond of jy nie gelowig is nie en lees dan jou kommentaar en dink daaroor. Sien jy die logiese foute, die vrees en die onsekerheid?

Pieter ·

Slabbert Ek moes myself Biologie leer want op skool het ek by ‘n prominente Afrikaanse skool klas gekry in Creationisme, en dit was in 2016. Hierdie manier van dink sal sorg dat ons altyd agter bly.

Slabbert ·

Pieter, jy het mooi uitgebeeld hoe ideologies en onverdraagsaam jou nuwe ideologie is wat jy nou van harte glo en aanhang, soos jy nou die staat wil gebruik om jou ongeloofsideologie = nie-christelik of anti-christelik af te dwing met wetgewing op Christene in skole.

Alle onderwys is in wese nie neutraal nie, godsdienstig, of dit nou Christelik is, of ateisties, humanisties, islam, judaisme, ens.

Baie ouers en kinders moet ook vandag weer biologie leer, want deesdae word ‘science fiction’ = evolusionisme as nuwe dogma voorgehou wat nie bevraagteken word nie, soos mense vervolg word omdat hul wetenskaplik en nugter anders dink.

Pieter, dit is jammer dat jy nie meer wil dink soos gelowiges nie, maar ongelowige dogmas lyk my fanaties aanhang, jy het in der waarheid nooit, lyk my, werklik geglo in Christus en sy Woord nie, dalk kerk-kerk gespeel om ander te beïndruk, of dat dit vir jou voordelig was, nie omdat jy Hom werklik liefhet en erken het nie?

Lees en peins gerus oor Hebreërs 11:6 en 1 Joh. 2:19, ek bid vir jou.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien elke ouer begin eis dat sy/haar geloof die primêre geloof in ‘n betrokke openbare skool moet wees waarby almal moet inpas dan gaan dit chaos veroorsaak in die kulturele mengelmoes waarin ons onsself bevind. Los godsdiens by die huis en kerk. Onderwysers is onder genoeg druk. Of stuur jou kind na ‘n private skool met ‘n Christelike ethos.

Slabbert ·

Wat ek optel, en dit is die mees tragiese, is die vinnige spoed waarmee baie Afrikaners in ons land, en ook hier, soos gesien in die ‘kommentaar’ afdeling, verheidens en soos humaniste begin dink. Party wil dit selfs onder die vaandel van ‘christelik’ bevorder.

Ons grootste gevaar is nie die afvallige politici wat ‘n bedreiging is vir ons volk, taal en kultuur nie, maar baie Afrikaners wat hul rug draai op Jesus Christus as Koning van ons hele lewe deur sy Gees en Woord, dus ook die opvoeding en onderwys op elke lewensterrein, dat ons ganse lewe persoonlik, gesin, gemeentes, gemeenskap, ens., in diens van ons Verlosser en Koning moet wees.

Maar ja, dit is waar, hoe meer die staatskool sisteem sogenaamd ‘neutraal’ raak = lees pro humanisties en nie- of anti-christelik word, hoe beter vir ouers saam om goeie christelike privaatskole begin, en/of tuisonderrig volg.

Chrisp ·

Pieter dit sal goed wees indien jy na James Tour kan gaan kyk op YouTube as ‘n bioloog sal jy dit verstaan veral waar die chemie aanhak by organismes.

Hy is ‘n bekende prof in die veld met van die meeste skrifte soek(we have been lied to about the origin of life)

Mooi loop.

Pieter ·

Slabbert watter weergawe van die Christelike geloof moet my plaaslike Afrikaanse skool leer? NG, APK of dalk iets anders? As die NG sinode ‘n besluit maak soos gay troue is aanvaarbaar moet skole dit oordra aan leerders? wat as die APK sinode verskil na wie moet ons luister? Gaan ons Liberale predikante uit universiteite soos UP toelaat as jy kyk na wat daar deesdae vir hulle geleer word? Jy moet verstaan sekularisme beskerm Christene van ander Christene net so veel as wat dit my beskerm.

En Chrisp en daar slaan jy die spyker op die kop, as een mens jou kan oortuig dat al die ander navorsers in daardie veld verkeerd is, iemand wat self nie in daardie veld werk nie dan is daar nie veel wat ek kan doen om jou te help nie. Ek sou ook nie die “Discovery Institute” aanhaal as ek wil hê mense moet my ernstig opneem nie. Daar is ‘n rede waarom hulle “Creationists in Labcoats” genoem word.

Barend van der Merwe ·

Ek steun vir Anlia. Die regering gaan BELA deurdruk, maar dit gaan ‘n ramp wees. BELA sentraliseer net nog meer mag in die hande van die regering. En die regering het reeds meeste dinge verwoes. Die staatsbeheerde instellings soos Eskom, Transnet et al, is besig om Suid-Afrika finansieel te sink. Al wat die regering nog nie verwoes het nie, is die landbou, die privaatsektor en sommige skole, maar die regering werk baie hard om hierdie dinge ook te verniettig. Soveel as wat ek nie met Anlia geloofsoortuiginge saamstem nie, is dit duidelik dat hierdie ‘n voorbeeld is van ‘n besorgde ouer wat betrokke is by haar kind se skool. Die politici dra nie daardie kinders se belange op die hart soos wat die ouers doen nie. Ek dink wel sy misgis haar wanneer sy noem dat daar drukgroepe is wat godsdiens uit skole probeer kry. Daardie drukgroepe beywer hulle eintlik maar net vir groter regverdigheid ten opsigte van godsdiens. Hoe sal mens iets soos godsdiens totaal uit skole kan verwyder? Dis onmoontlik want mense het hulle godsdienste. Maar daar moet minder indoktrinasie wees. Veral vir mense wat nie jou godsdiens deel nie. Nadat die regering BELA deurforseer het, sal al meer en meer mense seker maar hulle kinders uit die regering se skole uithaal. Tye het verander en daar is ALTYD alternatiewe in die lewe. In daardie geval sal al hierdie ouers wat waarlik omgee en betrokke is by skole, hulle kennis en bronne elders vat na privaatskole en aanlyn/tuisskole toe. So sal die regering tog wel daarin slaag om die laaste funksionerende skole ook te verwoes.

Barend van der Merwe ·

Jy maak goeie punte ook Pieter. In die jare toe ek myself nog verbeel het dat ek ‘n Christen is (wat ek skynbaar nooit was nie, want die grootdopers vertel my dat kleindopers soos die NG kerk nie regte ware Christene is nie), toe was daar daardie jare Doppers, Gaatjieponders, Hervormers, AGS en APK. Intussen het dit nou verder versplinter in dolleerders, ‘Vrye gemeentes’, SteedsHervormers, en so stry en versplinter dit en maal dit in die kraal. Om weg te stap van kerk en godsdiens, was die mees bevrydendste ding wat ek ooit gedoen het.

Dirk ·

Daar moet GEEN godsdiens in skole wees nie. Kinders is daar om skool te gaan nie om van ‘n god te hoor. En as jy jou morele waardes bind aan ‘n god, wel dan het jy ‘n baie groter probleem as wat jy besef. Kinders is ook nie daar om maniere te leer nie, dit moet hulle by die huis leer. Christendom het die mensdom se ontwikkeling met jare agter gehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.