‘Die virus in die woud’

Wietske Boon is die skrywer van die boek “Virus in die woud”. (Foto: Verskaf)

Deur Wietske Boon

Gedurende Maart 2020 het ons lewe onverwags en skielik drasties verander. Vir ons kinders ook, hoe klein ook al. Roetine, skooltyd en sosiale geleenthede het meteens verander of tot stilstand gekom. Wat ’n groot aanpassing om anders oor die vanselfsprekende dinge te moet dink.

Tydens die inperkingstyd (vlak vyf) moes ek my praktyk sluit. Kinders wat terapie ontvang het, se terapie is gestaak. Ouers werk eensklaps van die huis af, maar is nie altyd emosioneel beskikbaar nie aangesien hulle steeds op hul werk moet fokus. Grootmense praat oor onderwerpe waarvan kinders weinig verstaan, maar tog die spanning daarvan kan aanvoel.

Daar was nie tyd om enige kind voor te berei op die veranderinge wat vir hulle voorgelê het nie. En so baie jong kinders het deeglike voorbereiding vir verandering nodig. Uit hierdie besef, dat ons kinders ’n onbekende tydperk instap, het Die virus in die woud ontstaan. Die dierekarakters in die boek help om aan kinders op hul vlak te verduidelik wat gebeur. Iewers ver in die woud het ’n virus uitgebreek. Die diere hou dop hoe die virus nader aan hulle deel van die woud kom. Hulle is bekommerd oor die verspreiding hiervan en hoe dit hulle beïnvloed. Daar heers ’n onsekerheid in die woud en die diere vra die nodige vrae om meer beheer oor die situasie te verkry. Moontlike oplossings word eenvoudig uitgelê deur die maak van maskers en die nodige inperkingsregulasies. So moes dit toe gebeur dat een van die diere siek word. Hoe sorg ons vir hom? Hoe verseker ons ons veiligheid? Die boodskap van higiëne, hande was en maskers dra word ook beklemtoon. Die prente en illustrasies is spesifiek om kinders se aandag te hou en gesprekke aan te moedig. Alhoewel die inperkingsregulasies reeds verslap het, is die storie steeds gepas vir ons huidige situasie.

“Virus in die woud” is beskikbaar by Kraal Uitgewers. (Foto: Verskaf)

Ná die streng inperkingstyd en die heropening van skole in 2020, kon ons sien dat sekere ontwikkelingsmylpale beïnvloed is. Dit sluit in sommige gevalle fisieke sowel as sosiale en emosionele ontwikkeling in. Sosiale vaardighede kan weer opgeskerp word, soos om konflik te hanteer of speelgoed te deel. Kinders wat sosiaal angstig is, het miskien beter gevaar tydens die algehele inperking, aangesien dit hulle tyd gegee het om binne die veiligheid van hul gesin te sosialiseer, maar die aanpassing terug na die skool kon weer baie spanning inhou. Konflik tussen sibbe was nie ongewoon in hierdie tydperk nie en kon bydra tot emosies soos frustrasie, woede of irritasie. Enkelkinders kon tuis vereensaam, terwyl hul ouers aandag moes gee aan hul werk en daaglikse take en daar geen ander eweknie-interaksie beskikbaar was nie.

(Grafika: Verskaf)

Aanpassing by herhalende veranderende omstandighede kan vir baie kinders traumaties wees. Dikwels het die tekens daarvan eers ’n paar weke ná die heropening van skole sigbaar geword deur gedragsveranderings soos nagmerries, oormatige huilerigheid, woede-uitbarstings of frustrasie. Die gesin se daaglikse roetine tydens die algehele inperking kon ook ’n invloed hê op hul aanpasbaarheid by die skoolroetine.

Kinders se ervarings van die virus verskil. ’n Kind wat ’n geliefde weens die virus verloor het, kan met vrees rondloop, meer as ’n kind wat nie van die erns van die siekte bewus is nie. Kinders se ingesteldheid en hoe die virus aan hulle verduidelik word, beïnvloed ook die mate van vrees en angs wat hulle ervaar.

Maar die lewe gaan voort. Ontwikkelingsagterstande en sosiale en emosionele uitdagings kan geïdentifiseer word en aandag of behandeling kry. Voorspelbaarheid en roetine bied sekuriteit vir jong kinders. Hulpmiddels soos gepaste storieboeke kan ingespan word om kinders voor te berei, ouderdomsgepas ingelig te hou en trauma te ontlont.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.