Differensiasie as onderrigbenadering vir my kind

Deur Maryke Bellingan

Argieffoto (Foto: Paige Cody/Unsplash)

Watter gedagte of assosiasie kom by jou op wanneer jy die woord differensiasie hoor? In my kop sien ek dadelik die Engelse woord “different” en dis presies waarna dit verwys – elke kind is uniek met sy eie karakter, godgegewe talente, persoonlike belangstellings, manier van leer en uitdagings. As ouers het ons die natuurlike begeerte om te sien dat ons kinders floreer. Ons wil hê hulle moet as wenner uit die stryd tree en met trots en selfvertroue die wêreld instap.

Die uitdaging kom egter wanneer ons kinders in ʼn omgewing geplaas word waar hulle een van vele is, soos in ʼn skoolklas. In hierdie omstandighede, waar onderwysers met tientalle kinders gelyktydig werk, kan dit uitdagend wees om te verseker dat elke kind se unieke behoeftes en potensiaal erken en aangespreek word.

Dit beteken nie dat onderwysers nie omgee, of nie hul beste probeer om elke kind se behoeftes te bevredig nie. Inteendeel, baie onderwysers is diep toegewyd aan hulle leerlinge en streef daarna om elkeen se potensiaal te ontgin. Met beperkte tyd en hulpbronne, kan dit egter ʼn taai taak wees.

Ons is dikwels onder die wanindruk dat regverdigheid beteken elke leerder moet presies dieselfde verstand, aanleg, aandag, opvoeding, of tyd kry. Volgens so ʼn redenasie sou dit beteken dat as twee leerders val – een beseer sy knie en die ander sy elmboog – die onderwyser vir beide ʼn pleister op hulle linkervinger sou plak.

Differensiasie is ʼn onderrigstrategie waarin die onderwyser die leerinhoud, proses en omgewing aanpas volgens die spesifieke behoeftes van elke leerder in die klaskamer. In plaas daarvan om alle leerders deur presies dieselfde leerervaring te lei, word elke kind se individuele leerstyl, vermoëns en belangstellings in ag geneem. Die doel van differensiasie is nie slegs om voorsiening te maak vir leerders met leeruitdagings nie, maar ook vir dié wat addisionele verryking benodig. Al die onderwerpe word met al die leerders behandel, maar onderrig vind op verskillende maniere plaas.

Hoe kan dit jou kind help?

Differensiasie waarborg dat die leerstof op ʼn manier aangepas word wat sinvol is vir jou kind. Dit mag beteken dat daar ʼn groter klem op visuele hulpmiddels geplaas word vir ʼn kind wat visueel ingestel is, of dat praktiese aktiwiteite ingesluit word vir diegene wat kinesteties leer. Dit mag ook insluit dat probleme of uitdagings wat in ʼn vorige graad ondervind is, eers aangespreek word voordat daar vorentoe beweeg word.

Wanneer kinders in ʼn omgewing is waar hul unieke behoeftes erken en hanteer word, voel hulle meer gemotiveerd en het groter selfvertroue in hul vermoë om te leer. Differensiasie bevorder aktiewe deelname. Deur jou kind se leerstyl in ag te neem, vergroot dit die waarskynlikheid dat hy of sy dieper by die leerproses betrokke sal raak.

Wat kan jy as ouer doen?

Verseker oop ʼn kommunikasiekanaal met jou kind se onderwyser. Bespreek jou kind se sterkpunte, uitdagings en leerstyle, en vra hoe differensiasie in die klaskamer geïmplementeer kan word.

Jy kan ook differensiasie tuis implementeer deur jou kind se leerervaring aan te pas tot dit heeltemal uniek vir hom of haar is. As jou kind byvoorbeeld ʼn passie vir wetenskap het, kan jy tuis eksperimente uitvoer of saam relevante boeke lees en video’s kyk.

Leer jou kind om sy of haar eie leerstyle en voorkeure te identifiseer. Dit sal hulle bemagtig om selfstandig strategieë te formuleer wat hulle leerproses optimaliseer.

Dit is belangrik om te besef dat jou kind se boek dalk nie presies soos dié van die ander kinders sal lyk nie. Jou kind is uniek, en die onderwyser het dit erken – wees dankbaar daarvoor. ʼn Goeie verhouding en vertroue in jou kind se vermoëns waarborg die mees effektiewe onderrigbenadering.

Differensiasie in die klaskamer kan help dat jou kind se unieke eienskappe uitblink en dat hy of sy tot die beste van hul vermoë presteer. Werk saam met jou kind se onderwysers om jou kind se maksimum potensiaal te ontsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.