Eksamenvoorbereiding: Doeltreffende studiemetode in drie maklike stappe

Ons almal weet mens moenie tot op nommer 99 wag voor jy begin voorberei as jy 99% in ʼn eksamen wil behaal nie.

In hierdie laaste – of eerder “eksamen”-kwartaal – moet daar deeglik beplan word om genoeg tyd te laat om voor te berei vir die eksamen. Om sukses te behaal en hopelik punte te verbeter, is dit belangrik om doeltreffende studiemetodes te gebruik.

Doeltreffende studiemetodes help om leerwerk makliker vas te lê, sodat kreatiewe oplossings vir probleme – soos daai splinternuwe vrae wat onderwysers in die eksamenvraestel ingooi – gevind kan word. ʼn Aanlyn stelsel soos Die Wolkskool help veral dat leerwerk in ʼn japtrap vasgelê kan word.

Hoe werk dit?

Die Wolkskool bied duisende kort videolesse, werkkaarte en assesserings wat leerders maklik en vinnig kan gebruik om die leerproses en hersiening te vergemaklik. Sodra die leerwerk eers bemeester/gememoriseer is, sal ʼn mens makliker verstaan wat van enige eksamenvraag verwag word. Voorkennis is die basis waarop eksamenantwoorde voortgebou kan word.

Hoe werk Die Wolkskool se studiemetode?

Die Wolkskool se meesteronderwysers het drie aspekte geïdentifiseer waarop ʼn leerder moet fokus om punte te verbeter. Dit sluit in: Voorskou, Leer en Hersien

  1. Voorskou

Die eerste stap is om deur al die werk te lees (óf na video’s te kyk) om ʼn volledige oorsig of uiteensetting van al die inhoude te kry. Terwyl daar gelees word (of na die video’s gekyk word), moet die volgende vrae gevra word:

  • Waaroor handel die inhoud?
  • Watter afdelings word gedek?
  • Wat is die doel van die inhoud?
  • Hoe pas alles in mekaar?
  • Hoe sluit die verskillende afdelings by mekaar aan?
  1. Leer

Tydens die tweede stap moet die inhoud verkort word en hoofgedagtes moet neergeskryf word. Dit handel nie net oor die uitskryf van die inhoud nie, maar om kerngedagtes te identifiseer en daarop te fokus. Die hoofdoel van hierdie stap is om seker te maak dat jy die inhoud verstaan en die stappe/metodes/werkinge/gebeure kan herroep en, indien nodig, dat jy dit kan toepas.

Hoe om ʼn opsomming te maak:

Navorsing toon aan dat die beste manier om inhoud op te som die sogenaamde [Onderwerp – kommentaar]-metode is.

Wanneer jy seker gemaak het dat jy die werk verstaan, groepeer dit dan in kort kernpunte met die onderwerp en die kommentaar oor die onderwerp. Sluit gerus ook bladsynommers in om jou te help om die inligting weer vinnig op te spoor.

Wenke om jou te help leer:

  • Lees eers alles deur (óf kyk na al die video’s op Die Wolkskool) en maak seker dat jy die inhoud verstaan.
  • Vind jou eie struktuur. Jy hoef nie by die uitleg van die handboek te hou nie.
  • Gebruik breinkaarte, simbole, tabelle, kleure (maar nie te veel nie) of prente om onderwerpe kernagtig te help opsom – dit is dikwels beter as woorde.
  • Vermy die kolpunte (bullet point)-lokval deur nie te probeer om inhoud in te klein afdelings in te deel nie.
  • Skryf netjies – anders mag jy dalk later baie tyd mors om dit te probeer ontsyfer.
  1. Hersiening

Wanneer jy tydens dié derde stap jou werk hersien, sal jy gou agterkom met watter dele van die inhoud jy nog nie gemaklik is nie. Hersiening bied vir jou die geleentheid om juis daardie “gate” in te vul of “bakstene” stewig vas te lê. Maak van Die Wolkskool gebruik om konsepte of onderwerpe wat onduidelik is, te hersien. Onthou om notas te maak terwyl jy na die Wolkskool-video’s kyk.

Studies toon dat hersiening bydra om belangrike feite, syfers, onderwerpe en metodologieë, wat jy in die verlede bestudeer het, te onthou.

Tydens eksamens sal hersiening jou help om die eksamenvrae beter te beantwoord omdat jy meer voorbereid sal wees en sal voel. Dit bou selfvertroue en hierdie selfvertroue sal selfs ook help om eksamenangs verminder!

Sterkte met jou eksamenvoorbereiding!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.