Gesinne kán herenig – selfs ná groot trauma

Foto ter illustrasie. (Foto: Teodor Drobota/Unsplash)

’n Seun wat sewe jaar lank in pleegsorg was, is onlangs met sy eie ma herenig.

“As sewejarige is hy weggeneem van sy gesin omdat daar ernstige geweld in die huis was. Die hele gesin het deurgeloop en dit was een van die ergste sake wat ons ooit gesien het,” verduidelik die maatskaplike werker wat die seun al jare lank bystaan.

“Maar sy storie is een van hoop. Ons gee nooit op nie,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), Gauteng-Oos.

Kobus* (skuilnaam) het aanvanklik gesukkel. As gevolg van die trauma wat hy op ’n jong ouderdom ervaar het, het hy emosionele- en gedragsprobleme gehad om te oorkom.

“Sy versorgers by die pleeghuis het harde bene gekou met sy woede-uitbarstings, angsaanvalle, en ook selfdoodpogings. So ’n pad is nie ’n maklike een nie, en verg meer as net liefde en geduld.”

Die CMR Gauteng-Oos ondersteun hul pleegouers met bystand en opleiding en veral met gesinne soos Kobus s’n, word daar gelet op die kind of gesin se unieke uitdagings en alles moontlik gedoen om die gesin bymekaar te hou.

“Die CMR, ’n geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie met statutêre magte, streef daarna om gesinne bymekaar te hou en slaag daarin om gesinne te herenig, ten spyte van die beeld dat kinders net verwyder word,” sê Van der Merwe.

“Omstandighede soos kindermishandeling of verwaarlosing lei tot ’n hofbevel wat organisasies soos die CMR Gauteng-Oos, noop om ’n kind uit die swak omstandighede te verwyder, volgens die hofbevel. Die kind word geneem na ’n plek van veiligheid en kan later in pleegsorg, ’n kinderhuis of nywerheidskool geplaas word na gelang van ’n deeglike maatskaplike ondersoek. Kinders word net teruggeplaas sou die omstandighede positief en in belang van die kind wees.”

Die seun en sy ma was aanvanklik albei senuweeagtig, sê die maatskaplike werker wat hulle met die proses bygestaan het. Kinders word teruggeplaas ná die aanbeveling van die maatskaplike werker en ’n hofbevel verkry is.

Wat het aanleiding tot Kobus se terugplasing gegee? Die seun het ’n brief aan sy biologiese ma gerig omdat hy al hoe meer vrae oor sy gesin gehad het. Die ma het deur die jare slegs telefonies met die maatskaplike werker kontak gehad, maar nadat sy die brief ontvang het, gevoel om met haar kind te herenig. Sy het berading ontvang en die seun is ook voorberei vir die besoeke van sy ma, ter voorbereiding van hul herontmoeting.

Van der Merwe sluit af: “Ingevolge die Kinderwet (Wet 38 van 2005) poog ons in alle gevalle om die kind nie van sy ouer te vervreem nie. Maatskaplike werkers moet sorg dat die kind in kontak bly met die ouer, met die hulp van die ‘nuwe’ ouers. ’n Werkooreenkoms word opgestel wat alle betrokke partye moet teken ten opsigte van die toekoms. ’n Kind se storie kan ’n suksesverhaal word. Kobus se storie is so ’n storie van hoop en sukses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.