Gesonde gesinne die boustene van gesonde samelewing

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Vida Bali/Pexels)

Die Solidariteit Beweging glo dat gesonde gesinne nie net die noodsaaklikste nie, maar ook mees onderskatte bestanddeel van ’n gesonde land is en ook ʼn voorwaarde vir kinders se veiligheid en versorging is.

Met Vadersdag wat Sondag gevier word, het Maroela Media met verskeie leiers in die Solidariteit Beweging gesels oor die lekkerste dele en grootste lesse van vaderskap.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Flip en Melanie Buys saam met hul gesin. (Foto: Verskaf)

“Die lekkerste deel van vaderskap is om liefde te gee en te ontvang. Liefde spruit nie net uit die pa en kind se verwantskap nie, maar ook omdat diep vriendskappe tussen pa en kind ontwikkel,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en trotse pa van vier kinders.

Volgens Buys het vaderskap hom geleer dat jy onmeetbaar meer kry as wat jy gee. “Dit verdiep die lewe van iets wat soos ʼn outydse swart-wit ‘stilprent’ lyk na een in volkleur en pragtige klank. Dit gee die lewe sin.”

Sy raad aan ander pa’s is om tyd maak om die lewe saam met hul kinders te geniet. “Sukses gaan nie oor prestasies nie. Sukses in die lewe gaan oor die gehalte van verhoudings met hulle wat die naaste aan jou is.”

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand

Hannes Noëth se kroos; Hanri, Henning, Marli en Esna. (Foto: Verskaf)

“Vaderskap beteken vir my die voorreg om daar te mag wees in die vorming van my kinders se lewens, maar ook in die glo van ʼn toekoms en ʼn nageslag,” sê Helpende Hand se hoof.

Dié pa van vier glo in onvoorwaardelike liefde en sê pa’s moet altyd net hul beste gee, al het hulle nie self al die antwoorde nie. “Die lekkerste deel van vaderskap is om kinders se onvoorwaardelike liefde te beleef, selfs wanneer jy net ʼn gewone mens met foute en gebrokenheid is.”

Hy glo ook elke kind is uniek en moet só hanteer word. “My droom is dat elkeen van my kinders voluit sal leef, gelukkig sal wees in goeie en slegte keuses, sal groei in hul menswees en altyd vir mekaar sal lief bly. Hulle moet ook nooit ophou droom of hard werk nie.

“En dan natuurlik, braai baie en leer hulle ook braai,” voeg hy skertsend by.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Volgens AfriForum se hoof moet ouers nie hul eie drome deur hul kinders probeer uitleef nie, maar eerder ʼn ondersteunende rol speel om hul kinders so goed as moontlik te rat om selfstandig hulle eie drome na te jaag.

Kallie Kriel saam met sy vrou, Elana, en hul kinders, Jakes, Jana, Nina, Emri en CM. (Foto: Verskaf)

Dié pa van vyf sê ouerskap is vir hom ʼn voorreg. “Vaderskap is om deel van iets groter as myself te wees, om met liefde en ondersteuning ʼn vormingsrol in my en my vrou se kinders se lewens en by implikasie ons nageslag te kan te speel.”

Geselsies om die eetkamertafel is vir hom ʼn hoogtepunt. “Dit is vir my die lekkerste om aan tafel te sit en luister as my kinders aan die gesels raak en te sien hoe hulle ontwikkel het tot sterk selfstandige denkers wat steeds die waarde van familiesamesyn en liefde besef.”

Kriel sê daar is nie iets soos ʼn perfekte pa nie en benadruk ook die belangrikheid van onvoorwaardelike liefde.

“Kinders verwag nie ʼn perfekte pa nie, maar wel een wat ondanks sy eie foute onvoorwaardelik lief is vir sy kinders en hulle ondersteun tot die beste van sy vermoë.”

Paul van Deventer, uitvoerende direkteur van Sol-Tech

Wiandré, Nalienke, Paul en Nanet van Deventer. (Foto: Verskaf)

“Vaderskap is die grootste voorreg, maar ook die grootste verantwoordelikheid,” sê die Sol-Tech-hoof en pa van twee.

Sy advies aan ander pa’s is om te onthou dat kinders anders as volwassenes dink. “Ek het geleer dat ʼn kind se brein nie soos ʼn ouer sʼn werk nie en dat hulle nie hoef te dink soos ons dink nie. Dit is ons plig om ʼn goeie rolmodel te probeer wees en die regte geleenthede te skep wat ʼn kind leer om selfstandig en gelukkig te wees.”

Hy geniet dit om te sien hoe sy kinders groei en gevorm word in die verskillende fasette van hul lewens. “Die lekkerste is wanneer jy sien hulle neem die regte besluite en is werklik gelukkig met wie hulle is.”

Sy droom vir sy kroos is dat hulle veilig sal wees om hul volle potensiaal te kan bereik om gelukkig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan wees.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Dirk saam met sy vrou, Elsha, en hul dogters, Marisha, Minè, Elzaan en Hanri. (Foto: Verskaf)

Hermann sê sy vier dogters maak sy lewe vol en is deel van wie hy as mens geword het.

“Hulle en my wonderlike vrou gooi elke dag petrol in my karretjie,” sê dié trotse pa.

Gehalte tyd is volgens Hermann ook kernbelangrik en gee ouers juis energie om die druk van die lewe te trotseer. “Jou kinders vra nie groot goed nie, hulle vra tyd en nie eers baie daarvan nie. Daar is druk op ons almal, maar kwaliteit tyd is nie net ʼn belegging vir jou kinders nie, maar ook vir jouself.”

Sy grootste droom is ook om te sien dat sy dogters hul roeping voluit kan uitleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.