Help, my kind het RSV opgedoen

Foto ter illustrasie. (Foto: Aditya Romansa/Unsplash)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het in Maart vanjaar gewaarsku teen ’n skerp toename van die respiratoriese sinsitiale virus (RSV)-gevalle wat veral brongiolitis en lae lugweginfeksie onder jong kinders veroorsaak.

Dr. Andries de Jager Booysen, ’n pediater by die Life Eugene Marais-hospitaal in Les Marais, Pretoria, meen dat hoewel dié virus mense van enige ouderdom kan raak, babas en kleuters veral vatbaar is om lewensgevaarlike longinfeksies te ontwikkel.

“RSV tas die klein lugpypies, die brongioli, in die longe aan en veroorsaak ʼn toestand genaamd brongiolitis. Die brongioli se wande swel toe weens die inflammasie en lugwegafsluiting vind dan plaas,” verduidelik hy.

“’n Baba met RSV verloor longkapasiteit en kan later nie meer genoeg suurstof opneem nie. Hulle mag onder andere tydelike suurstoftoediening benodig om te herstel.”

RSV is veral gevaarlik vir babas wat vroeggebore is en wie se longe nooit goed ontwikkel het nie. Dié babas ontwikkel ook dus ’n baie erger graad van brongiolitis.

De Jager Booysen maan ouers en versorgers wat met jong kinders en babas werk om deurlopend goeie higiëne toe te pas deur gereeld hul hande met seep en water te was.

“Algemene maatreëls teen die oordrag van infeksie, naamlik om jou nies of hoes te bedek, by die huis te bly as jy siek is of ander siek mense te vermy, en gereeld die oppervlaktes waar jy eet of werk te ontsmet, kan die verspreiding van infeksie voorkom.”

De Jager Booysen waarsku ook dat babas die virus maklik kan opdoen wanneer hulle aan ouer kinders, soos ’n boetie of sussie in die kleuterskool, waar die virus maklik en onwetend versprei, blootgestel word.

Die ouer kinders sal meestal simptome hê wat lyk soos ’n verkoue-tipe infeksie met ’n loopneus en hoes. Babas en kinders onder die ouderdom van twee jaar se risiko is veral hoog omdat hul lugweë vinniger geblokkeer word en dit kan hierdie kleintjies baie sieker maak.

“Hoë risiko babas en babas met ouer sibbe kan daarby baat om eers na die ouderdom van twee jaar na ʼn kleuterskool te gaan,” sê De Jager Booysen.

As ʼn ouer boetie of sussie ʼn loopneus het, moet hulle hande was, saniteer en kontak verminder. Dieselfde reëls geld dan as wat vir Covid-19 gegeld het.”

Hoewel die virus lewensgevaarlik kan wees, meen De Jager Booysen dat dit veel meer voorkombaar is as wat mense dikwels besef.

“Die meeste kinders het reeds een keer RSV gehad teen die ouderdom van twee jaar,” verduidelik hy.

Om die virus te bespeur, kan ouers op die uitkyk wees vir simptome soos ’n loopneus, vinnige, vlak asemhaling, kortasemheid en ’n fluitgeluid in die bors, ’n hoes, ’n toe neusie, lusteloosheid of geïrriteerdheid.

“Gevaartekens wat daarop dui dat hospitalisasie benodig word, is ʼn baba wat byna niks meer voeding inneem nie en ʼn baba wat blou om die mondjie vertoon.  So ʼn baba benodig noodbehandeling en suurstof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.