Help! My kind word geboelie

(Argieffoto: pixabay)

Navorsing wys dat tot 57% van Suid-Afrikaanse leerders in die een of ander stadium tydens hul hoërskoolloopbaan geboelie word en ouers is toenemend hande in die hare oor kinders wat aan die ontvangkant van afknouery is, óf self boeliegedrag toon. Soms is die skool en onderwysers ook nie van veel hulp nie.

Maroela Media het met ma’s gesels wie se kinders die teiken van boelies is of self ander boelie, en hulp by kenners ingewin.

Ouers radeloos

Sy het haar tot die skool om hulp gewend nadat haar 16-jarige seun aan haar gesê het dat hy selfmoordgedagtes het, vertel Sarah*, ʼn ma van Centurion. Haar seun is herhaaldelik gespot en by die skool afgeknou.

“My seun het na my toe gekom en gesê, ‘ma, ek wil my eie lewe neem’.

“Hy het gehuil en gevra of ek hom sal help.”

Uit desperaatheid is sy skool toe om hulp te vra. Sarah sê die skool se oplossing was ʼn kortstondige gesprek met ʼn onderwyser en ʼn aanbeveling dat haar kind by ʼn rugbyspan inskakel.

Die probleem het egter vererger en Sarah sê nadat haar kind op ʼn dag opnuut geteister is, het hy geknak en die ander leerder fisiek bygekom. Die voorval is op video vasgevang en ʼn dissiplinêre verhoor staar die kind in die gesig. Hy is sewe dae lank geskors.

Dié ma sê haar kind was nog nooit tevore in enige groot moeilikheid by die skool nie, maar kon die genadelose teistering net nie meer verduur nie. Die kind met wie hy glo in die onderonsie betrokke was, is volgens haar wete geensins gedissiplineer nie.

Petro*, ʼn ma van Johannesburg, se 13-jarige dogter is in ʼn privaat skool. Haar kind word ook geteister. Petro sê haar kind se tas word weggegooi, haar hare getrek of medeleerders dreig om haar by die trappe af te stamp.

“My dogter het ʼn reuseselfbeeldprobleem weens die boeliery. Dit maak nie saak wat sy aantrek nie, sy word daaroor geboelie. Almal moet poppiemooi wees met perfekte lyfies en perfekte hare.

“Jy kan nie die kind aanmaan nie en ook nie die ouers nie – en die skool help nie. Ons het ʼn skoolgroepie, maar as jy daaroor praat, word jy afgelag of ouers sê hul kinders sal nooit só iets doen nie,” sê Petro.

ʼn Mens wil nie hê sy moet in ʼn groef verval en een dag kom jy by die huis en dan …. ja.

Talitha*, ma van ʼn tienjarige dogter, sê sy was “daardie ma wat ingeroep is” oor haar kind se gedrag. Hoewel sy nie saamgestem het met al die aantygings nie, was sy dankbaar dat die skool genoeg omgegee het om betyds in te gryp en haar kind op ʼn gesonde manier te help lei.

Ander maats het vinnig agtergekom watter “knoppies om te druk” om ʼn heftige reaksie by haar dogter uit te lok en dié reaksie het haar eindelik self in die moeilikheid laat beland. Talitha sê die skool het egter moeite gedoen om die kwessie te pak, sonder om haar kind te isoleer of die situasie te vererger.

Hoekom boelie kinders mekaar?

Elana Kriel, ʼn dosent by die departement opvoedkundestudie by Akademia, sê boeliegedrag is wanneer ʼn individu of ʼn groep hul mag of posisie misbruik om ander te intimideer of seer te maak.

Hiervoor is daar velerlei redes, sê Kriel. “Elke mens tree op om emosionele behoeftes te bevredig. Daardie behoeftes kan wees om aanvaar te word, raakgesien te word of om uiting te gee aan emosionele seer. Soos wat kinders groei en leer, leer hulle ook om hul emosies beter te verstaan en te dink oor hul optredes.

“Jonger kinders het soms nie die woorde om hul emosies uit te druk nie en doen dit dan deur hul gedrag. Adolessente tree dikwels impulsief op omdat hulle nog in die ontwikkelingsfase is waar hul brein se logiese denke ontwikkel.”

Die uitdaging is egter om te leer wanneer en waar watter soort gedrag aanvaarbaar is en só op te tree dat emosies en impulsiewe ondeurdagte optrede nie die oorhand kry nie. Kinders moet ook leer dat boeliegedrag onaanvaarbaar is, sê Kriel.

“Volwassenes behoort kinders te leer wat aanvaarbaar is, wat gedrag beteken en hoe om emosies en behoeftes op ʼn aanvaarbare manier te kommunikeer. Dit beteken dat jy nie iemand anders te na kom of seermaak as jyself seer het nie.”

Dit kan egter ʼn opdraande stryd wees.

Gedrag kan ernstige gevolge inhou

Leandie Bräsler, bestuurder van junior leierskap by AfriForum, sê boeliegedrag is algemeen onder laerskool- en hoërskoolleerders. Erger nog, kinders kan nie meer soos in die tyd voor sosiale media hul boelies “by die skool los nie”.

Deesdae is daar ook kuberboelies, met selfone en sosialemediatoepassings wat gebruik word om kinders te teister.

Sy waarsku dat kinders dikwels ook nie besef dat hul gedrag ernstige gevolge kan inhou nie. Onvanpaste foto’s of inhoud op selfone kan ʼn kind in diep moeilikheid laat beland, of selfs tot ʼn misdaadrekord lei.

In die kuberruim bly daar boonop altyd ʼn digitale voetspoor agter, wat beteken selfs al word sekere inhoud uitgewis, kan dit waarskynlik altyd weer opgespoor word.

Sy sê hul beroep is op ouers – as primêre opvoeders – om hul kinders bedag te maak op die gevare en gevolge wat hul gedrag kan inhou.

Wees veerkragtig

Dit is ook belangrik om die verskil tussen konflik en boeliery te besef. “Katterig is een ding, maar boeliery is skadelike gedrag wat op ʼn aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind,” sê Bräsler.

Kinders moet leer wanneer iemand hulle ʼn venynige ding toesnou, dalk omdat daardie persoon self ʼn slegte dag het, en wanneer dié soort gedrag tot boeliery oorgaan.

Ouers kan ook op die uitkyk wees vir gedragsveranderings soos ʼn kind wat skielik nie wil eet nie, meer of minder slaap en nie daaroor wil praat nie – en moet dan dadelik dieper ondersoek instel.

Bräsler sê kinders moet veral geleer word hoe om veerkragtig en pro-aktief op te tree en byvoorbeeld slim te antwoord wanneer iemand hulle probeer afknou. Dit is belangrik dat kinders besef nie almal gaan van hulle hou nie, en dat hulle dit ook moet kan verwerk.

AfriForum het die afgelope naweek die kortfilm Die Val bekend gestel. Die rolprent vorm deel van die organisasie se teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog en is op AfriForumTV beskikbaar.

Bräsler sê die film skep hoop vir jongmense wat worstel met hedendaagse kwessies. Hoewel boeliegedrag tot ʼn ingrypende stap soos selfdood kan lei, kan daar ʼn ander uitweg ook wees.

Hulle vind dat daar by skole ook ʼn behoefte is vir onpartydige kenners om met kinders te gesels oor uitdagings, sê Bräsler. Sommige skole het ook omgeebokse waar leerders probleme of uitdagings op ʼn veilige manier kan bekend maak.

Skole kan help

Kriel sê skole speel ʼn belangrike rol en moet ʼn veilige plek wees waar kinders leer en oefen om sosiaal aanvaarbaar op te tree. “Wat belangrik is, is dat die skool deel vorm van die kind se leefwêreld met verantwoordelike onderwysers. Onderwysers en ouers is vennote in opvoeding en moet saam verantwoordelikheid aanvaar om medemenslikheid te leef en te leer, om te kan ondersteun en alternatiewe daar te stel vir leerders wat meer as die gewone nodig het om emosionele seer en pyn te pak.”

Skole het ook ʼn platform om pro-aktief op te tree en programme vir alle leerders aan te bied oor aanvaarbare gedrag.

“Programme behoort boelies en slagoffers sosiale vaardighede aan te leer, soos om hulp te vra as dit nie met jou goed gaan nie, om jou emosies te leer verstaan en jou optrede te bedink,” sê Kriel.

Kry AfriForum se Teenboeliegids hier.

*Uit vrees vir viktimisasie word die betrokkenes se werklike identiteit weerhou. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.