Hoe berei ons kleuters voor vir ’n nuwe wêreld?

(Foto: Maroela Media)

Deur Marietjie Havenga

Die wêreld verander teen ʼn tempo waar dit byna onmoontlik is om tred te hou met die nuutste bewegings in tegnologie en wetenskap. Bewegings soos Transhumanisme wil menslike vermoëns verbeter deur tegnologie in te span om beperkings in menslike kognisie en fisiologie te oorskry. Met wetenskap en tegnologie word daar gepoog om die mens se lewensverwagting en algehele welstand, sowel as die menslike intelligensie te verbeter. Die Transhumanistiese beweging daag tradisionele denke oor menswees uit en stel ondersoekende vrae oor die moontlikhede wat beskikbaar is vir die toekoms van die mensdom.

Hoe berei ons ons kleuters voor vir ʼn vinnig veranderende wêreld wat vir ons as volwassenes moeilik is om aanvaar of selfs te begryp? Die verandering is onvermydelik, ongeag of ons saamstem of daarteen skop. Ons betree ʼn onbekende toekoms en die wyse waarop ons die onbekende benader sal bepaal of ons die uitdagings die hoof bied.

As ons terugdink na die tyd voor sosiale media, was daar groot vrese en kommernisse oor kwessies soos privaatheid, kuberboelies, verslawing, verspreiding van valse inligting, om maar net ʼn paar te noem. Alhoewel baie van hierdie vrese bewaarheid is deur foutiewe aanwending van die platforms, oorskry die voordele telkemale die nadele, indien die gebruiker dit korrek benader.

Die tegnologie is neutraal, maar die gebruik daarvan kan positiewe of negatiewe gevolge inhou. Hier is ʼn paar noodsaaklike vaardighede wat kinders moet ontwikkel, sodat hulle ʼn onbekende wêreld reg sal benader en met oop oë instap. Ons kinders moet die onbekende versigtig, maar vreesloos ondersoek. Hier is ʼn paar vaardighede wat kleuters sal bemagtig om verandering in die wetenskap en tegnologie voordelig te gebruik:

(Foto: Charlesdeluvio/Unsplash)

  1. Kritiese denke: ʼn Tipiese vraag vir ʼn tweejarige is hoekom?”. Hierdie fase help ʼn kleuter om die wêreld rondom hom of haar ondersoekend te verken en beter te verstaan. Laat kleuters toe om hoekom?”-vrae te vra en antwoord hulle met eerlike en logiese antwoorde. Want ek sê so is ʼn tipiese en algemene antwoord wat nuuskierigheid demp en kritiese denke versmoor. Skep geleenthede waar kleuters kan dink oor wetenskap deur ʼn wetenskaptafel of -area in die kleuterklas waar kleuters ʼn hipotese kan maak, eksperimente kan doen, afleidings en gevolgtrekkings kan maak deur praktiese ervaring. STEM-onderwys en -aktiwiteite (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) bevorder probleemoplossingsvaardighede. Skep genoeg geleenthede vir kleuters om prakties en spontaan hierdie leerareas te verken en ontdek.
  2. Etiek en waardes: In ʼn tegnologiese wêreld, is dit van kritieke belang dat ons menslikheid moet behou deur ons kleuters met empatie en goeie waardes groot te maak. Waardes soos verantwoordelikheid en integriteit lê ʼn goeie grondslag vir die etiese gebruik van nuwe tegnologie.
  3. Koester ʼn groei-ingesteldheid: In ʼn vinnig veranderende wêreld is aanpasbaarheid ʼn vereiste. In ʼn kleuteromgewing vind leer natuurlik en deurlopend plaas. Koester die groei-ingesteldheid by kleuters, sodat hulle lewenslange leerders word wat uitdagings met waagmoed en veerkragtigheid benader.
  4. Moedig ʼn sterk verbeelding en kreatiwiteit aan: Nuwe moontlikhede is nie ʼn definitiewe realiteit nie. Deur ʼn sterk verbeelding kan kleuters die onsienbare in hul geestesoog sien en hulle begin aan idees dink om dit ʼn moontlikheid te maak. Fantasiespel is ʼn wonderlike manier om drome in ʼn kinderrealiteit te omskep. Kleuters verbeel hulself dat ʼn stok ʼn towerswaard is of dat ʼn klip houtblok ʼn tafel is. Dit bevorder in die proses kreatiwiteit om die verbeelding en gedagtes in realiteit om te skep.

As opvoeders en ouers het ons ʼn verantwoordelikheid teenoor ons kinders om ʼn sterk grondslag te lê waar kritiese denke, etiese waardes, aanpasbaarheid, veerkragtigheid en kreatiwiteit deel uitmaak van hulle alledaagse lewe. Dit sal hulle bemagtig om die dinamiese wêreld van Transhumanisme met die nodige integriteit en denkvaardighede te benader. Die vermoë om emosioneel in voeling met jouself en ander te verkeer en emosionele intelligente besluite te neem word deur sagte vaardighede soos veerkragtigheid, doelgerigtheid en aanpasbasbaarheid bevorder. Wanneer menslike outentiekheid verweef word met tegnologie en wetenskap is dit tot voordeel van die mensdom, omdat dit kommunikasie verbeter, ʼn wyer toeganklikheid tot inligting en kennis skep en die algehele gesondheid van die mens verbeter. Dit help nie ons veg teen die onvermydelike nie. Ons kan dit eerder omarm en tot ons voordeel aanwend.

“Dit is nie die sterkste of die mees intelligente van ʼn spesie wat oorleef nie. Dit is die een wat die maklikste aanpas by verandering.” – Charles Darwin

  • Marietjie Havenga is die hoof van Skuilrosie-kleuterskool en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se kleutervereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charles ·

Kinders moet weet die wêreld is sleg. En hulle moet voorbereid wees dat driekwart van die mense in die wêreld nie oulik is nie. Dan natuurlik kritise denke. Maar kritise denke kan nét werk sonder n geloofsboek.

stilekke1958 ·

Keer terug na die praktiese speel/leer & ondersoek/bevraagteken styl van vermaak veral vir die jonger kind, ek vervaardig eenvoudige simplistiese speelborde juis vir daardie doel, my werk span (spesiale jongmense) is self deel van ‘n generasie wat in rekenaar speletjies grootgeword het & geen benul het van die praktiese lewe & lewensuitdagings nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.