Hoe gemaak met my dowe kind se taalvaardigheid?

doof-dowe-seun-gehoorapparaat

Foto: Netmums.com

Deur Wilmaré du Buisson

In my vorige berig het ons gekyk na hoe belangrik die aanvanklike jare van taalontwikkeling in kinders is. In dié artikel sal ons na die tipe intervensies kyk, ingeval gehoorverlies by die kind gediagnoseer is.

Soos alle ouers wat al reeds deur die diagnostiese proses is, sal hulle weet dat daar verskillende tipes gehoorverlies is. Eerstens is daar twee gehoorverlies-kategorieë naamlik, geleidings- en sensorineurale gehoorverlies. Geleidende gehoorverlies is wanneer funksie om klank te gelei deur die oor aangetas is weens obstruksies. ’n Voorbeeld van sulke obstruksie is ’n geperforeerde oordrom. Sensorineurale gehoorverlies beïnvloed die vermoë van die gehoorsenuwee. Die oorsaak van sensorineurale gehoorverlies is as gevolg van beskadigde haarselle in die oor. Volgende word daar gewoonlik na die graad van gehoorverlies gekyk. Is die gehoorverlies lig tot matig, redelik ernstig tot ernstig, of uitermate.

Volgens die diagnose sal die mediese personeel sekere behandelingsopsies vir die pasiënt uitwys. Dit is belangrik om in ag te neem dat die opsies wat deur mediese personeel gegee word, in die konteks van die mediese veld gegee word. Met ander woorde, watter dienste en opsies kan hulle jou in die mediese veld aanbied. Die behandeling kyk na die patologie van die gehoorverlies en hoe hulle dit kan herstel. Dus, verwys ons na die patologiese intervensies wat dikwels gehoorapparate en spraakterapie insluit. Na gelang van die tipe en graad van gehoorverlies sal daar dan aan die pasiënt verskillende gehoorapparate, mediese prosedures en spraakterapie aanbeveel word.

Kenners in die veld sê vir die beste resultate moet kinders binne die eerste jaar al met ’n apparaat toegerus word en deur mediese personeel gemonitor word wat kennis het van oudiologie, spraakterapie, pediatrie en otolaringologie. Die tipe gehoorapparaat wat dikwels vir kinders met uitermate gehoorverlies gebruik word, is kogleêre inplantings. Dié apparaat word met ’n gespesialiseerde operasie vir die pasiënt geïnstalleer. Kogleêre inplantings lewer ook dikwels die beste resultate ten opsigte van gesproke taalontwikkeling. Maar hierdie intervensieroete kan mens baie uit die sak jaag as jy nie aan ’n mediese fonds behoort wat die kostes dek nie.

Destyds, in 2010, is daar ’n studie in Suid-Afrika gedoen oor hoeveel die kogleêre inplanting oor die tydperk van eerste 10 jaar van die inplanting sou kos. Die navorsing het gevind dat die gemiddelde kostes min of meer R414 785 is. Dit sluit die operasie en die apparaat in wat ongeveer R22 100 gekos het, die opgradering van die klankverwerker (elke 7 jaar) R85 000, die spraakterapie, die batterye en reserwedele vir die apparaat, herstelwerk, en laastens vervoerkoste vir pasiënte wat ver sou moes reis.

‘n Peuter wat ‘n kogleêre inplanting gekry het (Foto: Tabercil/Wikipedia)

In ander studies wat onlangs ook in Suid-Afrika gedoen is, het navorsers weer ouers wat kinders met kogleêre inplanting het, gevra wat hul grootse uitdagings as ouers is. Al die ouers in die studie het aangedui dat hul grootste uitdaging die finansiële aspek is. Gewoonlik, as die mediese fonds nie die prosedure dek nie of nie volledig dek nie, samel die ouers geld uit hul gemeenskappe in. Die geldinsamelingsproses kan ook (gewoonlik) ’n langdurige proses wees voor hulle met die aanvanklike prosedure (installering van apparaat) begin. Die grootse nadeel van kogleêre inplanting as intervensie vir kinders sonder taal, is dat dit ’n tydsame proses kan wees en in die wagtyd voor die intervensie kan begin, kan daardie kind nie taal aanleer nie.

Soos in die vorige artikel verduidelik is, is daar verskeie kognitiewe prosesse afhanklik van taal. Dus kelder die wagtydperk nie net die kind se taalvermoë nie, maar ook kognitiewe ontwikkeling. Verder besef ouers ook nie altyd die langtermynkoste en verantwoordelikhede wat gepaard gaan met kogleêre inplantings nie. Ja, dit is dalk die beste kans vir die kind om gesproke taal te kan aanleer, maar dit verg toewyding van die ouers om te kyk dat die kind die apparaat dra, saam met die kind spraakterapie bywoon, gereeld spraakterapiehuiswerk saam met die kind doen, koste aangaan vir spesiale onderrig, ensovoorts. Dus, as die kind vroeg gediagnoseer word en vroeg met die intervensie kan begin, en die ouers kan volhou met die behandelingsplan, is daar ’n baie groot kans dat die kind taal sal kan aanleer.

Daar is natuurlik ook ’n ander intervensie-opsie as die patologiese een. As ek praat van intervensie, dan is die klem nie om gehoor te herstel, maar om die kind toegang te gee tot taal. Dus is gebaretaal ’n ander goeie opsie vir kinders met uitermate gehoorverlies. Vir ouers wat nog nooit te doen gehad het met gebaretaal en niks weet daarvan nie, mag dit dalk soos ’n volksvreemde opsie klink. Dit is ook te verstane, want dit beteken dat die hele gesin die nuwe taal saam met die kleuter moet aanleer. Dit word kulturele intervensie genoem, omdat dit beteken dat jou huistaal ook sal moet verander of ten minste aangepas word.

Mense gesels met gebaretaal aanlyn. (Foto: Cottonbro/Pexels)

Voor ons verder kyk na gebaretaal as intervensie, is dit belangrik om te weet dat elke land sy eie gebaretaal het. Dus praat ons hier in Suid-Afrika van Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Dowe mense van ander lande gebruik nie dieselfde gebare vir dieselfde woorde of konsepte nie en daar word dikwels gedink dat as die gebaar in Amerikaanse Gebaretaal een ding beteken, beteken dit ook dieselfde in Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Dit is egter nie die geval nie, net soos dit nie die geval is met die tale van horende mense nie. Suid-Afrikaanse Gebaretaal is uniek tot Suid-Afrika en dit is ook ’n taal ryk aan verskillende dialekte. As ouers die soort intervensie sou oorweeg, sal hulle met ’n organisasie moet saamwerk waar daar gespesialiseer word in Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Deur te verseker dat jy met ’n organisasiewerk wat in Suid-Afrikaanse Gebaretaal spesialiseer, kan jy verseker word dat jou kind ’n amptelike taal met linguistieke funksies leer en dat daar meer geleenthede en opsies vir hom of haar in Suid-Afrika is.

Die intervensie behels ook geen mediese prosedures en kostes nie en die kans vir sukses om ’n volledige taal aan te leer is 100%. Organisasies mag verskillende prosedures hê, maar die doel sal wees om die kind en die familie te help om suksesvol te kommunikeer in gebaretaal. Om jou kind eers ’n gebaretaal te leer beteken ook nie noodwendig hy of sy sal nooit kan praat nie. Verskeie studies het al gevind dat as die kind se eerste taal goed gevestig is, is die kanse om ’n tweede taal suksesvol te bemeester baie groter. Verder het meer gespesialiseerde studies gewys dowe kinders met kogleêre inplantings wie se eerste taal ’n gebaretaal is, vaar veel beter in geletterdheidstake as dowe kinders met kogleêre inplantings wie se enigste taal ’n gesproke taal is. Die studies se resultate wys weer vir ons hoe belangrik dit is om so gou as moontlik taal beskikbaar te maak aan kinders met gehoorverlies.

  • Hierdie is die tweede berig uit ’n reeks van vier deur Wilmaré du Buisson. Sy is tans besig met haar meestersgraad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Du Buisson en Solidariteit Helpende Hand het kragte saamgesnoer om deur Helpende Hand se nuutgestigte tak vir mense met gehoorgestremdheid, bewusmaking te skep oor kinders met gehoorgestremdheid. Vir meer inligting besoek www.shhgehoorgestremdhede.co.za of stuur ’n e-pos aan [email protected]. Vrae kan ook na dié e-pos gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.