Hoe spaar ek vir my kind se toekoms?

Argieffoto (Foto: Sabine Peters/Unsplash)

Julie is spaarmaand in Suid-Afrika en ʼn baie goeie tyd vir ouers om bestek te neem van hul spaardoelwitte, veral met betrekking tot die befondsing van toekomstige hoëronderwysstudie. In dié artikel deel Akademia en Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) ʼn paar spaarwenke en -opsies met ouers.

Die verantwoordelikheid om te verseker dat jou kind die beste moontlike geleenthede geniet om hul drome na te streef is seker een van die grootste uitdagings wat ouers in die gesig staar. In die lig hiervan is daar twee belangrike vrae wat elke ouer hom/ haar so spoedig moontlik moet afvra en beantwoord:

  1. Hoeveel moet ek vir my kind se toekoms spaar?
  2. Hoe kan ek my geld spaar?

Hoeveel moet ek vir my kind se toekoms spaar?

Om die eerste vraag te beantwoord sal afhang van hoe oud jou kinders is wanneer jy begin spaar en wat die voorgenome belegging se doelwit is. As die belegging byvoorbeeld ten doel het om ʼn hoëronderwyskwalifikasie by Akademia te befonds en jou kind is nog klein, is tyd aan jou kant.

Die konsep “tydwaarde van geld” beteken kortweg die volgende: Hoe langer geld saamgestelde rente verdien, hoe meer sal dit oor ’n tydperk werd wees. As jy dus vroeg vir ʼn spesifieke doelwit oor ʼn lang periode begin spaar, sal jy meer uitkry in randwaarde as wat jy oorspronklik gespaar het. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat benewens klasgeld, voorsiening ook gemaak moet word vir verblyf, boeke, vervoer en vermaak.

Klik hier vir ʼn uiteensetting van Akademia se verskillende programkostes.

Hoe kan ek my geld spaar?

(Foto: Maroela Media)

Die beginpunt is om vas te stel watter opsies tot jou beskikking is. Die goue reël is dat spaaropsies volhoubaar én buigbaar moet wees om voorsiening te maak indien jou finansiële omstandighede mettertyd sou verander. Met dié realiteit in gedagte, is dit belangrik om met ʼn gesertifiseerde finansiële adviseur of beleggingspesialis te praat alvorens jy belangrike finansiële besluite neem. Maniere waarop jy voorsiening kan maak vir jou kind se studie sluit onder meer in beleggings (soos byvoorbeeld effektetrusts of geldmarkfondse), studieplanne, ʼn spaarrekening, ʼn vaste depositorekening of bankspaarprodukte.

Dit is belangrik dat jy elk van die bogenoemde opsies deeglik verstaan ten einde ʼn ingeligte besluit te neem. ʼn Effektetrustbelegging bied jou byvoorbeeld die voordeel dat jy ʼn wye keuse het oor verskillende effektetrusts en jou geld kan in plaaslike óf buitelandse markte (of selfs ʼn kombinasie van die twee) belê word. Hierdie buigsaamheid kan help om te verseker dat jy makliker jou spaardoelwit bereik. ʼn Studieplan, soos aangebied deur ʼn versekeringsmaatskappy, sluit voordele soos lewens- en ongeskiktheidsversekering in, iets wat nié by effektetrusts ingesluit word nie.

Geld kan ook maandeliks in ʼn gewone spaarrekening gespaar word, maar die risiko hieraan verbonde is dat jy dalk in die versoeking gelei kan word om van dié geld te gebruik wanneer jy in geldnood verkeer. Daar moet egter onthou word dat die rente wat jy op ʼn gewone spaarrekening verdien baie min is. ʼn Vaste depositorekening kan ook oorweeg word, maar die rentekoers hieraan verbonde is heelwat hoër as met ʼn gewone spaarrekening. Bankspaarprodukte betaal gewoonlik nie hoë rentekoerse nie en die groei op jou belegging kan laer wees, maar dit is ʼn verstaanbare opsie met ʼn lae risikoprofiel.

Dit is voorts belangrik dat ouers ʼn lewensversekeringskomponent aan hul spaaropsie moet koppel. Só ʼn komponent sal verseker dat jou spaarproduk gefinansier bly indien jy nie meer daar is om vir jou kind se toekoms te spaar nie. In dié verband moet jy ook seker maak dat jy ʼn geldige bygewerkte testament het wat dié beplanning saamvat indien die ergste sou gebeur.

Kenners sê sodra ’n kind kan tel, is hy of sy gereed om die geheime van geld te begin ontdek. (Foto: iStock)

Bykomend tot bogenoemde opsies, kan die volgende praktiese dag-vir-dag-spaarwenke ook van hulp wees:

  • Maak spaar ʼn gesinsaangeleentheid deur jou kinders deel te maak van die proses. Op hierdie manier dra jy by tot sy of haar se finansiële geletterdheid, en leer jy jou kind belangrike vaardighede om eendag verantwoordelik met sy of haar eie geld te werk.
  • Skep duidelike spaardoelwitte. Om ʼn doelwit voor oë te hê sal jou gemotiveer hou om elke maand effektief te spaar. As die doelwit vir jou belangrik genoeg is, sal dit vir jou makliker wees om elke maand die teikenbedrag te spaar.
  • Begin so vroeg as moontlik spaar. Bepaal hoeveel tyd het jy om jou finansiële doelwitte te bereik. As jy vroeg begin spaar is dit nie nodig om groot hoeveelhede weg te sit nie. As tyd aan jou kant is, kan jy met ʼn klein maandelikse bedrag op die ou einde groot opbrengste verdien.
  • Bepaal wat jy kan bekostig. Stel vas wat jy realisties kan bekostig om per maand te spaar. Dit help nie jy spaar baie geld, maar kan nie op ʼn daaglikse basis jou ander finansiële verpligtinge nakom nie. Stel ʼn begroting op en bepaal hoeveel jy nodig het om die maand te oorleef; dit wat oorbly kan jy spaar.
  • Hou by jou plan. As jy ʼn plan uiteengesit het om jou finansiële doelwit te bereik, hou daarby. Moet nie impulsiewe besluite neem of aankope maak wat jou plan in gedrang kan bring nie. Onthou om altyd sulke oorwegings teen die onskatbare waarde van jou kind se toekoms op te weeg.
  • Maak staat op professionele hulp. Daar is baie finansiële adviseurs en adviesdienste beskikbaar. Kry iemand wat jy vertrou en wat daartoe in staat is om vir jou objektiewe finansiële raad te gee. Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) bied onafhanklike advies oor finansiële behoeftes soos onder meer studiebefondsing. Vir meer inligting, kontak hulle by [email protected] of besoek hul webwerf by sfdienste.co.za

Akademia het verskillende afbetalingsopsies beskikbaar vir die 2024-studiejaar. Klik hier om meer oor dié opsies te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.