Hoërskool Menlopark: Jou wegspringblok na onbeperkte geleenthede!

(Foto verskaf deur Hoërskool Menlopark)

Ken jy die opwinding van ʼn F1-wegspring waar renjaers met polsende harte op die groen lig wag?

Die rooi lig word binnekort groen vir graad 7-leerders en dié wat kies om hulle tenks met Menlo-brandstof te vul, kan na ʼn weergalose hoërskoolavontuur uitsien! Hierdie is nie ʼn besluit wat ligtelik geneem word nie en daarom word elke graad 7 na die Hoërskool Menlopark in Pretoria se opedag genooi om die Parkies-model vir ʼn toetsrit te neem. Loer solank na dié model se spesifikasies:

Ywer, respek, integriteit en lojaliteit is die as waarom Menlo-bande draai. Daarby is die balansering tussen akademie, sport en kultuur absoluut akkuraat. ʼn Kerngesonde akademie skep ʼn teelaarde vir suksesvolle deelname op ander terreine en gee aan Parkies die selfvertroue om hulle talent op sport- en kultuurgebied te ontgin.

Menlo word deur ʼn formidabele akademiese enjin aangedryf – dit word vanaf graad 8 fyn ingestel om te verseker dat Menlo-matrieks enige roete ná skool kan inslaan. Menlo respekteer akademiese uitnemendheid en daarom bars Menlo-harte van trots wanneer 2021 se uitslae in die truspieël verbyflits:

  • Aantal matrieks – 294
  • Slaagsyfer – 100%
  • Graadgemiddelde – 72,8%
  • Graadvrystellingskoers – 95,4%
  • Aantal A-simbole – 858
  • Aantal B-Simbole – 575
  • Leerders met A-gemiddelde – 101
  • Leerders met B-gemiddelde – 100
  • Aantal onderskeidings per kandidaat – 2,9 (Menlo-rekord)
  • Gemiddelde van die kernvakke (Afrikaans, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe en Rekeningkunde) – 73,7%
  • Nasionaal in die top-3 met Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Afrikaans en Rekeningkunde én behaal ʼn 100% slaagsyfer in al vier hierdie vakke.

(Foto verskaf deur Hoërskool Menlopark)

Parkies vul hulle tenks met hoë-oktaan-brandstof – gewaarborg om genoeg energie te gee om elke toekomsdroom na te jaag. Stop ʼn Parkie in die kuipe, kan hy/sy op die ondersteuning van ʼn betroubare span staatmaak… ʼn Span met visie en ʼn nimmereindigende strewe na uitnemendheid.

By die Hoërskool Menlopark word die akademiese enjin deur ʼn dinamiese ratkas aangevul. Die parkeerstelling word min gebruik en die neutralestelling ontbreek, want Parkies is altyd aan’t beweeg. Die verhoog in die skool se eie Blou Teater is die vertoonvenster vir entoesiastiese deelname aan kultuuraktiwiteite en dié wissel van koor (Menlo spog terloops met een van die beste gemengde kore in die land), revue, redenaars en debat tot drama, toneel, orkes en ensemble. Die Menlo-musiek-akademie is waar musici hulle talent slyp, terwyl aspirantskrywers húlle slag met woorde by die skoolkoerant wys.

(Foto verskaf deur Hoërskool Menlopark)

Menlo se eie F1-baan bestaan uit vele fasette en elke Parkie het toegang tot die skool se eersteklasfasiliteite. Menlo se curriculum vitae vir sport is indrukwekkend:

  • Atletiek – Wenners van die A-bond interhoër vir 20 jaar agtereenvolgens.
  • Swem – Wenners van die A-liga swemgala met top-3-posisies in die B- en C-liga.
  • Rugby – Menlo huisves nie net die Virseker Beker nie, maar bied geleentheid vir die ontwikkeling van spelers.
  • Netbal – Drie Menlo-spanne beklee ʼn top-5-plek op die SA-ranglys.
  • Hokkie – Menlo spog met seun- en dogterspanne onder die voorste agt spanne in Suid-Afrika.
  • Krieket – Wenners (o. 15) en naaswenners (eerstespan) van die gesogte Finsbury-reeks.

Benewens hierdie sportsoorte bied die skool gholf, tennis, muurbal, landloop, skaak en ruitersport aan.

Die Hoërskool Menlopark is ʼn voorloper. Skuif jou kop en neem jou plek in die voorste posisie by Menlo se opedag in. Hier sal jy vind dat 100% nie net ʼn slaagsyfer is nie – dit is die Menlo-manier. Maak jou sitplekgordel vas!

(Foto verskaf deur Hoërskool Menlopark)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.