Is my kind gereed vir graad een?

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Deur Marietjie Havenga

Elke jaar wonder ouers van graad R-kinders of hulle kinders werklik skoolgereed is. Dit is ʼn baie moeilike situasie omdat jy moet besluit oor iets wat moontlik ʼn groot uitwerking kan hê op die toekoms van jou kind, vir wie jy wil net die heel beste wil hê. Ek wil graag in die artikel ʼn paar riglyne deel wat ouers en onderwysers kan bystaan met hierdie belangrike besluit.

Watter faktore moet jy in oorweging bring?

Die departement van basiese onderwys (DBO) vereis dat ʼn leerder formeel skoolpligtig is in die jaar wat hy of sy sewe jaar oud word. Om skoolgereedheid aan ouderdom te meet, is problematies omdat elke kind teen sy of haar eie tempo ontwikkel. Daar is verskeie faktore wat die tempo van ʼn leerder se ontwikkeling kan beïnvloed, byvoorbeeld ʼn premature geboorte, blootstelling aan die nodige skoolgereedheidsvaardighede, die maand van geboorte (begin of einde van die jaar), om net ʼn paar te noem. In Suid-Afrika mag ʼn leerder reeds op die ouderdom van vyf en ʼn half graad een toe gaan. Dit is dus moontlik dat ʼn graad 1-klas kan bestaan uit leerders tussen die ouderdomme van vyf-en-ʼn-half tot agt-en-ʼn-half, wat leerders wat graad R herhaal het óf graad een gedruip het insluit. Ouderdom is dus nie ʼn goeie maatstaf om skoolgereedheid te meet nie. Dit is selde indien ooit een ontwikkelingsarea wat skoolgereedheid bepaal. Ontwikkelingsareas wat die sosio-emosionele, fisiese en kognitiewe ontwikkeling van die leerder insluit, is noodsaaklik vir die evaluering van skoolgereedheid.

Sosio-emosionele ontwikkeling

Die skoolomgewing verander vanaf ʼn informele na ʼn formele omgewing waar leerders vir langer tye moet stilsit en aandagtig moet kan luister. Die graad 1-leerder moet aanpasbaar wees. In graad een moet ʼn leerder sy of haar emosies kan reguleer en selfbeheersing toepas. Positiewe interaksie met ander leerders en onderwysers vorm deel van ʼn gesonde omgewing waar optimale leer kan plaasvind. ʼn Graad 1-leerder moet sy of haar beurt kan afwag en aan groepspeletjies kan deelneem. Wanneer ʼn leerder hierdie sosio-emosionele vaardighede ontwikkel het, kan hy of sy met meer selfversekering in die onbekende “groot skool” instap. Dit is belangrik dat die leerder selfgeldend kan kommunikeer, sodat sy of haar selfvertroue nie ʼn knou in die eerste skooljaar kry nie.

Fisiese ontwikkeling

Babas kruip voordat hulle kan loop. Op dieselfde wyse ontwikkel grootmotoriese vaardighede voor fynmotoriese vaardighede. ʼn Graad 1-leerder kan nie stil sit op ʼn stoel en in ʼn lyntjiesboek skryf indien hy of sy nie genoeg spiere, deur beweging, ontwikkel het nie. Leerders wat nie fisiek gesond en sterk ontwikkeld is nie, word gouer moeg in die klas en sukkel met hul werkstempo.

Kognitiewe ontwikkeling

Dit is algemeen bekend dat nuwe kennis op bestaande kennis gebou word. In graad R word die leerder spelenderwys blootgestel aan verskeie konsepte. Dieselfde konsepte word in graad een herhaal, maar hierdie keer op ʼn formele wyse. Indien ʼn graad 1-leerder nie genoegsame sensoriese en fisiese blootstelling aan basiese konsepte gekry het nie, is die formele benadering die verkeerde wegspringblok vir leersukses. ʼn Beperkte begrip en woordeskat maak die leerproses geweldig uitdagend.

Wat is die voordele van graad R-herhaling?

 Die leerder betree graad een met die nodige blootstelling, volwassenheid en vaardighede om ʼn sukses van sy of haar skoolloopbaan te maak. Dit lei tot ʼn goeie selfbeeld wat leer bevorder. ʼn Huis wat op ʼn stewige fondasie gebou word, sal ʼn stewige huisstruktuur verseker. Dieselfde beginsel geld vir die leerproses.

Die informele atmosfeer wat in graad R heers, gee vir leerders die geleentheid om teen hul eie tempo te ontwikkel, sonder die druk van kurrikulumvereistes en verwagtinge wat oor die algemeen in ʼn formele graad 1-omgewing voorkom.

Graad R maak gebruik van ʼn rotasiestasie as leermodel, waar daar ʼn gemiddeld van drie tot vyf leerders by ʼn stasie werk. Dit gee vir die onderwyseres die geleentheid om aan drie tot vyf leerders op ʼn slag hoogs verpersoonlikte onderrig en leiding te gee. In ʼn graad 1-omgewing vind onderrig gewoonlik in klasverband plaas, en baie keer kom dit neer op ʼn onderwyser-leerderverhouding van 1:40. Leer vind stadiger en minder effektief plaas in hierdie tradisionele model.

Die kanse is baie goed dat ʼn leerder wat graad R herhaal het, graad een sal slaag. Die leerder het nie graad R gedruip nie en die besluit word gewoonlik deeglik deur ʼn span, wat bestaan uit ouers, opvoeders en terapeute, geneem. Indien ʼn leerder nie skoolgereed was nie en graad een druip, kan dit blywend deur die res van sodanige leerder se skoolloopbaan ʼn gevoel van mislukking en akademiese onvermoë kweek. Dit is die teenoorgestelde gevoel wat ʼn graad R-leerder, wat herhaal, ervaar.

Wat is die nadele van graad R-herhaling?

Die sosiale stigma dat die leerder moontlik gedruip het, kan van tyd tot tyd opduik. Dit is noodsaaklik dat die ouers en onderwysers doeltreffend met die kind moet kommunikeer en self positief moet wees oor die herhaling. Indien ʼn ouer negatief is en ʼn persoonlike stigma koester oor herhaling, sal dit onvermydelik die leerder benadeel.

Die ander nadeel van herhaling is dat leerders in sport vir die res van hulle skoolloopbaan teen hul eie ouderdomsgroep kompeteer en nie met hulle graadgroep (wat jonger is) nie. Die ouers se deurlopende kommunikasie en ingesteldheid hieroor speel weereens ʼn groot rol in hoe die leerder dit sal ervaar. Dit is natuurlik ʼn geleentheid vir die leerder om ʼn wyer sosiale sirkel te vorm en om sy of haar sosiale en emosionele intelligensie te versterk.

Die vrees dat die leerder nie meer maats gaan hê nie omdat sy of haar maats graad een toe gaan, moet vervang word met ʼn groei-ingesteldheid waar leierskapsvaardighede in die nuwe graad R-groep kan ontwikkel, asook verhoogde aanpasbaarheid en sosio-emosionele ontwikkeling.

Finansieel is dit natuurlik nadeliger as jou kind ʼn graad herhaal omdat dit uiteindelik ʼn jaar se ekstra skoolgeld beteken.

Ouers en die skool se ingesteldheid teenoor herhaling gaan bepaal of dit ʼn positiewe ervaring vir die leerder sal wees. Dit is nie regverdig om van ʼn leerder te verwag om vaardighede te bemeester waarvoor hy of sy nie in die bepaalde ontwikkelingsfase gereed is nie. Ontwikkeling wat op ʼn natuurlike wyse plaasvind, met die nodige ondersteuning en stimulerende omgewing, sal verseker dat ʼn leerder ʼn liefde vir leer ontwikkel en ʼn sukses van sy of haar skoolloopbaan sal kan maak. Die grootste bepalende oorweging om ʼn graad R-leerder te laat herhaal of na graad een te bevorder, moet altyd in die beste belang van die leerder se algehele ontwikkeling wees.

  • Marietjie Havenga is die hoof van Skuilrosie-kleuterskool en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se kleutervereniging.

Lees nog soortgelyke artikels hier op die SOS se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antie Sarie ·

Daar is duidelik n verskil tussen vandag se kinders en dertig jare gelede se kinders. Vandag se vyfjariges kan nie eers meer vol sinne behoorlik praat nie. Ek twyfel of hulle teen tien skool gereed sal wees.

Kirst ·

Skermtyd dra niks by tot ‘n kind se ontwikkeling nie, en ongelukig gebruik baie ouers skerms om hulle kinders besig te hou. Ons kinders (5 en 7) se skermtyd is van kleins af beperk tot ‘n halfuur ‘n dag, en hulle het nie fone nie en weet nie hoe om ons fone te ontsluit of gebruik nie. Hulle is baie lief vir stories lees en boeke, en hulle woordeskat is baie goed.

VaalDonkie ·

My kind het geleer Ingels praat op Netflix. Sy is nou volkome tweetalig en sy’s maar vier jaar oud.

Chantel ·

Dis vir my erg om te dink dat sulke klein kindertjies al op 5 en 6 gedril word om reeds skoolgereed te wees. Ek is bitter dankbaar ek het groot geword in die 70’s. Ons kon nog kinders wees. Aan die ander kant, is daar soveel ouers wat nie WIL hoor dat hulle klein lyfie nie gereed is vir skool nie, want wat gaan die mense dan tog sê as die lyfie nog ‘n jaar Gr R moet doen, min wetende dat dit soveel beter is vir daar kind. Ek wens soms ouers wil luister vir onderwysers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.