Jong Stadsboer Veldskool in die Bosveld aangebied

(Foto: Berchtesgaden)

In die hartjie van die Bosveld, net buite Vaalwater, sal jy die tuiste vind van die Jong Stadsboer Veldskool. Die tweede veldskool vir 2022 vir leerders van graad 8 tot 10 word vanaf 2 tot 8 Oktober 2022 aangebied. Dit beloof om soos die voriges weer gou volbespreek te word, omdat slegs 30 leerders toegelaat word – skryf dus betyds in! As jy in graad 7 of graad 11 is, is jy welkom om ook te laat weet as jy graag dié veldskool wil bywoon.

Berchtesgaden Game Ranch & Lifestyle Farm is die gasheer en bied ʼn week in die Bosveld waarop elke Jong Stadsboer verseker sal kan terugkyk en langer sal wil aanbly. Talle van diegene wat al dié veldskool bygewoon het wil nou net boer, ander is geïnspireer, maar almal is dit eens: hulle verlaat die Bosveld met ʼn magdom kennis van die natuur- en dierelewe, lewensvaardighede, leierskap en baie algemene kennis van hoe om jou te hanteer en te oorleef en bewaring toe te pas.

Aktiwiteite word tussen die wildsplaas en die boerplaas aangebied waar kennis oorgedra word en daar baie interaksie met die diere en natuur is.

Sien uit na kontak op verskillende vlakke met die wildsbokke, melkkoeie, kallers, skape en lammers, varke, hoenders en boerbokke. Daar mag dalk ook weer hanslammers wees wat hulle daaglikse melk uit jou hand gaan drink. Ons plaas ook baie klem op die plantegroei van die omgewing, die belangrikheid van voeding vir die diere, die gevaar van sekere plante en die beskerming van Moeder Natuur.

Die plaaslewe gaan in volle glorie geniet word vandat jy opstaan (ná koffie en boerbeskuit), betyds om die koeie te melk en eiers uit te haal vir ontbyt totdat ons weer die diere vir hulle nagrus en veilige bewaring in die krale in jaag.

Daar is hope veld-avontuur en staptogte sodat jy prakties in spanverband deel kan voel met die ervaring wat die ongetemde bos bied. Aan die einde van die week, sodra almal die nodige kennis goed onder die knie het, word daar uitgeslaap om die kampvuur in die bos – daar waar die naggeluide jou bekoor. Die etes vir die aand word ook self voorberei nadat die beste skut dit van die veld afgehaal het – of nie!

Geniet gerus hierdie video voorberei deur een van die Jong Stadsboere na die 2020 kamp:

Steeds nie oortuig of hierdie kamp vir jou is nie?

Daar gaan nie ʼn veldskool verby waar ons nie die ongelooflik groei en genotvolle ervaring van elke kind beleef nie.

Alle aktiwiteite word onder toesig van bekwame en ervaring spanleiers aangebied.

(Foto: Berchtesgaden)

Buiten die Jong Stadsboer Veldskool bied ons ook ander kursusse aan: Rateltaai Avontuurkamp Gr. 11 vir die manne wat hou van uitdagings en Matrieksafari Gr. 12 as alternatief tot ʼn Ballito/Jeffreysbaai/Plettenbergbaai-“jol” waar jy en jou vriende hope vrye tyd het, maar in die rustigheid van die Bosveld.

Goeie nuus vir graad 6’e: Die navraag is groot om ook hierdie groep te akkommodeer waar ʼn klomp energie aan leierskapsvaardighede gewy sal word met die praktiese toepassing in die natuur.  Hou dop vir 2023!

Hierdie is maar net ʼn paar van die aktiwiteite in die week vir die jongspan; daar is ook baie ander vir die hele gesin by Berchtesgaden. Klik hier om meer te lees:  https://maroelamedia.co.za/leefstyl/reis/n-jag-en-wegbreekbestemming-om-van-te-droom/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.