Kaapse hoërskool bring teater na tieners

Cintaine Schutte vertolk die rol van “Mart” in ‘Die dinge van ‘n kind’. (Foto: Robert Hamblin)

Cintaine Schutte se soloproduksie Die dinge van ʼn kind is eersdaags op die planke by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

Dié speelvlak van die produksie later vandeesmaand bied hoërskoolleerders van 16 jaar en ouer wat ʼn belangstelling in drama en Afrikaans het die geleentheid om dié stuk te sien wat geskoei is op die gelyknamige roman deur Marita van der Vyver.

Francois Toerien het die teks geskryf en Lize van Rooyen behartig die verhoogbestuur. Schalk Joubert is verantwoordelik vir die klankbaan en Nicole Holm is die vervaardiger.

Pieter Rademeyer, wat onlangs as skoolhoof by Hoërskool Jan van Riebeeck aangestel is, is ʼn kampvegter vir die kunste en dit was sy inisiatief om die solovertoning by dié Kaapse hoërskool op die planke te bring.

Van der Vyver, skrywer van die boek wat reeds in 1994 vir die eerste keer uitgegee is, is opgewonde oor die verwikkelinge.

“Ek is dankbaar en opgewonde oor die skool se besluit om die toneelstuk ook vir leerders aan te bied. As tieners nie teater toe gaan nie, moet ons teater na tieners toe neem. Die dinge van ʼn kind is besonder geskik omdat dit oor tieners gaan.”

Hoewel die boek reeds in 1994 uitgegee is, bly die storie relevant. “Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad,” lui die begin van die hoofkarakter, Mart, se opwindende dog ontnugterende inisiasieproses met dié woorde van haar rebelse kamermaat.

Cintaine Schutte in ‘Die dinge van ‘n kind’. (Foto: Suidoosterfees)

Die trauma van grootword, swangerskap en selfmoord word geplaas teen die agtergrond van die 1970’s se politieke leuens en die verminking van jong mans in die grensoorlog.

Schutte, wat verlede by die kykNET Fiëstas een van drie kunstenaars was wat vir die eerste keer ʼn Sinjatuurtoekenning ontvang het, kon ten spyte van die inperking weens die pandemie al meer as 30 keer die rol van Mart vertolk.

“Daar was soveel kere wat ek tydens speelvlakke gewens het ek kan hierdie produksie na tieners toe neem. Dit is vir my so ʼn groot voorreg om te weet ek kan dit nou doen. Ek dink dit is belangrik vir tieners om teater te sien. Om in daai ouditorium te sit en tyd met hulself deur te bring en die spieël vir hulself op te hou. Dis kosbaar en waardevol.”

Die produksie is ook bekroon met die Aardklop-trofee vir beste solovertoning en was benoem vir ʼn kykNET Fiësta-prys vir teks- en solovertoning.

Cintaine Schutte in ‘Die dinge van ‘n kind’ (Foto: Robert Hamblin)

Die Suidoosterfees is betrokke by die jongste speelvak en help met tegniese en logistieke ondersteuning. Die produksie is oorspronklik moontlik gemaak deur die Aardklop Nasionale Kunstefees, NATi en die LW Hiemstra Trust.

Die dinge van ʼn kind is op 23, 24 en 25 Februarie om 09:00 en 12:00 by Hoërskool Jan van Riebeeck te sien. Toegang is R100 per leerder en kaartjies kan bespreek word by [email protected].

Nie-skoolgaande teaterliefhebbers ouer as 16 kan ook die produksie te sien kry op 23 Februarie om 19:00 en 27 Februarie om 14:00. kaartjies kos R140 of R120 per persoon vir blokbesprekings van meer as tien persone.

Kaartjies kan bespreek word by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.