Ken en bereik jou baba se mylpale

Deur Lea Brink

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argieffoto.)

Jou baba se ontwikkeling in die eerste 100 dae is van die allergrootste belang. Dit is bepalend vir latere groei en ontwikkeling en dit is hoekom dit so belangrik is dat hulle hul nodige mylpale behaal.

Kom ons kyk vinnig na hoe jou baba behoort te ontwikkel in die eerste jaar van sy/ haar lewe. Let wel, dit is nie ʼn uitgemaakte saak dat alle kinders al hierdie mylpale betyds sal haal nie want elke kind is uniek. Dit is dus net ʼn kort gids om ʼn aanduiding te gee van wat min of meer verwag kan word.

In die eerste drie maande sal jou baba onder meer reuke begin identifiseer, hul koppe vir kort tye regop hou, begin glimlag vir ander, poog om vir jou te kyk as jy praat, babbel en hul duime suig om hulself te sus.

Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) sê kinders sal in die vierde maand spontaan begin glimlag, jou gesigsuitdrukking en bewegings probeer naboots en daarvan begin hou om met ander te speel. Hulle hande en oë sal begin saamwerk, hul reageer op liefde en vertroeteling, hulle bring ook hul hande na hul mond toe, rol op hul ruggie vanaf hul maag, en skud ʼn speelding wat hulle vashou.

Ouers moet egter oplet indien hul kinders op hierdie stadium nie een of albei van hul oë in enige rigting kan beweeg nie, nie glimlag nie, nie hul hande na hul mond bring nie, nie hul kop stewig kan ophou nie en nie geluide maak nie.

Die babakenner Colleen de Bellefonds skryf op die BabyCenter-webwerf dat babas op vyf maande straks begin regop sit indien hulle deur kussings ondersteun word. Hulle begin ook voorwerpe optel en skuif met hul hande en verstaan oorsaak-en-gevolg soos die klank wat iets maak as dit op die grond val.

“Op vyf maande hou jou baba waarskynlik baie daarvan om te speel. En die wonderlike ding is dat dit hulle help om te leer, hul sintuie stukrag gee en hul vaardighede bou,” sê die ouerskap-skrywer Chaunie Brusie.

Op ses maande sal jou baba dit geniet om met jou en ander te speel, tussen bekende en onbekende gesigte onderskei, en dit geniet om vir hulself in die spieël te kyk. Hulle sal ook geluide verbaal naboots, hul naam herken en daarop reageer, en geluide maak om positiewe en negatiewe emosies te toon. Baie belangrik is dat hulle nou nuuskierig begin raak en speelgoed van naby wil bekyk. Hulle sal ook voorwerpe tussen hul hande uitruil. Hulle begin ook dan sonder ondersteuning te sit, rol om in albei rigtings, en wieg heen en weer.

Unicef sê ouers moet daarop let indien hul baba nie op hierdie stadium lag nie, nie op nabye klanke reageer nie, sukkel om iets in hul mond te druk, te pap óf styf voorkom, nie nabye voorwerpe wil gryp of omrol in enige rigting nie.

Volgens De Bellefonds behoort babas op sewe maande te kan reik na iets met een hand, voorwerpe van ver te kan bespeur, reageer op emosie in jou stem, en ʼn “hark”-beweging inspan om klein voorwerpe te skuif. Op agt maande begin hulle meer behendig te raak om voorwerpe tussen hul hande aan te gee, kan begin kruip en leer opstaan, en babbel heel flink.

Babas van nege maande oud sal begin om voorwerpe met hul duim en indeksvinger op te tel, goed in hul monde te sit en voorwerpe dophou soos hulle val. Ouers moet egter dophou indien hul babas nie kyk waar jy wys nie, nie op hul name reageer nie, nie babbel nie, nie bekende gesigte herken nie of speelgoed tussen hul hande kan aangee nie.

Op 10 en 11 maande sal babas begin om met speelgoed te eksperimenteer, begin wys na goed wat hulle wil hê, meer woorde verstaan, en basiese gebare gebruik soos om te waai as hulle totsiens sê.

Ná ʼn jaar behoort jou baba gebare en bewegings te begin namaak, voorwerpe teen mekaar te slaan, na die regte voorwerp te kyk as jy dit noem, en voorwerpe in houers sit en uithaal. Hulle kan ook tipies nou ʼn paar treë sonder ondersteuning neem, ʼn sittende posisie sonder ondersteuning inneem, en loop terwyl hulle aan meubels vashou.

Ouers moet in hierdie stadium daarop let indien hul babas nie kan kruip nie, nie na goed wys nie, nie eenvoudige woorde sê nie, of nie sonder steun kan staan nie.

ʼn Plek soos Pienkvoet Pret help jou baba om in ʼn gemaklike en veilige Afrikaanse omgewing deur verskeie soort oefeninge en speel sy of haar mylpale te bereik en selfs te oortref. Dis veel meer kostedoeltreffend en minder stresvol as om dit later deur terapie of ander maniere te probeer inhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.