Koester die stilles

(Foto: Maroela Media)

Ek weet nie wat is dit met ekstroverte nie, hulle wil alewig ʼn introvert aanneem en leer om ʼn bietjie uit ‘sy dop te kom’. Ek is ook skuldig hieraan. Ek probeer al vir ʼn hele rukkie om my introvert-oudste mak te maak vir gesels en in die oë kyk.

Ek dink as Jan eendag moet terugdink aan sy grootwordjare, sal “met wie het jy vandag gespeel?” soos ʼn seer vinger uitstaan. Dit is ʼn ou vragie wat by my uitglip nog voor ek regtig daaroor gedink het. Al van kleuterskoodae af is dit die eerste vraag wat ek in die kar vra op pad huis toe. In die kleuterskool was dit dieselfde name wat altyd geroteer het. Nou, in die laerskool, wissel dit van twee tot geen. Die dae wanneer hy met selfvertroue vir my vertel hy het pouse alleen gesit, breek nog ʼn stuk van my hart af. Hoe kan dit lekker wees op ʼn mens se eie? Hoekom loop hy nie ʼn draai en kyk wie geselskap soek nie, daar is tog altyd ʼn maatjie vir ʼn praatjie.

Sonder om te veel te karring, beweeg ons maar vinnig weg van die maatjie-gesprek. Buitendien, as ek te lank aanhou, sal Jan baie vinnig vir my sê hy het nou genoeg hieroor gepraat.

As ek net twee keer ʼn week ʼn sinvolle gesprek met ʼn vriendin gehad het, voel ek nog steeds leeg en half lammerig van binne. Dit is bitter moeilik om te verstaan dat iemand nie geselskap soek nie, al is dit net af en toe. Maar ek dink al weer net aan myself. Ek moes in ʼn introvert se skoene probeer stap om te verstaan hoekom hy doen wat hy doen.

Buite hom woel die wêreld, maak geraas, kom in konflik, maak onbenullige praatjies en beheer. As jy jouself daarvan distansieer is jy veilig. Skaam? Baie. Verstaan hy homself en weet hy wat vir hom werk? Jip. Hy doen niks onnodig nie. Hy beplan wat hy wil sê. Hy praat nie om leë spasies te vul nie, want as ʼn mens kosbare stilte wil breek, moet dit sin maak. Om alleen te wees, beteken nie noodwendig jy is eensaam nie. In jou gedagtes is daar prente, jy sien kinders rondloop en jy kan self in jou gedagtes gesprekke opmaak en ʼn hele storie kan voor jou afspeel. Om alleen onder ʼn boom te lê met jou warmsjokolade pouse, is om jou gedagtes te orden, lekker te sit en giggel vir iemand wat snaakse gesigte trek en om jou bene te strek na ʼn lang sessie in die klas.

Omdat hy homself afsonder van die groep, maak dit sy sintuie sensitief en kan hy observeer en luister soos wat party grootmense nie eens kan nie. Hy is bewus van sy omgewing en hoe hy daarin pas. Soms laat glip hy een of twee woorde deur wat my laat besef die lewe gaan nie by hom verby nie, al lyk dit net vir my so.

Elana Barker (Foto verskaf)

Verhoudings is vir hom belangrik, al het hy min. Die bietjie wat hy het is vir hom lekker. Op die stadium is dit ons gesin en ʼn paar naby familielede, maar dit is sy wêreld en dit maak hom gelukkig. Hy kan sien as ek nie lekker voel nie, nog voor ek vir myself besluit het ek voel goor, en dan word dit reg gedokter met ʼn Lego-skepping wat op my lessenaar verskyn of ʼn koekie uit die koskas.

Om aanmekaar te karring dat dié diep denker ʼn bietjie ontspan en ophou wonder oor hoe dinge werk en net met Pokémon-kaarte speel, sal hom en my net moedeloos maak. Terwyl ek hom nog vir ʼn ruk onder my vlerk het en hy nie lus is om by die hele straat se maats te gaan kuier nie, leer ek by hom. Ek hoef niks te doen wat onnodig is of wat nie sin maak nie, ek hoef nie poefpraatjies te maak nie en ek moet meer dink oor dinge.

Die wêreld het hopeloos te veel praters, die handjievol stilles moet gekoester word, want hulle het al die antwoorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Linda ·

Dit is moeilik om n introvert te wees in n wereld wat wil he jy moet n ekstrovert wees.

OW ·

Party mense word met sosiale IK gebore en kan makliker met mense sosialiseer.Die wat dit moeilik vind,kan dit wel aanleer,maar dit hang van die persoon af of hy/sy dit wil aanleer.Niemand word gedwing nie.Om mense te ignoreer is net eenvoudig ongeskik.

Johan Tredoux ·

Ek ignoreer net mense wat nie waardig is om voor my aangesig te staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.