Kom toets jou wiskundekennis saam met Wolkskool

(Argieffoto: Unsplash)

Gr. 12-leerders kan nou hulle wiskundekennis deeglik toets vir die rekord- en eindeksamen met ʼn gestandaardiseerde vraestel en memorandum vir dié vak, wat van Maandag af op die Wolkskool se platform gratis beskikbaar is.

Kundiges het gehelp om die vraestel saam te stel en dit bied ʼn gulde geleentheid aan matrikulante om hulle kennis aan eksterne standaarde te meet. Die uitslae van die vraestel is boonop onmiddellik beskikbaar en leerders kan dadelik met behulp van die memorandum hulle antwoorde vergelyk.

“Leerders weet dus onmiddellik waar hul tekortkominge is en kan ordentlik voorberei vir die belangrike rekord- en eindeksamen van hulle matriekjaar,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie by dié aanlyn leerplatform van Solidariteit se Skoleondersteuning.

Onderwysers wat op die Wolkskool registreer is, het volledige toegang tot die inhoud. Dit stel hulle in staat om met een oogopslag te sien waar daar ingryping by hulle wiskunde-leerders nodig is. Hulle hoef dus nie vir ure te werk om vraestelle op te stel en weer na te sien nie.

Ouers kan ook insae kry in die vlak waarop hulle kinders wiskunde bemeester het en kan hom of haar begelei en aanmoedig om so goed as moontlik voorbereid te wees vir die komende matriekeksamen.

Verder skep dit ook ʼn geleentheid vir die leerders om te konserteer op die afdelings wat nog steeds ʼn uitdaging vir hulle in die vak is. Leerders behoort na die voltooiing van die vraestel beter voorbereid te wees vir hulle skool se interne rekordeksamen, maar ook meer gereed vir die eindeksamen.

Die formaat van die vraestel is in multikeuse volgens die KABV-fokusareas gegroepeer en dit behoort binne drie uur voltooi te word. Daar is 50 vrae per vraestel en die moeilikheidsvlakke van die vrae wissel van maklik tot matig en “klippe-kou” moeilik. ʼn Volledige memorandum met modelantwoorde word beskikbaar gestel.

Lees hier meer oor wat die eksamen presies behels en teken van 7 September in op die Wolkskool om die vraestel aanlyn af te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wilhelm ·

Ek kan nie genoeg sê watter goeie kwaliteit inhoud die wolkskool bied nie. Ek het ook van die ‘live’ wiskunde klasse saam met my kind gekyk, en ek is stom geslaan oor hoe goed dit gedoen word. Hierdie is die toekoms van onderwys, ek kan net sê baie geluk en baie dankie.

saggiespraat ·

So nog mense gaan sonder werk sit, want dan is onderwysers mos nie meer nodig
arme kinders van vendag en toekoms van onderwyswers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.