Leesgeletterdheid bepalend vir mens- én nasiewees

(Foto: Eliott Reyna/Unsplash.)

Deur Marnelda de Beer, Marié Gräbe en Jana Terblanche

Volgens die jongste studie oor wêreldwye leesgeletterdheid (PIRLS 2021) is graad 4-leerders in Suid-Afrika van die swakste lesers ter wêreld: Agt uit tien van hierdie leerders (81%) kan nie met begrip lees nie. Boonop dui die PIRLS-verslag daarop dat die departement van basiese onderwys se nasionale leesplan van 2019 steeds sukkel om aan die gang te kom. Dít is onrusbarend. Lees stel ons immers in staat om te kommunikeer, te leer, te dink en te verstaan, en dra by tot ons algemene ontwikkeling en welstand. Samewerking tussen ouers, onderwysers en die onderwysdepartement is dringend nodig om hierdie uitdaging die hoof te bied.

Lees is die grondslag waarop individue hulle persoonlike en sosiale identiteite ontwikkel. Dít is wat hulle in staat stel om hulle omgewing te verstaan. Om leesgeletterdheidsdoelwitte te bereik verg dus ʼn strategiese, holistiese benadering deur sowel die formele onderwyssektor as ouers. So ʼn holistiese benadering behels:

  • die versekering van toegang tot onderwys van gehalte, wat deur voldoende hulpbronne onderstut word;
  • die opleiding van kundige en toegewyde moedertaalonderwysers;
  • die verskaffing van relevante leesmateriaal wat leerders se uiteenlopende omstandighede en leefwêrelde weerspieël;
  • die modellering van ʼn ‘leeskultuur’ deur volwassenes; en
  • die gestruktureerde ontwikkeling en vestiging van kritiese denke en goeie skryfvaardighede.

Voorvaardigheids- en grondslagfase (0 tot 9 jaar)

Lees is ʼn noodsaaklike vaardigheid wat doelbewus aangeleer moet word. Die proses begin reeds lank voordat die kind formeel leer lees en skryf. Trouens, die voorafvaardighede van lees vorm ʼn stewige en diepgewortelde grondslag vir kinders wanneer hulle na die leer-om-te-lees-fase aanbeweeg.

Eerstens is die sintuiglike en fisiese ontwikkeling van die kind van groot belang. Dít behels die ontwikkeling van vaardighede soos liggaamsbewustheid, balans, lateraliteit, spiertonus, ruimtelike oriëntasie, rigting en volgorde, sowel as ouditiewe en visuele persepsie.

Dit is ook noodsaaklik dat die kind aanvangs-, eind- en middelklanke in woorde kan onderskei. Daarbenewens moet kinders oor ʼn ryk woordeskat beskik en in staat wees om klanke ouditief te herken en te ontleed. Taalvaardigheid op vierjarige ouderdom bied ʼn aanduiding van hoe lees- en skryfvaardig die kind teen graad 4 sal wees.

In die grondslagfase beveel die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) die sintetiese klankbenadering vir leesonderrig aan. Hiervolgens word simbole (letters) individueel óf as ʼn lettergroep (oe, ou, aa, oo) aangeleer. Die klanke word reeds in die voorvaar­digheidsfase ouditief deur praat, luister en voorlees gevestig. Dié klankbenadering is doeltreffend vir die aanleer van klank- en letterverhoudings, en help leerders om woorde vinnig en akkuraat te dekodeer.

Woordeskat

ʼn Ryk woordeskat is uiters belangrik om betekenis aan nuwe woorde te gee, en stel leerders in staat om die woorde wat hulle in ʼn teks teëkom te herken en te verstaan. ʼn Uitgebreide en kleurryke woordeskat is die grondslag van suksesvolle leesbegrip. Sodoende herroep die leser bestaande kennis en ervarings om ʼn teks te ontsluit.

Om ʼn ryk woordeskat op te bou, moet ouers, opvoeders en onderwysers doelbewus nuwe woorde onderrig en leerders die geleentheid bied om dit te gebruik. Leerders se woordeskat kan ook uitgebrei word deur lees-, gespreks- en ander leerervarings wat hulle aan ʼn verskeidenheid woorde en konsepte blootstel.

Intermediêre fase (10 tot 12 jaar)

Baie kinders in hierdie fase ondervind leesprobleme, waaronder:

  • probleme met dekodering, waar die leser sukkel met klank- en lettergreepherkenning en byvoorbeeld nie woorde kan uitklank nie;
  • swak leesvloei, waar die leser die woorde en reëls met die vinger of selfs die kop volg; en
  • vertraagde taalontwikkeling en ʼn beperkte woordeskat.

Leesprobleme kan ook aan fisiologiese faktore te wyte wees, waaronder Irlen-sindroom (ʼn visuele verwerkingsprobleem), gereelde oorontsteking, of fonologiese disleksie. Dit kan ook gewoon die gevolg wees van ʼn gebrek aan belangstelling.

Boonop kan ouers en onderwysers tot swak leesvaardighede bydra deur ʼn gebrek aan voldoende voorlesing en gestruktureerde leesonderrig.

Gebrekkige leesvaardighede en begripslees kan hanteer word deur ʼn leeskultuur en positiewe leesomgewing te skep: Leerders moet veilig voel, selfs al is hulle leesvaardighede swak. Die vroeë identifisering van leesprobleme stel opvoeders ook in staat om die regte intervensies in werking te stel.

 Sintuiglike leerpret

Dit is noodsaaklik om sig, klank en aanraking by die leesproses in te sluit. Hoe meer sintuie betrek word, hoe makliker leer kinders lees. Gebruik voorlesings en kleurryke prenteboeke, of laat lesers aan items vat of ruik. Sodoende word hulle aktief by die leesproses betrek en prikkel dit hulle nuuskierigheid om méér te wil leer.

Die keuse van toepaslike leesmateriaal is ewe belangrik om lesers se belangstelling aan te wakker. Gebruik verskillende tipes tekste, waaronder storieboeke, interessante tydskrifartikels en grafiese romans, om verveling te voorkom.

Ontwikkel ook leerders se woordeskat. Hoewel dit belangrik is om omvattende lees te bevorder, moet woordeskat doelbewus onderrig word om woordkennis uit te brei.

Boonop moet verskillende leesbegripstrategieë onderrig word, waaronder voorspelling, vraagstelling en opsomming.

Die belang van tegnologie

Tegnologiese hulpmiddele soos elektroniese leesprogramme kan van groot nut wees vir kinders met leesprobleme. Nietemin is dit ook noodsaaklik dat ouers aan leesonderrig deelneem en hulle kinders aanmoedig om te lees eerder as om byvoorbeeld rekenaarspeletjies te speel. Gee die nodige erkenning wanneer kinders se leesvaardighede verbeter, en inspireer hulle deur self ʼn entoesiastiese leser te wees.

Die internet bied kinders deesdae kitstoegang tot ʼn enorme verskeidenheid leesmateriaal en inligting. Hierdie ontwikkeling het ʼn groot impak op kinders se leesgewoontes en blootstelling aan verskillende tekste. Boonop bied die digitale era interaktiewe leeservarings soos aanlyn speletjies, leestoepassings, digitale tydskrifte, en animasie. Hierdie tipes leesmateriaal kan kinders se aandag boei en hulle aanmoedig om langer te lees.

Hou egter in gedagte dat die gehalte van die leesmateriaal op die internet wissel. Nie alle inligting is akkuraat, betroubaar of geskik vir jong kinders nie.

Vir kinders wat met die fisiese leesproses sukkel, is oudioboeke dalk ʼn nuttige alternatief. Sodoende kan hulle na die boek luister terwyl hulle saamlees, wat met dekodering en begrip kan help. Soos met enige hulpmiddel, is dit egter belangrik dat die tegnologie op ʼn gebalanseerde en doelgerigte manier aangewend word.

 ʼn Hoë geletterdheidsvlak (skriftelik, visueel én digitaal) bemagtig ons om toegang tot kennis te verkry, tot die land se ekonomiese vooruitgang by te dra, en voluit aan die kulturele en sosiale lewe deel te neem. Dit help ons die nodige vaardighede aanleer om doeltreffende werkers te wees.

Boonop is ʼn behoorlike leeskultuur ʼn belangrike manier om die land se taal- en kulturele diversiteit te handhaaf en te bewaar.

 “Boeke is die stilste en mees standvastige vriende, die toeganklikste en verstandigste raadgewers, en die geduldigste onderwysers.” – Charles W Eliot

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.