Luister: Kurrikulum en KABV is nie sinonieme

Dr. Chris-Mari Le Hanie (Foto verskaf)

Die term ‘kurrikulum’ is nie maklik om te definieer of te verduidelik nie. Die rede hiervoor is dat verskeie kurrikulumkundiges, pedagoë en beleidmakers verskillende wêreldbeskouings gebruik om die term ‘kurrikulum’ te evalueer en te begryp. Verskillende definiërings van kurrikulum behoort aangemoedig te word. Die vermenigvuldiging van kurrikulumdefinisies is nie ’n dringende probleem wat opgelos moet word nie, maar ʼn teken van groei van kurrikulumstudies as dissipline, en daarom ook ’n akademiese ruimte wat ondersoek moet word.

Kurrikulum kan vanuit ʼn noue of breër perspektief benader word. Die noue perspektief tot kurrikulum verwys dikwels na die formele akademiese programme wat deur opvoedkundige instellings aangebied word, in die vorm van vakke of modules, tydroosters, spesifieke kursus van instruksie, handboeke en sillabus. Hierdie noue perspektief van kurrikulum domineer dikwels die verstaan van kurrikulum in die Suid-Afrikaanse konteks. Daarom word die aanname dikwels gemaak dat die terme ‘kurrikulum’ en die ‘kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring’ (KABV, ook bekend as CAPS), ʼn beleidsdokument, sinonieme is. Die breër perspektief tot kurrikulum sluit alle kernelemente van onderrig en leer in soos beplande uitkomstes, leerprogramme, pedagogiese praktyke, buite-kurrikulêre aktiwiteite, kontekstuele faktore van die leeromgewing en soveel meer.

Dit is belangrik dat onderwysers kurrikulumgeletterd is om onder andere hulle rol en waarde as kurrikulum-ontwikkelaar op mikro-vlak te begryp. Hierdeur kan opvoeders die breër perspektief van kurrikulum in ag neem wanneer kurrikulum beplan, geïmplementeer en geassesseer word om te verseker dat geen leerder gemarginaliseer of benadeel word nie. Opvoeders mag wel, en moet, die kurrikulum op mikro-vlak innoveer tot voordeel van die diverse behoeftes van elke leerder in hul klas.

In hierdie episode van Podvoeding bespreek ons al hierdie sake rondom kurrikulum met dr. Chris-Mari Le Hanie. Sy is ʼn senior dosent in opvoedkunde aan Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met Kurrikulumstudies asook ʼn honneurs-en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf.

  • Skink ʼn koppie boeretroos en kom luister saam na die volledige gesprek hieroor boaan die teks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.