Ma, Pa: Ek gaan emigreer

Foto ter illustrasie. (Foto: Elizabeth Tsung/Unsplash)

Deur dr. Sulette Ferreira

Jy dink al lank daaraan. Dit is ʼn wipwarit. Gaan jy of bly jy? Jy het die voordele en nadele teen mekaar opgeweeg. Wat gaan jy wen? Wat gaan jy verloor? Dan hierdie kant toe, dan daardie kant toe. Die hobbelrige rit na die buiteland is ʼn uitgerekte en veeleisende proses. Dit was nie ʼn maklike besluit nie, maar jy het uiteindelik die keuse gemaak.

Jy het besluit om te emigreer.

Die rimpeleffek van jou keuse kring al wyer – dwing jou om eienaarskap te neem, nie net van jou besluit nie, maar ook van die emigrasieproses. Deel van die proses is om so gou moontlik jou geliefdes oor jou besluit in te lig.

Maar om jou geliefdes, en veral jou ouers, te vertel is nie maklik nie.

Verandering is onafwendbaar

Van al die veranderinge waaraan ʼn mens in jou lewe blootgestel word, is emigrasie sekerlik een van die mees komplekse prosesse – nie net vir die persoon wat emigreer nie, maar ook vir dié wat agterbly. Hierdie verhuising na ʼn ander kontinent, hetsy dit tydelik of permanent is, is ʼn geleentheid wat vir die meeste mense asembenemend, opwindend, stimulerend, maar ook tegelykertyd angswekkend kan wees.

Die ‘drama’ van emigrasie begin gewoonlik lank voordat ʼn mens die land fisies verlaat. Daar is talle praktiese reëlings wat getref moet word: van die verkoop van ʼn huis en voertuie na die reël van visums, sluiting van bankrekeninge en kansellasie van versekering. Daar moet ook na ʼn nuwe blyplek en skole gesoek word, alles in ʼn vreemde land. ʼn Administratiewe nagmerrie.

Al hierdie administrasie en logistieke reëlings kom egter nie naby die emosionele warboel en chaos waarin jy jou bevind in die maande voor die groot trek nie. ʼn Groot deel van hierdie emosionele aspek van emigrasie is die oomblik wanneer jy jou geliefdes, wat so ʼn belangrike rol in jou lewe speel, moet inlig dat jy emigreer.

Die verwesenliking van jou droom is dalk die versplintering van jou ouers se toekomsvisie. Dít waarna hulle uitgesien het – om hulle kleinkinders te sien mens word asook julle betrokkenheid en ondersteuning in hulle wêreld – word nou van hulle weggenneem.

Gesels so gou moontlik

Hoekom is dit belangrik om vir jou geliefdes te sê dat jy weggaan?

Die ervaring van emigrasie is selde eendimensioneel: daar is ʼn hele aantal mense betrokke; nie net die persoon wat emigreer nie. Selfs al is dit jou eie keuse om te emigreer, is dit steeds ʼn spanningsvolle ervaring vir almal betrokke. Vertel diegene naaste aan jou dus so gou moontlik. Maak hulle deel van jou emigrasieproses. Gee hulle kans om aan die idee dat julle verhouding gaan verander, gewoond te raak. Laat hulle toe om voor te berei vir ʼn lewe sonder julle nabyheid.

Onthou dat jy steeds te midde van hierdie groot besluit verlang na jou ouers se goedkeuring en seën. Gun hulle daarom die tyd om aan te pas by julle nuwe en opwindende agenda! Deur julle besluit openhartig te kommunikeer, skep julle waardevolle kommunikasiekanale en baan julle die weg vir toekomstige gesprekke – ʼn goeie grondslag vir gesonde verhoudings.

Wat om te verwag

Onthou, vir jou geliefdes wat agterbly, gaan die toekoms meteens baie valer lyk, sonder julle in die onmiddellike omgewing. Naby familie en vriende sal moontlik nie baie opgewonde wees oor die feit dat julle weggaan nie. Gevoelens soos hartseer, teleurstelling en angstigheid is ʼn normale reaksie. Die groot nuus kan dalk veroorsaak dat ou koeie uit die sloot gegrawe word. Hulle reaksie op vorige kere van afskeidneem kan ʼn goeie aanduiding wees van hoe hulle nou gaan reageer.

Hierdie soort gesprek kan nooit eensydig wees nie, jy moet dus weet dat jy dalk moeilike vrae sal moet beantwoord. Wees voorbereid op jou ouers se terugvoer: “Waarom wil julle dan weggaan?” Daar is die chaotiese politiek, die gebrek aan veiligheid, die dienslewering wat daagliks kwyn asook die gebrek aan goeie werksgeleenthede. Hoeveel redes wil hulle dan hê? Dit kan natuurlik ook die avontuur wees wat vir jou wink. Die buiteland het dalk soveel meer geleenthede wat jy graag sal wil ontgin. Jy moet weet wat die antwoorde op hierdie vrae is – nie slegs vir jou eie gemoedsrus nie, maar ook sodat jy dit sinvol aan die mense wat vir jou omgee kan verwoord. Hulle het duidelike, konkrete antwoorde nodig om hulle gerus te stel.

Wys dus dat jy hul bekommernisse begryp, soos dat jy julle toekomsplanne goed deurdink het. Sit die redes waarom julle weggaan mooi uiteen. Dink jou in hulle situasie in en probeer hulle gemoedsrus gee.

Hoe breek jy die nuus?

Elke emigrasie-situasie is uniek. Dus is daar ongelukkig nie ʼn voorgeskrewe tienpuntplan oor hoe om aan jou geliefdes die nuus te breek dat julle op pad is nie. Jy is dalk getroud en daar is twee ouerpare om in te lig. Dubbel die drama.

Jy gaan nie vra nie, jy gaan net sê

Daar mag dalk verskeie redes wees waarom jy onwillig is om die nuus oor te dra. Moontlik is jy skrikkerig dat daar ʼn negatiewe reaksie daarop gaan wees. Hou jy egter die nuus vir jouself, jaag jy jou stresvlakke hemelhoog om sodoende die las alleen te dra. Jy wil egter ook nie hê dat jou geliefdes by iemand anders moet uitvind van jou planne nie: vertel hulle dus self. Daarom is jou tydsberekening so belangrik.

Kommunikeer jou besluit sover moontlik ʼn paar maande voor die vertrek, byvoorbeeld as die vliegkaartjies bespreek is. Dan is daar al ʼn datum waarnatoe julle werk! Dit laat meer tyd toe om daaroor te gesels en om ʼn ondersteunende netwerk daar te stel. Dit is onregverdig om van jou ouers te verwag om hierdie nuus in ʼn kort tydsbestek te verwerk. Moet dus nie wag tot op die laaste nippertjie nie! Gee hulle genoeg tyd en inligting om julle perspektief beter te begryp. Wees bedagsaam en empaties wanneer jy die nuus aan jou ouers oordra.

Kies die omgewing waarbinne jy die nuus wil breek sorgvuldig. Maak ʼn afspraak in ʼn plek wat privaat is, soos jou ouerhuis, waar hulle op hulle gemak sal wees om uiting aan hul emosies te gee.

Ouers wat van die begin af by die kinders se emigrasie besluitnemingsproses betrokke is, bied gewoonlik minder weerstand. Oor die algemeen voel Suid-Afrikaanse ouers dat dit vir hul kinders meer voordelig gaan wees om in die buiteland te woon. Dit gaan nie die verlies wat jou ouers ervaar verminder nie, maar om hulle deel te maak van die proses berei hulle net soveel beter voor op die impak van julle vertrek.

Die toekoms

Ons vermy verandering met goeie rede: die bekende leefwêreld voel net soveel veiliger. Net so onbekend as wat die toekoms vir jou lyk, so ervaar jou geliefdes en veral jou ouers die toekoms sonder jou fisiese teenwoordigheid in hul wêreld. Deur jou ouers te respekteer en te ken in hierdie ingrypende besluit verbeter die moontlikheid dat jou familie jou hul volle ondersteuning gaan gee.

Ná die Covid–inperking en ‘werk van die huis’-beweging, is dit duidelik dat verhoudings steeds oor ʼn afstand in stand gehou kan word. Dit verg egter beplanning en vasbeslotenheid van die onderskeie partye. Fokus op die positiewe, soos om die maniere te bespreek waarop julle in kontak met mekaar sal bly: gereelde besoeke, oproepe en e-posse. Maak seker dat hulle vaardig is met die nuutste tegnologie wat daaglikse gesprekke moontlik maak. Skep sodoende ʼn veilige omgewing vir jou en jou geliefdes om die eerste paar uitdagende maande ná julle emigrasie suksesvol te navigeer.

  • Dr. Sulette Ferreira is ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika wat spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie.

Hierdie artikel het oorspronklik op Wêreldwyd verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Al wat ek kan sê, is dat die gras nie groener is aan die anderkant van die draad nie!!! Ek weet.

Jaco ·

Daardie nie so groen gras is ten minste sonder beurtkrag, swak vuil staatshospitale, lae standaard onderwys, die hoogste misdadigheid ter wêreld, en en en.

Frank ·

Jaco, anderkant is ook maar probleme, net hoërgraad variasies, eerste wereldse lande se variasies.
Steeds egter sal ek nie in my kinders se pad staan as hulle wil gaan ondersoek instel nie.

Erik ·

Ek dink die rede waarom iemand emigreer is baie belangrik:

Verkeerde redes:
1. Doen dit vir ons kinders (studies bewys dat daardie rede groot emosionele skade aan kinders doen, aangesien hulle skuldig voel indien dit nie goedgaan nie)
2. Kwaad vir alles en almal
3. Slegs om misdaad en swak dienslewering te vermy

Goeie redes:
1. Lus vir ‘n avontuur – wil die wêreld sien en beleef
2. Geen werksgeleenthede in jou beroep

As jy emigreer omdat ‘n slaggat of swak diens jou hier pla, gaan daar heelwat dinge daar ander kant jou pla.

Piet Snot ·

Ek: Ma, ons moet gaan.
Ma: Wat sou jou pa hiervan gesê het?
Ek: Hy’t voor sy dood gesê as ek wil gaan, moedig hy my aan.
Ma: Ek gaan na jou en jou liewe vrou verlang, maar ek seën jou, my kind.
Ek vandag, 10 jaar later: Dankie Ma, dit het ons lewe verander.

Di ·

Dink baie van ons sal graag wil immigreer maar dis net nie moontlik nie. Glo ook maar dat elke land ook sy eie probleme het. Ek leef elke dag met die gesegde “what will be, will be” Ek persoonlik glo dat die noodlot bepaal waar jy sal opeindig

Treurwilger ·

Die insiggewende artikel is tog duidelik as hulp bedoel vir mense wat reeds besluit het om te emigreer.
Dis nié ‘n vir- of teen- artikel nie.
“Die gras is nie (altyd) groener aan die anderkant van die draad nie” … maar dit is heel dikwels.
Daarvan kan honderdduisende getuig.

RS ·

My kind is van skoolgaande ouderdom nog, maar van dat hy op n vroee ouderdom uitgevind het van oorsee werk, wilhy gaan. Hy is deeglik bewus van die voordele en nadele. Ek gun hom dit. As hy voel hy wil vir hom n lewe maak oorsee eerder as in SA is dit goed so. vandag se tye is die gewone beweeg wereld baie baie weier as net in SA soos toe ons ouers en voorouers moes n lewe maak. Ek moedig enige iemand aan om dit ten miste te probeer. AS dit vir jou werk is dit fantasies….as dit nie vir jou werk nie dan kan jy weer probeer terug op eie bodem.

AH ·

Ek is heeltemal ten gunste daarvan dat jongmense emigreer. Ek sou ook as ek kon. Van my familielede is nou besig met reëlings tref om te emigreer. Suid-Afrika kan hulle nie meer iets goed bied nie. Die betrokke persone sukkel om werk te kry in hul betrokke beroepe. Hulle wil hul jong kinders ‘n beter toekoms bied waar hulle normale lewens kan hê sonder om nagte om wakker te lê en wonder wat die toekoms in Suid-Afrika inhou. Ek gun hulle dit met my hele hart en as my kinders wil emigreer sal ek hulle aanmoedig om dit te doen, juis omdat ek net die beste vir hulle wil hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.